Willie Burger kyk na sensuur en Afrikaanse literatuur
Willie Burger
Die afgelope jaar het twee bekende figure in die Afrikaanse letterkunde op relatief hoë ouderdom gesterf. Vroeg vanjaar is die internasionaal bekende en bekroonde skrywer André P Brink oorlede en in die winter is die digter TT Cloete dood.
Gedurende die 1950’s het Brink, as ‘n voorgraadse student op Potchefstroom, by die jong Cloete klas gekry. Brink het respek vir sy dosent gehad en in ‘n brief aan Ingrid Jonker skryf Brink in 1963 dat hy vir Cloete besoek het en dat hy beïndruk is deur Cloete se vermoë om poësie te lees. In daardie stadium het hy vir Cloete as een van die fynste Afrikaanse kritici, naas Rob Anthonissen, beskryf.
Brink se opinie oor Cloete het egter verander toe Cloete deel van die sensuurstelsel geword het wat in 1963 onder leiding van prof Gerhard Dekker gevestig is. Boonop het Cloete aan die begin van die 1970’s ‘n studiestuk vir die Broederbond opgestel waarin hy die "betrokke literatuur" van spesifiek André Brink en Breyten Breytenbach skerp aangeval het. Volgens sy mening het hul werk nie aan die hoë ideale van wat kuns behoort te wees, voldoen nie omdat dit te polities was. Kort hierna het Cloete ‘n rol gespeel in die verbod op Brink se Kennis van die aand en Breytenbach se bundel Skryt.
Cloete en Brink het dus ten opsigte van sensuur reëlreg teenoor mekaar gestaan. Die stryd oor sensuur het teen die tyd wat Kennis in 1974 verbied is, al ‘n lang pad gekom. Reeds in die jare veertig het Afrikaanse kerke gevra dat die regering teen pornografie moet optree en kort nadat die Nasionale Party aan bewind gekom het, is ‘n kommissie ingestel om "ongewenste publikasies" te ondersoek. Met "ongewenste publikasies" is bedoel enigiets wat onsedelik, aanstootlik of skadelik vir die bevolking van Suid-Afrika sou wees. In die praktyk het dit enige kritiek op ‘n Christelike lewensuitkyk en die bevraagtekening van apartheid ingesluit.
Die regeringskommissie onder leiding van Geoff Cronjé, het aanbeveel dat ‘n publikasiebeheerraad ingestel word en dat alle uitgewers, drukkers en verspreiders van boeke lisensies moet hê wat teruggetrek kan word indien materiaal gepubliseer word wat nie eers vooraf deur dié beheerraad goedgekeur is nie.
Die Cronjé-kommissie het onder meer aangevoer dat die wet op gemengde huwelike en die ontugwet ook op publikasies van toepassing moet wees en het geredeneer dat die uitbeelding van rasvermenging skadelik is en daarom verbied behoort te word. Die kommissie het ook bevind dat die Afrikaanse letterkunde besig is om agteruit te gaan omdat daar te veel swak populêre boeke gedurende die 1930’s en 1940’s verskyn het. Volgens Cronjé het hierdie boeke slegs Amerikaanse misdaadfiksie nageboots en dus nie die Afrikaanse kultuur opgebou nie.
Die skrikwekkende magte wat na aanleiding van die kommissie se aanbevelings aan die publikasieraad gegee sou word, is hewig deur die opposisiepartye en talle ander organisasies en individue teëgestaan, aangesien dit vryheid van spraak heeltemal aan bande sou lê en eintlik enige kritiek of oop gesprek in die land sou verhoed. Ouer Afrikaanse digters soos NP van Wyk Louw en DJ Opperman was saam met die jonger "Sestigers", soos André Brink, Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en Jan Rabie, absoluut teen enige vorm van sensuur gekant en het die regering se pogings om al hoe meer beheer oor publikasies uit te oefen, ten sterkste teengestaan.
Teen 1960 was die gesprek oor só ‘n sensuurbestel nog aan die gang, maar ná die Sharpeville- en Langa-skietvoorvalle (wat aanleiding was vir Ingrid Jonker se beroemde gedig "Die kind is nie dood nie") het die Verwoerd-regering ‘n noodtoestand aangekondig en drakoniese sensuur ingestel – nie alleen vir boeke en rolprente nie, maar ook vir die pers. Ten spyte van protes is die Wet op Publikasies en Vermaak in 1963 gepromulgeer en die sensuurraad het op die been gekom.
In hierdie tyd het Cloete en Brink hulle in teenoorgestelde kampe bevind – aan die een kant het sommige letterkundiges (soos Cloete) met die regering saamgewerk en sensuur ondersteun, terwyl ander (soos Brink) geredeneer het dat publikasiebeheer die ontwikkeling van die gemeenskap ondermyn omdat dit vrye denke en uitdrukking van idees onderdruk.
Cloete se beskouing is onderlê deur ‘n opvatting van kunswerke as onafhanklike objekte wat om hul estetiese vorm en struktuur bewonder moet word. Daarom moet die kunswerk nie polities betrokke wees of ´n deur politieke lens beoordeel word nie. Brink het daarop gewys dat hierdie beskouing nie onafhanklik van politiek is nie, maar self op ‘n politieke uitgangspunt berus. Estetiese kriteria is immers nie ewig, vas en waar nie, maar kom tot stand in ‘n gemeenskap in spesifieke omstandighede weens sekere redes en kan daarom ook maklik deur maghebbers gemanipuleer word as instrument om hul eie waardes te bevestig.
Met die voorreg van terugskoue is dit maklik om te sien hoedat die "estetiese posisie" van Cloete destyds in die politieke diens van die nasionale party was, in pogings om ‘n baie spesifieke opvatting van wat die Afrikanervolk behoort te wees (volgens sommige!) te dien.
Dit bly daarom belangrik om voortdurend in ons pasoppens te bly om nie só in ons estetiese waardering op te gaan dat ons van die politieke realiteit vervreem word nie.
• ‘n Besonder interessante boek om in hierdie verband te lees, is Peter McDonald se The Literature Police. 2009. Oxford University Press
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.