Willie Burger kyk na twee uiteenlopende boeke
Willie Burger
Ek het op universiteit in die vroeë 1980’s vir die eerste keer Rodriguez se musiek gehoor. Omtrent almal in die koshuis kon woord vir woord saamsing met liedjies soos Sugar Man en I Wonder how Many Times you’ve had Sex. Elkeen wat ’n bietjie kitaar gespeel het, kon ten minste ’n paar Rodriguez-liedjies, saam met liedjies van Albert Hammond, Bob Dylan en Leonard Cohen, speel. In daardie vroeë 1980’s het sy musiek iets van ’n gewaagde uitdaging aan die streng dissipline waaronder ons in skole en die weermag grootgeword het, gebied.
Ek kan onthou dat ek spesifiek op Oudtshoorn tydens my diensplig ’n kasset van Rodriguez, Cold Fact, oor en oor op my Walkman gespeel het. Vir my, soos vir die meeste ander mense wat na Rodriguez geluister het, het sy musiek nie ’n obsessie geword nie, en ek het nooit probeer uitvind wie die geheimsinnige sanger eintlik was nie. Twee Suid-Afrikaners het egter wel byna obsessief oor Rodriguez begin navorsing doen en hom uiteindelik opgespoor. Sixto Rodriguez se musiek was toe nooit so suksesvol in die VSA of in Europa soos wat dit om skaars verklaarbare redes in Suid-Afrika (en Australië) was nie. En Rodriguez self was nooit eens daarvan bewus nie. Die storie van Craig Strydom en Stephen Segerman se pogings om Rodriguez op te spoor, en hom selfs te oorreed om konserte in Suid-Afrika te kom hou, meer as 30 jaar nadat hy sy eerste album bekendgestel het, is in 2012 verfilm.
Die dokumentêre rolprent oor Segerman en Strydom se soektog na Rodriguez en sy “herontdekking” deur die Sweedse rolprentmaker Malik Bendjelloul, is in 2013 met ’n Oscar bekroon vir die beste dokumentêre rolprent. Die rolprent, Searching for Sugar Man, het opnuut belangstelling in Rodriguez tot gevolg gehad. In Sugar Man – The Life, Death and Resurrection of Sixto Rodriguez word die merkwaardige verhaal van die sanger wat nooit eens van sy groot sukses in Suid-Afrika geweet het nie, vertel. Dit is ook die verhaal van Strydom en Segerman se gesukkel om hom op te spoor. En in die derde plek is dit ook die verhaal van Bendjelloul wat van Strydom en Segerman se soektog gehoor en besluit het om ’n rolprent daaroor te maak.
Rodriguez het ’n soort kultusstatus en hierdie boek is ’n moet vir almal wat daardie kultus aanhang. Gedig vir die week die kind is die som van my geheue die kind is die som van my geheue ’n wêreld van sensoriese snellers om toe deure toe te sluit ’n netwerk van drome gelaag en in delikate vermaning tot eendag se betekenis. en wat hy sal onthou is wat die oorspronklike ervaring nie gehad het nie en ’n openbare verkeer wat die emosionele detritus ignoreer. Dit is die forensiese net van woorde rondom hom / waarin ek onpartydig groet/ en beloof om eendag weer terug te kom Hierdie gedig kom uit Gilbert Gibson se jongste bundel, Vry-. Gibson se digkuns word soms as “hermetiese poësie” beskryf omdat sommige van sy verse moeilik is om te verstaan weens die vreemde, persoonlike manier waarop taal gebruik word en die benutting van talle onbekende woorde. Vry- is sy vyfde digbundel, maar moenie toelaat dat sy reputasie as “moeilike digter” jou afskrik nie!
Alle pendelaars wat smiddae deur druk verkeer huis toe moet sukkel, weet dat jy óf ’n nuwe taal moet aanleer deur CD’s te luister, óf voorlesings van die klassieke romans moet luister, óf jy is op jou radio aangewese. Die verskillende radio-omroepers wat die laatmiddagskof waarneem, beraam almal planne om luisteraars te boei en deur die frustrasies van stukkende en flikkerende verkeersligte en druk verkeer huis toe te help.
Amore Bekker het vir lank luisteraars gevra om hul “saamrystories” te deel. Sy het hierdie stories van luisteraars se ry-ervarings dan voorgelees. Sodoende is almal se pad huis toe ’n bietjie korter gemaak. Nou is byna ’n 100 van hierdie saamrystories as Hartstories – Huis toe met ’n ligter tred in druk beskikbaar. Sommige is deur bekende skrywers, soos Riana Scheepers, of bekende mense, soos Riaan Cruywagen, en ’n paar deur die gereelde bydraer tot Tjailatyd, Dave Pepler, maar die meeste is deur gewone pendelaars wat elkeen ’n eie rystorie te vertel het. Volgens Bekker het sy hierdie stories uitgesoek omdat hulle ’n mens laat goed voel oor ons land en sy mense, juis omdat daar herhaaldelik in hierdie kort storietjies ervarings gedeel word van mense se onverwagse vriendelikheid, hoflikheid en behulpsaamheid oor alle grense heen.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.