Dié roman boei die leser deurgaans, nie juis deur die psigologiese diepte van die karakters nie, maar eerder deur die vertelwyse, vertel Willie Burger
Willie Burger
Die eerste spioenasie-/spanningsriller wat ek as kind gelees het, was Frederick Forsyth se The Day of the Jackal (1971). Hierdie roman het my tot baie laat wakker gehou omdat ek nie kon ophou lees aan die noukeurige beplanning van ‘n sluipmoordaanval op die Franse president, Charles de Gaulle, nie.
Aan die een kant het Forsyth die leser geboei deur jou deel van die wêreld van die sluipmoordenaar te maak: elke fyn besonderheid van sy sistematiese beplanning en hoedat hy die hele tyd net ‘n paar treë voor die polisie bly, het my laat voel ek is "aan sy kant". Aan die ander kant is die leser ook geleidelik in die wêreld van die speurder op sy spoor ingetrek. Die gevolg was ‘n soort dubbele spanning – aan die een kant wou ek hê die sluipmoordenaar moet voor bly, maar aan die ander kant wou ek ook hê dat die speurder betyds die sluipmoordenaar moet stuit.
Terwyl ek André Kruger se tweede roman, Komplot, gelees het, het ek telkens aan daardie klassieke riller van Forsyth gedink. Kruger kry in ‘n sekere sin dieselfde reg. ‘n Komplot om Verwoerd deur ‘n sluipskutter te laat vermoor, broei in 1959 in die Sowjet-Unie uit. Natuurlik is ‘n mens daarvan bewus dat Verwoerd inderdaad ‘n jaar later, in 1960, byna in ‘n sluipmoordaanval omgekom het en dat hy uiteindelik in die parlement doodgesteek is, en daarom is hierdie komplot nogal geloofwaardig.
Die komplot wat aanvanklik so eenvoudig lyk, word uiteindelik ‘n internasionale spel van spioene en dubbelagente, tipies van fiksie oor die Koue Oorlog-era. Terwyl generaals en hoofde van spioenasieagentskappe om uiteenlopende en duistere redes besluite neem, is daar gewone agente wat soos pionne rondgeskuif word.
Hierdie spioene en polisiemanne is besig met ‘n (vuil) werk, maar eintlik is daar by almal, veral aan die begin, ook die een of ander "hoër" ideologiese beweegrede; ‘n geloof in ‘n saak.
Dáárdie motiverings gaan haal Kruger ver terug: vóór die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939) waar ‘n Suid-Afrikaner aan die kant van die Republikeine teen Fascisme gaan veg. Thomas Jacobs leer aanvanklik die politiek as ‘n vakbondlid in Johannesburg se myne ken. Later word hy ‘n anargis wat hom as Josep, by die "linkses" in die Spaanse Burgeroorlog skaar. Hy word ‘n berugte sluipmoordenaar en werk nóú met een van sy kamerade, Ortiz, ‘n Russiese agent, saam.
Byna twee dekades later – lank nadat Josep weer Thomas Jacobs geword het en in die Karoo boer, word Ortiz na Suid-Afrika gestuur om vir Verwoerd te vermoor. Jacobs word vanweë sy kennis van die plaaslike omstandighede om hulp genader.
Die roman hou die leser deurgaans geboei, nie juis deur die psigologiese diepte van die karakters nie, maar eerder deur die vertelwyse. Die ingewikkelde drade van ‘n hele aantal verhaallyne wat op uiteenlopende plekke en oor verskillende tydperke afspeel, word meesterlik afgewissel. Net as jy ingetrek raak in een verhaallyn, word jy daar gelos en lees eers verder oor ‘n oënskynlik onverwante gebeurtenis in ‘n ander land, ander karakters en ‘n ander tyd. En sodra jy verdiep raak in die nuwe verhaallyn, spring dit weer terug of na nóg ‘n ander verhaallyn. Sodoende bou die spanning op en al die verhaallyne jaag uiteindelik teen 90 myl per uur saam met die polisieman, Robert Ferreira, van Johannesburg na Colesberg, waar Verwoerd niksvermoedend op ‘n plaas is …
Komplot is in die eerste plek ‘n spanningsverhaal – met aksie en ‘n klomp fynvervlegte verrassende wendings soos dit ‘n goeie spioenasieriller betaam. Tweedens bied dit baie interessante historiese inligting oor die Spaanse burgeroorlog en die Koue Oorlog. Maar ‘n roman in 2015 kan nie slegs dít bied nie, en Kruger stel nie teleur nie.
In ‘n stadium ontmoet twee Suid-Afrikaanse oudstryders mekaar byna twee dekades nadat hulle aan verskillende kante van die Spaanse Burgeroorlog geveg het. (Die een het as toegewyde katoliek geglo hy veg teen ateïstiese kommuniste, en die ander het as anargis geglo hy veg teen die onderdrukking en uitbuiting van magtelose arbeiders deur adellikes en rykes). Hulle besef nou maar alte goed dat hul sterk opvattings, waarvoor hulle bereid was om mense dood te maak en ook self te sterf, uit ‘n latere perspektief nie so oortuigend voorkom nie. Hulle besef ook dat hulle eintlik uitgebuit en misbruik is in ‘n veel ingewikkelder wêreld as wat hulle destyds raakgesien het.
"Gloeioogfanatici" (een van Kruger se talle vars woorde) word dikwels uitgebuit, maar die vertroue dat ‘n enkele terreurdaad die wêreld kan verander, word ook ondermyn. Kruger se boek verdien baie lesers – omdat hy vermaak, maar ook omdat hy, juis in hierdie onstuimige tyd in die politiek en ekonomie, ‘n interessante blik op ideologiese motiverings bied.
SOURCES
Peter Whitfield
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.