Een van die groot wonders van fiksie is dat ‘n mens woorde op papier kan lees, maar dan so in ‘n ander wêreld in meegevoer raak, dat jy jou naels van spanning byt oor wat volgende gaan gebeur, dat jy trane kan stort oor ‘n karakter se verlies, bly kan voel omdat ‘n karakter geluk vind.
Willie Burger
Die emosies wat ons ervaar wanneer ons fiksie lees, is presies dieselfde as dié wat ons ervaar wanneer ons bang of opgewonde of bly oor dinge is wat met ons in ons gewone leefwêreld gebeur. Die trane wat ek ongemerk met my mou in die fliek wegvee, is presies dieselfde soort trane wat ek stort oor ‘n hartseer gebeurtenis in my regte lewe.
Die manier waarop ons die fiksiewêreld beleef, is byna soos wat ‘n reisiger na ‘n ander land gaan. Wanneer ‘n mens na ‘n ander land reis, leer jy die vreemde land ken en jy leer ander mense ken. Jy bekom baie nuwe inligting en het talle ervarings wat dalk nie in jou eie land moontlik is nie. ‘n Mens is ook geneig om vergelykings met jou eie land te tref – wat doen die mense hier anders? Wat is alles dieselfde?
Wanneer ‘n mens fiksie lees, gebeur iets soortgelyks. Jy steek natuurlik nie self fisiek die grens na ‘n fiktiewe wêreld oor nie, maar dit is asof jy ‘n weergawe van jouself in daardie kammaland in projekteer. Jy stuur as ‘t ware ‘n "alternatiewe jy" in die fiksiewêreld in en daar neem hierdie "alternatiewe jy" deel aan alles wat gebeur – jy leer die karakters van kammaland ken, jy kan al die fiktiewe gebeurtenisse bywoon en ervaar.
Hierdie "alternatiewe jy" is ‘n fiktiewe weergawe van jouself. Natuurlik beskik hierdie fiktiewe uitbreiding van jouself oor al jou emosies en kennis en daarom reageer die "alternatiewe jy" net soos wat jy op soortgelyke situasies in die werklike lewe sou reageer.
Gevolglik sal die gebeurtenisse wat jou gewoonlik sou hartseer maak of sou ontstel of verbly, ook hierdie "fiktiewe jy" op dieselfde manier raak. Maar omdat jou fiktiewe jy en die jy wat in die regte wêreld agterbly dieselfde liggaam deel, ervaar die "regte jy" ook regtig die emosies, die trane, hartseer, spanning of blydskap. Dit is immers nie asof die "regte jy" speel jy is hartseer of bly nie.
Dit wil dus lyk asof ons in ‘n sekere sin op dieselfde manier deur fiktiewe gebeurtenisse in ‘n fiksiewêreld as deur gebeurtenisse in ons "regte wêreld" geraak word. Maar dit is tóg ook nie heeltemal dieselfde nie. Al word ek bang en al gil ek dalk hard van skrik as die reeksmoordenaar skielik om die hoek verskyn, hardloop ek nie uit die filmteater om die polisie te gaan roep nie!
Die feit dat ek nie die polisie bel nie, wys dat ek onthou dat dit "net ‘n storie" is, dat ek die hele tyd bewus bly van die grens tussen my "regte self" en die fiksiewêreld. Anders as met ‘n fisieke reis na ‘n vreemde land, steek jy die grens na die fiksiewêreld slegs simbolies oor. Jy bly bewus van die grens. Anders sou jy daardie polisieman gebel het om die reeksmoordenaar te gaan keer! Of jy sou op die verhoog spring om die karakter teen gevaar te waarsku. Maar jy weet dat jy net die opvoering gaan ontwrig as jy op die verhoog spring, en nie regtig iets aan daardie fiksiewêreld gaan verander nie.
Die rede hiervoor is dat ‘n mens nie die fiksiewêreld en fiksiekarakters oor die grens na jou wêreld bring nie, maar dat jy die grens na daardie kant toe oorsteek. Dit is volgens die filosoof Kendall Walton asof ons onsself verleng in die fiksiewêreld in, maar ons hou nie op om aan hierdie kant van die grens te bestaan nie. Ons betree die kammawêreld van fiksie soos wat ons ook ander moontlikhede in dagdrome en fantasieë verbeel – hoe ek my geld sal spandeer as ek die Lotto wen. Maar dit veroorsaak meestal nie dat ek daar en dan my kredietkaart uithaal en begin bestel nie.
Hoewel sommige mense glo dat die ervarings wat ‘n mens anderkant die grens in ‘n fiksiewêreld beleef, jou uiteindelik kan verander op presies dieselfde manier as wat werklike ervarings ‘n mens kan verander, is dit nie noodwendig waar nie. Dikwels lees mense fiksie oor die droewige lewens van armes en word daardeur ontroer en ontstel, maar ry daarna soos altyd onbewoë verby die armes by die verkeerslig.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.