Michelle Houllebecq – omstrede moeilikheidsoeker of skerpsinnige ondersoeker?
Willie Burger
Frankryk word deur ‘n Moslem-president regeer! Die omstrede Franse skrywer, Michel Houllebecq, se jongste roman, Soumission, gaan eers in September in Engels vrygestel word, maar die roman het reeds baie opspraak in Frankryk gewek.
Soumission (“Onderwerping”) speel in 2022 af, die jaar waarin ‘n Moslem-party in Frankryk aan bewind kom. Vroue word dadelik verbied om te werk, skool- en universiteitsonderrig word hervorm tot Islamgegronde onderrig en slegs Moslems word toegelaat om aan universiteite klas te gee. Poligamie word dadelik ingestel. Die hoofkarakter, ‘n letterkundeprofessor, verset hom aanvanklik hierteen, maar teen die einde begin hy dink dat dit dalk voordelig is om hom aan die stelsel te onderwerp.
Soos wat ‘n mens kan verwag van ‘n roman met hierdie soort strekking, het Soumission dadelik die lys van topverkopers in Frankryk gehaal. Die ironie is dat die roman juis op 7 Januarie vanjaar bekendgestel is, dieselfde dag waarop die kantoor van die tydskrif, Charlie Hebdo, deur Islam-ekstremiste aangeval is. Boonop het die spesifieke uitgawe van Charlie Hebdo wat op daardie dag verskyn het, ‘n voorbladberig oor Houllebecq gehad onder die opskrif: “Die voorspellings van siener Houllebecq: In 2015 verloor ek my tande. In 2022 vier ek Ramadan.”
Houllebecq het voorheen al weens sy omstrede uitsprake oor Islam in die hof beland. In 2002 is hy van haatspraak aangekla nadat hy Islam as “die domste godsdiens” beskryf het. Hy het egter daarmee weggekom omdat hy aangevoer het dat hy nie neerhalend teenoor Moslems was nie maar Islam as “’n dom godsdiens” beskryf het; dit beteken dat hy dus nie mense benadeel het nie, maar bloot sy vryheid van spraak beoefen het om ‘n bepaalde godsdiens te kritiseer. Ná die hof in sy guns beslis het, het Houllebecq nietemin vir ‘n tyd lank in Ierland gaan woon.
Vir my bly Houllebecq se tweede roman, Atomised (1998), sy indrukwekkendste werk. Hoewel Atomised in Frankryk met die Prix Novembre bekroon is en die Engelse vertaling daarvan die Internasionale IMPAC Dublin-letterkundeprys ontvang het, is dié roman nie oral positief ontvang nie. Veral Amerikaanse kritici het negatief daarop gereageer – vanweë die nihilistiese siening en sekstonele in die roman is dit selfs as “weersinwekkend” beskryf. Ek dink egter dat hierdie roman ‘n besonder skerp analise van die mensdom aan die einde van die 20ste eeu gee – veral ten opsigte van die logiese gevolge van die vryemark-ekonomie op alle terreine van menswees. Die roman kyk ook krities na die gevolge van die invloedryke veranderings van die 1960’s, die hippiekultuur en die New Age-beweging.
Houllebecq se Platform (2001) ondersoek die vryemark-ekonomie verder deur te fokus op die ontwikkeling van toerisme, die opkoms van toeriste-oorde en onstaan van “pakkette” vir byvoorbeeld avontuurvakansies, gesinsvakansies en dan uiteindelik ook vir seksvakansies. Die roman eindig met ‘n bomontploffing in ‘n Indonesiese nagklub – en die roman het slegs ‘n paar jaar voor die 2005 bomontploffings in Bali verskyn. (Vandaar ook die verwysing na Houllebecq as ‘n “siener”.)
In die Prix Goncourt-bekroonde The Map and the Territory (2010) word die eietydse kunsbedryf taamlik satiries beskryf, maar die roman bied ook ‘n humoristiese dog ontstellende blik op die toekoms. Frankryk se hoofinkomste word toerisme (hoofsaaklik Chinese toeriste) en word daarom al meer soos een groot temapark, waarin “tradisionele Franse kos”, “’n plattelandse Franse lewenstyl” en “tradisionele Franse geboue” bewaar moet word ten einde steeds toerisme-inkomste te verseker. Met hierdie blik word Frankryk gereduseer tot ‘n soort museumstatus.
Onlangs was daar sprake daarvan dat een van Houllebecq se dramas nie meer tydens die Dubrovnik-somerfees opgevoer sou word nie, omdat die polisie dit as ‘n risiko vir ‘n aanval deur Moslem-ekstremiste beskou het. Uiteindelik is dit egter wel opgevoer sonder enige geweld, maar die omstredenheid en weerstand wat Houllebecq se werk oral volg, getuig tóg daarvan dat kunstenaars se invloed deur sommige mense gevrees word.
Baie mense hou nie van Houllebecq se werk nie, sommige beskryf hom as uitlokkend en moeilikheidsoekerig, dat hy slegs op die sensasionele ingestel is, maar daar is beslis min skrywers in ons tyd wat só ‘n priemende blik op die Westerse samelewing en die vrye mark-ekonomie gee.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.