Willie Burger kyk na François Verster se boek, Omega,
oor en uit – Die storie van ’n opstandige troep
Willie Burger
Omtrent alle oorlogliteratuur handel oor mense wat met chaos, vernietiging en dood gekonfronteer word, en oor die bande van lojaliteit en liefde wat tussen soldate ontstaan.
Dikwels gaan dit ook oor die nagmerries en onvermoë om ná die oorlog weer by ‘n “gewone” lewe aan te pas, oor die vernietigende effek van die geweldservarings op menseverhoudings en oor oorlewendes se skuldgevoelens. François Verster se Omega, oor en uit – Die storie van ‘nopstandige troep, gaan egter nie hieroor nie. Aan oorlogliteratuur is daar geen tekort nie.
Telkens vind soldate, oudsoldate en burgerlikes dit nodig om uitdrukking aan hul skrikwekkende ervarings te gee. Net oor die huidige konflikte in Irak en Afganistan het daar reeds byna ‘n minibiblioteek vol boeke verskyn. ‘n Groot aantal daarvan is memoires van soldate wat sukkel om met hul posttraumatiese stres saam te leef. Hul vertellings getuig van moedeloosheid en woede wat die plek van jeugdige idealisme en onskuld ingeneem het.
In die VSA word oorlogsveterane dikwels aangemoedig om as deel van ‘n terapeutiese proses oor hul konflikervarings te skryf en dit verklaar dalk waarom daar so baie boeke daaroor verskyn. Sommige ontstaan selfs uit oorlogblogs en daarom het dit dikwels ‘n gevoel van “onmiddellikheid” – die leser kry die indruk dat hy of sy dáár, in die oorlogsituasie, is. So ‘n blik is egter dikwels sonder die breër visie wat die persoonlike ervaring in ‘ngroter konteks plaas. Dit is miskien ook om hierdie rede dat baie van die boeke wat tydens of kort ná ‘n oorlog verskyn, kortverhaalbundels is. (Dink maar aan die Afrikaanse “grensliteratuur” van die 1980’s – soos Alexander Strachan se ‘nWêreld sonder grense en Etienne van Heerden se My Kubaan of bundels soos Forces Favourites.)
Dit is asof die kortverhaalvorm by uitstek geskik is om onvoorspelbare, intense en kortstondige gevegservarings op te teken. Daar is al dikwels opgemerk dat dit lank neem voordat oorlogservarings in lang romans neerslag vind. Dit is asof daar dikwels eers kleiner grepe op aspekte van die oorlog gebied word, voordat meer omvattende verhale vertel word. Omega, oor en uit bestaan uit twee verhaallyne waarin sowel grepies van ontredderende ervarings as pogings tot refleksie daaroor gebied word. Aan die een kant gaan dit oor Frans, ‘nargivaris wat in 2014 by die Kaapse argief werksaam is en wat aan sy dienspligdae terugdink, aangebied as ‘n derdepersoonsvertelling wat ‘n poging tot nugter refleksie suggereer.
Aan die ander kant word hierdie verhaallyn telkens onderbreek deur dele uit sy onvoltooide manuskrip waarin hy sy dienspligervarings reeds 15 jaar gelede in die eerstepersoonsvorm (en dus nóúer betrokke by die aanvanklike indrukke) opgeteken het. Die Frans van die hede hou ‘n boks vol “persoonlike goed uit die Grensoorlog-tyd” in sy studeerkamer. Sy werk as argivaris waarin hy bokse vol materiaal moet sorteer en liasseer, skakel dus met sy pogings om sy persoonlike geskiedenis uit te sorteer en om sin van sy persoonlike verlede te maak.
Frans het geen hardebaard-oorlogservarings nie. Hy het slegs ‘n kort rukkie van sy diensplig (wat hy gaan doen het nadat hy reeds ‘n nagraadse kwalifikasie in geskiedenis verwerf het en as onderwyser opgelei is) by die Infanterieskool op Oudtshoorn deurgebring voordat hy in die operasionele gebied gaan skoolhou het sonder om die offisierskursus te voltooi. Ek kon met baie van die vertellings oor diensplig identifiseer. Ek was ook op Oudtshoorn en die ontredderde magteloosheid weens die verlies aan studentevryheid kan ek onthou.
Talle herinnerings aan die sinlose take en rondhardlopery en die gemene optrede van mense wat die kans kry om mag oor ander uit te oefen, het by die lees van hierdie boek weer by my opgekom. Ten spyte van die dikwels humoristiese herinnerings wat ek met ‘n glimlag kon deel, het Verster se vertellings my algaande begin irriteer – altwee die verhaallyne. Die vertellings wat hy lank gelede neergepen het, getuig van ‘n soort meerderwaardigheid, ‘n voortdurende venynigheid ten opsigte van offisiere, onderoffisiere en mededienspligtiges.
Waar talle van die staaltjies tekens van humor toon, is dit dikwels ‘nvenynige humor, eerder as humor wat tot insig lei. Die poging om sy huidige situasie in die staatsdiens met die destydse diensplig te vergelyk, is geforseerd. Dit bly die verhaal van iemand wat te na gekom voel, toe en nou. Die manuskrip is aanvanklik met ‘n terapeutiese doel voor oë aangepak, maar dit lyk asof dit weinig gehelp het. Frans voel steeds net so onvergenoegd as tydens diensplig, met dieselfde houding teenoor sy medemense. Die skryfproses het nie bevryding uit die grensoorlog of uit die huidige situasie vir hom gebring nie. Geen blywende of sinvolle verhoudings word aangeknoop nie – nie met die kinders vir wie hy skoolhou, mede-onderwysers of kollegas nie. Sy sinisme oor die toekoms van die Kaapse argief as bron om insig in die verlede te verwerf, geld net so vir sy manuskrip en nadenke daaroor – dit is dalk ‘n bewaringshandeling, maar insig en veral medemenslikheid, bring dit nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.