Willie Burger kyk na Dalena Theron se debuutroman, Huisies van papier
Willie Burger
Toe ek Dalena Theron se debuutroman, Huisies van papier, toemaak, het ek onwillekeurig aan Philip Larkin se bekende gedig “This be the verse” gedink:
They fuck you up, your mum and dad. They may not mean to, but they do. They fill you with the faults they had And add some extra, just for you. But they were fucked up in their turn By fools in old-style hats and coats, Who half the time were soppy-stern And half at one another’s throats. Man hands on misery to man. It deepens like a coastal shelf. Get out as early as you can, And don’t have any kids yourself.
Huisies van papier is uiteindelik hoegenaamd nie so negatief oor wat ouers hul kinders alles aandoen as wat in Larkin se gedig beskryf word nie. Die roman eindig eintlik juis op ‘n positiewe noot en behou deurgaans, ten spyte van die droefheid en verwarring en pyn wat ‘n kind beleef wanneer haar ouers skei, ‘n ligte aanslag. Nogtans kon ek nie anders as om aan hierdie gedig herinner te word nie. Die verhaal gaan oor ‘n jong joernalis, Anna, in haar eerste werk by ‘n klein plaaslike koerant van ‘n klein dorpie aan die KwaZulu-Natalse kus.
Sy woon hier by haar twee pa’s. Sy is op hierdie dorpie gebore en was hier op kleuterskool, maar ná haar ouers geskei het, het sy saam met haar ma in Pretoria gaan woon. Haar vroegste herinneringe is aan haar ouers wat stry. Later stry haar ma en stiefpa. Sy het tydens skoolvakansies haar pa besoek waar hy saam met ‘n ander man in hul ou huis ingetrek het en sy bring hierdie vakansies saam met haar “stiefsussie”, die ander man se dogter, by hul pa’s deur. Sy hoor by hierdie “stiefsussie” vir die eerste keer die woord “gay” en vind geleidelik uit hoekom sy twee pa’s het.
Haar ma is ‘n skrywer wat voortdurend half afwesig is omdat sy eintlik betrokke is by die fiksiewêrelde wat sy skep. Die ma dra vreemde klere en haarstyle en Anna voel nooit tuis by haar ma en stiefpa nie en boonop verbrokkel haar ma se huwelik met haar stiefpa in haar matriekjaar. Op universiteit verlaat sy haar ma se huis en woon op verskeie plekke, onder meer vir ‘n rukkie by haar ouma. Haar twee pa’s se huishouding is ‘n deurmekaarspul van diere en hippievriende en nagtelange drinkpartye en gefuif. Haar pa se ouers was blykbaar ontsaglik streng, die oupa was ‘n gesiene historikus in Pretoria en het sy gesin met ‘n ysterhand regeer – wat oënskynlik bygedra het tot haar pa se rebelse tienerhouding om te rook en te drink en te vloek en alle kleinburgerlike reëls met minagting te behandel – selfs nou nog, ten spyte van sy ouderdom en sy siekte (al word hy deur dokters gewaarsku).
Dit is dus duidelik waarom hierdie verhaal van Anna my aan Philip Larkin se gedig herinner het. Anders as by Larkin, is daar by Anna nie die siniese besluit om so gou as moontlik uit die lewe weg te kom en self nooit kinders te hê nie. Sy kom geleidelik agter dat haar ouers eintlik veel komplekser is, dat hulle so baie eienskappe het waarvoor sy hulle liefhet, ten spyte van al hul foute en tekortkominge. Sy kom agter dat hulle eintlik ook nog ná al die jare vir mekaar lief is – ten spyte van alles wat gebeur het en al hul gevegte. Al is sy hoe verknog aan hulle – veral aan haar siek pa – besef sy ook dat sy nie vir sy lewe en probleme verantwoordelikheid kan aanvaar nie en dat sy haar eie lewe moet leef.
Sy vind geleidelik haar voete en maak vir haarself, in die afwesigheid van ‘n stabiele huis, huisies van papier. ‘n Roman soos hierdie kan maklik sentimenteel en stroperig raak en die skroewe van patos aandraai, soos wat dikwels in Afrikaanse fiksie en biografiese grootwordfiksie die geval is. Gelukkig slaag Theron daarin om nie in daardie soort clichés te verval nie. Dis veral Anna se sin vir humor en deernis met mense, haar vermoë om die negatiewe en die positiewe in mense te kan raaksien, om genuanseerd na die wêreld te kyk – ‘n wêreld vol afskuwelike ongelukke waaroor sy vir die koerant verslag doen, maar ook vol liefde en deernis vir armes en swakkes wat opval. Ek dink dit is ‘n roman wat dalk vir kinders wat deur traumatiese egskeidings gaan, veel sal kan beteken. Ook ouers kan troos vind dat kinders oënskynlik, ten spyte van al ons gebreke, grootword en hulself vind.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.