Die lesse behels raad oor hoe ‘n tiener ouers behoort te hanteer, oor die verwerking van teleurstellings, oor skool, oor geld, oor klere, oor familie … Kortom: oor alle vraagstukke en probleme waarmee tieners worstel
Willie Burger
Die meeste ouers weet maar al te goed dat tieners dikwels die raad van hul ouers en onderwysers in die wind slaan. Hulle luister eerder vir ander tieners. Boonop is dit dikwels moeilik om gesprekke met tieners aan die gang te kry – veral oor sake soos seks of dwelms. En dan stop sommige ouers net vir die kinders ‘n boekie of ‘n pamflet in die hand.
Die probleem is net dat hierdie boekies dikwels ver van die kinders se leefwêreld verwyderd is – geskryf deur ‘n dokter of ‘n dominee en dan is dit soms te klinies of te prekerig om tot tieners te spreek.
Dit is hoekom Hanna Hoekom ‘n boek vir haar babasussie skryf terwyl sy nog self ‘n tiener is met die oog daarop dat haar sussie die boek met raad oor alles kan lees wanneer sý eendag 13 word.
Marita van der Vyver se Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom was ‘n wegholsukses, eers as boek en toe ook nog as rolprent. Nou het die immer-gewilde Van der Vyver ‘n opvolg daarop geskryf: Swemlesse vir ‘n meermin. Wat ‘n mens van die eerste bladsy af in Hanna Hoekom geboei het, is die verteller – haar taalgebruik sowel as die manier waarop sy vertel, haar insigte vanuit haar perspektief wat so ráák verwoord word dat dit ‘n besonder oortuigende blik moontlik maak. Dieselfde verteller is weer aan die woord en is steeds so meesleurend.
Lesers sal onthou dat Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom geëindig het met die saamgestelde gesin wat deur reën in die berg vasgekeer is en dan word die ma se nuwe baba dáár gebore.
In hierdie opvolg skryf die tiener, Hanna Hoekom, nie meer aan haar eie dagboek nie. Sy skryf al die lewenslesse wat sy geleer het vir daardie einste babasussie van haar neer. Sy noem dit "swemlesse", want sy weet in hierdie lewe sal haar sussie moet sink of swem.
Die lesse behels raad oor hoe ‘n tiener ouers behoort te hanteer, oor die verwerking van teleurstellings, oor skool, oor geld, oor klere, oor familie … Kortom: oor alle vraagstukke en probleme waarmee tieners worstel. In die proses vertel Hanna ook weer van haar eie ervarings en daarom bly die boek ‘n mens boei. Die inhoudsopgawe voorin en die alfabetiese lys van "swemlesse" agterin, maak die boek egter ook ‘n nuttige naslaanwerk as ‘n mens dalk later weer raad soek.
Die styl bly deurgaans die ligte, vermaaklike aanslag van Hanna, wat Van der Vyver so uitstekend doen en wat veroorsaak dat ´n mens die boek nie kan neersit nie. Die lesse is nooit prekerig nie, daarvoor bly dit te lig. Hier is ‘n voorbeeld van Hanna se raad oor seks, dwelms en drank:
Laat ek jou liewer bietjie raad probeer gee oor dwelms en drank en al daardie dinge wat verbode is vir tieners. En natuurlik juis daarom so onweerstaanbaar, nè.
Ons kan seks seker ook onder hierdie "verbode items" tel.
Luister, Sus, ek gaan nie vir jou sê jy mag nie seks hê voor jy eendag getroud is nie, want ek is nie ‘n dominee nie. Ek gaan nie vir jou sê jy moet nooit-ooit rook of drink oor dit sleg is vir jou gesondheid nie, want ek is nie ‘n dokter nie. Ek gaan nie vir jou sê jy moenie ráák aan dagga of enige ander onwettige dwelmmiddel nie, want ek is nie ‘n polisieman nie.
En jy is nie onnosel nie.
Jy wéét wat onwettig is en wat verbode is. En teen dertien sal jy seker ook al weet hoe aanloklik enigiets verbode of gevaarlik of onwettig kan word. Veral as jy die indruk kry al jou maats doen dit, as jy nie "uit" wil voel nie, as jy bang is hulle sal dan nie meer jou maats wil wees nie.
So al wat ek gaan sê is, wat jy ook al met jou lyf doen, doen dit omdat jy doodseker is jy wíl dit doen. Nie omdat jou maats, of die ou op wie jy verlief is, of een of ander rolprentster in Hollywood jou laat voel jy behoort dit te doen nie. Ons praat nou van seks, drugs, drank, sigarette, al daai dinge.
Selfs rock ‘n roll. Goed, dis seker nie sleg vir jou gesondheid om te maak of jy hou van musiek waarvan almal om jou hou nie. Maar dis beter vir jou selfbeeld as jy die guts het om te sê: "Nee, jammer, dis nie my smaak nie."
As Jan van Elfen maar soos Van der Vyver kon skryf!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.