Willie Burger kyk na die boeke van Sophia Kapp en Johan Bakkes
Willie Burger
Daar is ‘n verskil tussen ‘n bimbo, ‘n bitch en ‘n diva. ‘n Bimbo moet die hele tyd deur ander gesê/gewys word hoeveel sy werd is. ‘n Bitch moet die hele tyd vir ander sê/wys hoeveel sy werd is. ‘n Diva weet wat sy werd is, die mense om haar ook.” Sophia Kapp het reeds ‘n groot aanhang verwerf met haar lekker dik liefdesromans waarin die heldin ten spyte van terugslae uiteindelik liefde en aanvaarding in ‘n komplekse wêreld vind. Haar heldinne leef nooit in suiwer fantasiewêrelde nie, want telkens word iets van die kenbare politieke en sosiale omstandighede van ons land, van die beperkings wat ons kulturele omstandighede op mense plaas, ondersoek.
Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva is nog sterker as haar vorige romans in ons land en ons tyd se spesifieke omstandighede geplaas. Daarmee fnuik Kapp dalk sommige van haar getroue lesers se verwagtings, maar sy skuif terselfdertyd effens aan die grense van romantiese fiksie in Afrikaans. Daarom is Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva ‘n uitsonderlike boek. Die vertelling strek oor 12 maande. Die roman begin met Nuwejaarsdag en daarna volg ‘n hoofstuk vir elke maand, tot Desember. In die 13 hoofstukke word die verhaal van Simoné vertel. Sy is 44 wanneer haar tweede huwelik ook nie uitwerk nie. Die vertelling volg haar hartseer verhaal: van die eerste huwelik wat misluk het (waarna sy nog haar selfbeeld kon red deur te dink dat dit net ‘n fout was, dat sy eintlik ‘n goeie en waardevolle mens is wat bloot in ‘n slegte situasie beland het) deur die mislukking van haar tweede huwelik.
Die tweede huwelik begin ook met opwinding en verliefdheid en ‘n geloof dat dinge hierdie keer sal uitwerk. Simoné trou immers met ‘n man wat ook geskei is en hulle besef mos nou al twee wat die moontlike probleme was en kan dit uitsorteer. Of so meen hulle. Maar ‘n tweede huwelik bring die probleem van stiefouers na vore wat nog ingewikkelder situasies laat ontstaan. Wanneer hierdie tweede huwelik misluk, is dit vir Simoné onmoontlik om te glo dat sy eintlik goed is en net ‘n paar foute gemaak het. Daarom is dit ook vir haar onmoontlik om weer in die liefde te kan glo, of selfs in die moontlikheid dat sy werd is om liefgehê te word.
Aan die einde van elke hoofstuk is daar ‘n paar bladsye wat die “oorlewingsgids” van die titel uitmaak. Telkens word ‘n klompie belangrike stellings gemaak – die wyshede wat Simoné uit haar ervarings kon opdoen en wat as ‘n oorlewingsgids vir talle vroue in soortgelyke situasies kan dien. Elkeen wat ongelukkige huwelike beleef, te min geld het, te veel eise aan hulle as ma’s of as eggenote ervaar, sal baie troos in hierdie roman vind. Dit herinner jou daaraan dat jy nie alleen in jou situasie is nie; ander het ook al daarin beland en die goeie nuus is dat die moontlikheid ook bestaan om daaruit weg te kom. Die Divagids gee ook praktiese raad. Dis nie nodig om ‘n bimbo of ‘n bitch te wees nie – ‘n mens kan die diva in jou laat uitkom.
Johan Bakkes het reeds met sy eerste boek, Moer toe die vreemde in, met sy kenmerkende styl en aweregse reisverslae, talle aanhangers gewerf. Sy ander boeke oor reise na vreemde plekke het hierop voortgebou. Bakkes wil enigiets behalwe gewoon en burgerlik wees. Hy dra nie die klere wat by sy werk as dosent in ekonomiese wetenskappe pas nie en sy baard en haarstyl druk ook ‘n vinger in die oog van die samelewingsnorme (en hy herinner jou die hele tyd hieraan!) Soos sy broer, Christiaan Bakkes, wat die Stoffel Matthysen-boeke geskryf het, is Johan Bakkes ‘n avonturier wat nie kan stilsit of by ‘n vakansieoord met sy gesin kan braai nie.
Hy toer telkens weer die vreemde in en vertel – op baie selfbewuste manier – die verhaal van sy eksotiese reise. Openbaring is eintlik die verhaal van twee reise – een na die koudste plek op aarde in Siberië en een na die warmste plek op aarde in Ethiopië. As ‘n mens verby die “ekkerigheid” van die reisbeskrywings kan lees (iets wat blykbaar die meeste lesers nie pla nie?) is die reisverslae boeiend omdat die klem nie op die toeristiese val nie, maar ‘n verrassende blik op onbekende plekke bied. Sedert ek Openbaring gelees het, word ek elke keer as ek ‘n Land Rover sien aan die boek herinner. Tydens die reis in Ethiopië (Bakkes reis in ‘n Toyota) sien hy ‘n Land Rover van voor af kom en merk op dat hy altyd wanneer hy ‘n Land Rover in die boendoe sien, dink: “Siestog, hoe gaan jy by die huis kom?”
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.