Pieter-Dirk Uys is seker een van die bekendste dramaturge in Suid-Afrika. En diegene wat nie weet wie hy is nie, weet ten minste van tannie Evita Bezuidenhout
Willie Burger
Pieter-Dirk Uys het veral in die 1980’s groot bekendheid verwerf met sy politieke satires soos Adapt or dye, Farce about Uys, Total Onslaught en Skating on thin Uys. In hierdie eenmanvertonings het Uys met talle van die destydse politici, met die politieke beleid van die apartheidsregering en sommer in die algemeen met Suid-Afrikaners se gewoontes gespot.
Hy kon veral die destydse staatspresident PW Botha baie akkuraat namaak en het op talle maniere (miskien ’n bietjie soos wat Trever Noah dit deesdae regkry) die politieke en sosiale omstandighede van die dag deur middel van humor heeltemal anders laat lyk.
Die karakter Evita Bezuidenhout, ‘n voormalige ambasssadeur van Suid-Afrika in Bapetikosweti (‘n denkbeeldige tuisland), was veral in die 1980’s en 1990’s baie gewild. Aanvanklik het hierdie karakter gedien om met die naïewe en kortsigtige opvattings van veral middelklas-ondersteuners van die Nasionale Party en met die destydse regering te spot. Maar ná 1994 het Evita Bezuidenhout steeds gewild gebly en gedien om ook kritiek teen die nuwe regering uit te spreek. (Hy was veral baie krities oor die regering se hantering van die vigs-krisis.)
Deesdae tree Uys steeds gereeld by "Evita se Perron" op, die stasiegebou op Darling in die Wes-Kaap wat hy in ‘n teater omskep het. Evita het ook al twee kookboeke die lig laat sien: Evita se Kossie Sikelela (2010) en Evita se Bossie Sikelela (2012)
Weens al die eenmanvertonings vergeet sommige mense dat Pieter-Dirk Uys ook ‘n belangrike dramaturg is en gelukkig het Human & Rousseau nou vyf van Uys se Afrikaanse dramas in een band uitgegee. Stukke teater bevat die volgende dramas: Selle ou storie, Karnaval, Die Van Aardes van Grootoor, Panorama en Die vleiroos.
Politieke satires is meestal baie tydgebonde – min jonger mense sal byvoorbeeld vandag nog Uys se voorstellings van PW Botha snaaks vind omdat die politieke konteks van die 1980’s heeltemal onbekend vir hulle is. En selfs as ouer mense nou daarna kyk, is dit dikwels nie meer so snaaks nie.
Nietemin is hierdie ‘n belangrike publikasie. Selle ou storie is reeds in 1973 geskryf en handel oor verhoudingsprobleme tussen vier mense – twee mans en twee vroue. Dit is waarskynlik een van die eerste Afrikaanse toneelstukke waarin biseksualiteit ter sprake kom en die ingewikkelde verhouding tussen veral Ester en Rufus is tegelyk snaaks en ontroerend, veral aan die einde. Die verhouding tussen Rufus en Gregory word aanvanklik baie subtiel aangedui. Al is daar ook baie verwysings na die politieke onrus van die 1970’s en onluste in die townships, staan die tema van oudword en eensaamheid sentraal in die drama.
Wat Stukke teater egter so ‘n waardevolle boek maak, is dat dit ook verdere inligting oor die drama se aanvanklike opvoering in 1974 gee. Die stuk is aanvanklik goed ontvang en het vol gehore getrek, maar is later deur die publikasieraad verbied. Uys beskryf die hele verloop met lang aanhalings uit koerantberigte en korrespondensie. Op hierdie manier vervul Stukke teater ‘n verdere funksie, naamlik om die geskiedenis van (protes-)teater in Suid-Afrika te dokumenteer.
Ook Karnaval, ‘n toneelstuk wat op Oujaarsaand in Langstraat in Kaapstad afspeel en wat vir die eerste keer in 1975 opgevoer is, is ná tien opvoerings verbied weens die kritiek op die destydse politieke bestel.
Die Van Aardes van Grootoor (1979) het ook baie opspraak verwek en is aanvanklik verbied, maar later tóg toegelaat. Dit was eintlik ‘n parodie op die sepies (middagvervolgverhale) oor die destydse Sprinkbokradio, maar het ook diep in die psige van Afrikaners gekrap.
Terwyl Panorama (1987) op Robbeneiland afspeel en dus met die politiek van destyds gemoeid is, is Die vleiroos vir die eerste keer in 1992 opgevoer en is op omgewingsbewustheid, eerder as op slegs die politieke veranderings in die land, gerig
Stukke teater is ‘n belangrike tydsdokument wat eintlik ‘n bestekopname van ‘n hele era is.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.