Willie Burger kyk na Koos Stadler se boek Recce
Willie Burger
As skoolkind in die 1970’s het ons weekliks ‘n “sangklas” gehad. Die een liedjie waarop ons herhaaldelik aangedring het om te sing, was The Ballad of the Green Beret. Dit het uit die rolprent The Green Berets (1968) gekom. Dat dié rolprent, met John Wayne in die hoofrol, onverdunde anti-kommunistiese propaganda was, het ons nie besef nie. Die hoendervleis het op ons voorarms uitgeslaan terwyl ons uit volle bors sing:
Fighting soldiers from the sky Fearless men who jump and die Men who mean just what they say The brave men of the Green Beret Silver wings upon their chest These are men, America’s best One hundred men will test today But only three win the Green Beret.
Toe ek Koos Stadler se boek, Recce, sien, het ek dadelik weer aan die hoendervleis op ons arms gedink. Die recces – lede van die Spesiale Magte, ‘n elite-eenheid van die Suid-Afrikaanse Weermag – is immers in die Suid-Afrika van die 1970’s en ’80’s met die soort respek behandel wat aan die Amerikaanse Green Berets bewys is. (Stadler skryf dat 300 van hulle die Spesmagte-keuring aangepak het waarvan net 11 uiteindelik oorgebly het.)
In byna elke land se weermag is daar sulke elite-eenhede waarin gekeurde soldate aan spesialisopleiding onderwerp word en wat in onkonvensionele oorlogvoering aangewend word. Hulle word gewoonlik met bewondering as die heel taaiste en sterkste en beste van alle soldate beskou. Recce is Stadler se outobiografiese vertelling oor sy ervarings as ‘n recce. Hy was nie bloot ‘n lid van die Spesmagte nie, maar was een van die uitgesoekte lede van die Spesmagte wat kleinspan-operasies uitgevoer het. Hierdie operasies is die stof waaroor flieks in Hollywood gemaak word. Twee-twee is die verkenners diep in Angola of ander buurlande ingestuur om die presiese ligging van vyandelike basisse vas te stel, om inligting in te win en om ongesiens terug te keer. Soms het hulle sulke operasies onderneem om strategiese punte diep in vyandelike gebied op te blaas.
Oorlog impliseer eintlik grootskaalse lewensverlies en verwoesting. Geliefdes sterf of word vermink, infrastruktuur word verwoes, mense word ontwortel, oorlewendes sukkel met trauma. Ten spyte van die skrikwekkende aard van oorlog, word oorlog ook, deur al die eeue, dikwels verheerlik. Oorlog is vir baie mense die uiterste avontuur. Dit bied aan jong mans die geleentheid om hulself in uiterste omstandighede te toets. Ongeag die ideologie, die saak waarvoor geveg word – solank ‘n soldaat sterk en dapper is, dwing dit om die een of ander rede talle se bewondering af.
Ironies bied selfs weersinwekkende uitbeeldings van oorlog, wat die nutteloosheid daarvan beklemtoon, steeds op ‘n manier hulde aan die dapper soldaat, wat ten spyte van alles oorleef. Dink maar aan Wilfred Owen se bekende gedig uit die Eerste Wêreldoorlog “Dulce et Decorum” waarin die ou Latynse spreuk Dulce et decorum est pro patria mori (dit is soet en ‘n eer om vir ‘n mens se land te sterf) as ‘n “ou-ou leuen” afgemaak word. Die ideologie waarvoor geveg word, mag dalk as leuen afgemaak word, die redes vir die oorlog as onregverdigbaar, die skadelike gevolge as onberekenbaar, maar uiteindelik is die bloedbesmeerde soldaat wat oorleef het, ‘n held wat bewonder word.
Gedurende die laat 1970’s en die 1980’s was die Grensoorlog op sy felste. Duisende dienspligtiges is jaarliks opgeroep om vir twee jaar in die SA Weermag te dien. Hoewel baie van hulle dalk maar net die minimum gedoen het wat van hulle verwag is, was daar ook baie wat “kortdiens” of by die staande mag aangesluit het. Die besluit om ‘n soldaat te word, het vir talle gespruit uit ‘n liefde vir die veld, vir die natuur en uit die opwinding van die uitdaging om met die minimum hulp in onherbergsame plekke te oorleef en lewensgevaar te trotseer.
Stadler vertel dat só ‘n avontuurlus tot sy toewyding aan die kleinspan-operasies gelei het – eerder as ideologiese of politieke oorwegings wat in die boek grootliks as vanselfsprekend aanvaar word. Stadler was van jongs af baie lief vir die natuur, het graag op lang alleenstaptogte in onherbergsame gebiede gegaan, gejag en aan marathonne deelgeneem. Hy het sy liggaam gebrei en sy veldoorlewingsvermoë voortdurend probeer verbeter. Die boek is outobiografies, maar dit onthul baie inligting oor kleinspan-operasies.
Die gevaarlike sendings word soos spanningsverhale aangebied, maar Stadler plaas ook deurgaans klem op die vrees, op die dae en ure se voorbereiding wat soms op niks uitloop nie, op die fisieke en geestelike uitdagings wat die operasies gestel het. Stadler gee min aandag aan die groter konteks van oorlog. Recce is eerder ‘n boek waarin oorlogvoering as ‘n groot avontuur vir enkele soldate beskryf word. Geen wonder daar is telkens maar weer generasies jong mans wat hulself aan oorlog as groot toets en avontuur wil blootstel nie. Dit klink soos heldedade en avonture. Ten spyte van die ou-ou leuen.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.