Willie Burger kyk na Johan Fourie se dubuutroman, Struisvoël
Willie Burger
Marja, een van die drie sentrale karakters in Johan Fourie se debuutroman, Struisvoël, skryf alles wat sy bedink obsessief neer. (Haar gedrag is op meer maniere obsessief-kompulsief.) In ‘n stadium skryf sy: “Die lewe lees soos ‘n lastige boek wat mens net wil klaarkry.” Ek het Struisvoël in sekere opsigte ervaar as so ‘n “lastige boek wat mens net wil klaarkry”. En ek wonder hoekom? Want al die elemente wat ‘n mens van ‘n goeie roman verwag, is teenwoordig.
Die verhaalgegewe is interessant. Dit is die storie van drie kinders wat saam grooten oud word. Klein-Sarel, Marja en Victoria is ‘n klein “kinderbende” op die plaas Vrede in die Klein-Karoo. Die plaas behoort aanvanklik aan Ou-Sarel Blanckenberg (die van is oordadig simbolies), ‘n ongenaakbare boer so reg in die tradisie van die Afrikaanse plaasroman – ‘n patriarg wat sy vrou en seun, sy werkers en diere met ‘n harde hand regeer en nie skroom om buurman of bywoner te vernietig nie. Ou-Sarel se ongenaakbaarheid lei tot sy buurman, Fourie, se dood en Ou-Sarel neem Fourie se dogter, Marja, as dogter in sodat sy uiteindelik Klein-Sarel se vrou kan word (eerder as Victoria, wat ‘n Xhosa is).
Marja se ma, Ma-Ria kom trek ook op die plaas in en Ralie, Ou-Sarel se vrou, moet maar haar man se flankeerdery met Ma- Ria stil-stil verdra. Ou-Sarel mishandel vir Klein-Sarel op skrikwekkende maniere in ‘n poging om van hom ‘n waardige Blanckenbergman te maak. Willie Burger kyk hierdie week na Johan Fourie se debuutroman, Struisvoël Uiteindelik trou Klein-Sarel en Marja, maar deur al die jare het hy eintlik net ‘n verhouding met Victoria, wat in ‘n huisie anderkant die bult woon. Victoria is sy “wyfie” en Marja sy “vrou”. Ná Ou-Sarel se dood, moet Klein-Sarel sy skoene vol staan.
Die volstruisboerdery word winsgewend en hulle word skatryk, eintlik danksy Marja se sakevernuf, maar hulle verloor weer hul rykdom waneer die bedryf in duie stort. Klein- Sarel eindig as ‘n stoorman op die dorp. Hy kyk in dronkverdriet met selfverwyt terug op sy lewe en sê uiteindelik vir die dokter van sy rondslapery: “Voor die tyd voel ek sleg. Agterna voel ek sleg. En dit vir ‘n tril-ril van tien tellings.” ‘n Rukkie later vervolg hy: “Als is skaars oor, dan begin die gesoek na die tien tellings weer voor.” Hy besef dat sy gejaag na seks eintlik ‘n soektog na liefde was – maar die liefde wat hy by Victoria wou hê, was verbode.
Die kinders se verhaal is ‘n verhaal van verskeurdheid as gevolg van rasvooroordeel, klasvooroordeel en geslagsvooroordeel. Ten spyte van die bekende plaasromangegewe hou die verhaal ‘n paar verrassings in, veral na die einde toe. Ek het hierbo gesê dat Struisvoël al die elemente van ‘n goeie roman bevat, soos interessante karakters en ‘n verhaal vol moontlikhede. Voorts word knap vertelstrategieë aangewend, met afwisseling tussen ‘n derdepersoonsvertelling en hoofstukke waarin Victoria, as ou vrou aan haar bed gekluister, se gedagtes in eerstepersoonsvorm weergegee word.
Hierdie hoofstukke herinner aan Karel Schoeman se Hierdie lewe en aan Marlene van Niekerk se Agaat. Maar ek huiwer om te vergelyk, want dit mag lyk asof ek hierdie roman op dieselfde peil ag. Ook taal word vernuftig uitgebuit en die woordspel waarvan Marja so baie hou, word deur die hele roman volgehou. Dubbele betekenisse, nuutskeppings en rymende woorde herinner nogal aan Etienne van Heerden se werk. Veral ‘n woord soos “wê-paadjie”, is iets wat ‘n mens met ‘n Van Heerden-roman assosieer. (Die “wê-paadjie” is die voetpad wat Klein-Sarel elke dag oor die bult na Victoria se huis stap terwyl Marja, haar ma en al die ander mense op die plaas weet dat hy agter sy lus aan loop, terwyl hy nie ‘n kind by sy vrou wil verwek nie.)
Die taalspelery is egter nie altyd so oorspronklik nie en soms net té erg. Soos ‘n mens van ‘n goeie roman verwag, word gewigtige temas ondersoek: ingewikkelde verhoudings tussen mans en vroue, ouer en jonger geslagte, tussen wit en swart. Die opkoms van Afrikanernasionalisme en groeiende onverdraagsaamheid in die gemeenskap word aangeraak teen die agtergrond van die groei en val van die volstruisveerbedryf. Interessante vrae word oor godsdiens gevra, oor moraliteit, oor wat die lewe die moeite werd maak; oor liefde; oor die dood. Die roman vra wat dit is om in ‘n onvriendelike wêreld mens te wees.
Geografiese, ekonomiese, sosiale, biologiese en godsdienstige eise aan gewone mense is té hoog en almal begaan foute en ervaar vervreemding terwyl hulle eintlik na liefde verlang. Kortom: Hier is al die bestanddele vir ‘n baie indrukwekkende roman. Dit is egter asof die bestanddele net té bedag, te opsetlik benut is, sodat die roman ‘n gemáákte indruk skep wat boonop nie regtig ‘n vars blik op enige van die groot vrae bied nie. Gevolglik is dit ‘n roman wat sukkel om klaar te kry; wat ek slegs met moeite kon deurlees.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.