Willie Burger kyk na twee bekende en gewilde skrywers se nuutste werke
Willie Burger
Helene de Kock is een van die bekendste en gewildste skrywers van Afrikaanse liefdesromans. Sy skryf immers al 30 jaar en 13 omnibusse met haar liefdesverhale het al verskyn, waarvan die meeste ook as e-boeke beskikbaar is. Dat haar boeke in omnibusse heruitgegee word en elektronies beskikbaar is, spreek boekdele oor haar gewildheid, want meestal verdwyn boeke wat lank gelede verskyn het sommer in die vergetelheid.
De Kock se jongste roman, Debora en seuns, is egter nie dieselfde as die liefdesverhale van die omnibusse nie. Soos haar ander onlangse boeke, Somersneeu (2010), Dieper water (2007) en Abel se dogters (2003), is hierdie ‘n omvangryke roman (oor die 400 bladsye) wat sommer self omnibusdikte is.
Die roman speel tydens die onstuimige tydperk rondom die Tweede Wêreldoorlog af en getuig van deeglike navorsing. Natuurlik bring die oorlog baie komplikasies mee – veral omdat Dieter en Debora Schlagerveldt en hul drie seuns wat op ‘n Oos-Vrystaatse dorpie kom woon Duits is. Die geskinder oor waarom hulle hulle juis nóú in die Vrystaatse platteland kom vestig en oor die duister verlede van herr Dieter, veroorsaak baie spanning. Die intrige verdiep wanneer die een seun op ‘n Joodse meisie en die ander op sy onderwyseres verlief raak. En Margot Scott is die enigste inwoner van die dorp wat by hierdie Duitsers betrokke raak. Wanneer die oudste seun as dokter na die oorlog vertrek, gaan Margot agterna Engeland toe en werk daar met gewonde soldate se rehabilitasie.
Nou ja, ‘n geheimsinnige manlike dokter, ‘n vroulike fisioterapeut wat naby aan hom werk en ‘n donker Londense bomkelder is die soort bestanddele wat tot ‘n meesleurende liefdesverhaal lei. Maar dit is nie sommer so ´n liefdesverhaal hierdie nie. Daar is baie meer verhaallyne wat vervleg word. Dit word ook ‘n interessante ondersoek van ‘n tydperk.
Die historiese agtergrond is egter juis dit, slegs agtergrond, want eintlik word verhoudings tussen mense ondersoek. Nie slegs liefdesverhoudings nie, maar die talle ingewikkelde verhoudings waarin mense staan: ma en dogter, dogter en afwesige pa, ma en seuns, vriendskappe, die verhouding tussen individue en gemeenskappe. Dit gaan ook oor verlies en die verwerking van verlies.
Annelie Botes se Raaiselkind van 2001 het baie mense diep geroer. Sy het die effek wat ‘n "raaiselkind", ‘n kind met outisme, op ‘n gesin het, in hierdie roman ondersoek. Riël Franzen se digbundel, Narokkong, wat vroeër vanjaar deur Protea uitgegee is, bied eweneens ‘n baie ontstellende en roerende blik op outisme.
Daar is al baie boeke volgeskryf oor wat die doel en waarde van digkuns dan nou eintlik sou wees en natuurlik is dit nooit moontlik om poësie finaal vas te pen, te definieer of die funksie daarvan voor te skryf nie. Waaraan Franzen egter met sommige van hierdie gedigte herinner, is dat poësie onder meer daarin slaag om ‘n mens iets te laat ervaar van wat buite jou begrip en ervaringswêreld lê.
In ‘n gedig soos "Outisme II" word die algemene onkundigheid oor outisme treffend verwoord:
In die 1972-, sewende (verbeterde) uitgawe
van Bosman, Van der Merwe en Hiemstra
se Tweetalige Woordeboek
word "outeursreg" opgevolg met "outjie".
Dít, sê ek onomwonde,
is ‘n foutjie.
Waarom dan
"onregeerbaar"
"uigeslote"
"taktloos"
"isolasie"
"steeks"
"monoloog"
"eiesinnig"?
Kortom:
Hoe oud is
die oudste
Afrikaanse "outis"?
Franzen se bundel gaan oor veral ‘n pa se ervarings van ‘n outistiese kind. Die bundel vermy egter meestal die slaggate van sentimentaliteit waarin so ´n projek maklik sou kon verval. Die volgende gedig doen meer vir die bewusmaking van wat outisme is, as baie kliniese beskrywings:
Gebed van ‘n outis
1. Help hulle om te verstaan dat –
a. laaie en kasdeure nie oopgelos mag word nie;
b. ertjies nie aan rys mag raak nie;
c. vroeg en laat wees pynlik is; maar
d. tyd ondraaglik.
2. Help my om te verstaan –
a. wat leuens en takt is;
b. hoe geduld werk.
3. Dankie vir –
a. volmaakte, bevestigende patrone;
b. die vreugde van sirkels;
c. die vertroosting in ritme;
d. die voorreg om te herhaal en te herhaal; en
e. driehonderd en dertien.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.