Elke jaar dra die N1 groot getalle Suid-Afrikaners na Kaapstad waar hulle saam met toeriste uit alle dele van die wêreld selfies in die kabelkar neem en dae lank op die strande en die Waterfront deurbring en met sonsondergang glase van die plaaslike wyn geniet. Kaapstad tel immers nie sonder rede nie onder die tien beste toeristebestemmings ter wêreld.
Willie Burger
Maar die statistiek wys ook dat dit die gevaarlikste stad in die land is. Van April 2014 tot Maart 2016 was daar elke dag ‘n gemiddeld van ses moorde en sewe pogings tot moord terwyl gemiddeld 84 mense per dag in hierdie mooi toeristebestemming aangerand is. Dit is meer sterftegevalle en beserings as in sommige oorloggeteisterde gebiede! Die ergste is dat al hierdie geweld en dood nie eens meer die daaglikse nuus haal nie.
So af en toe hoor ons van arrestasies of ‘n skietery of dat skoolkinders weens bendegeweld op die Kaapse Vlakte verhinder word om skool toe te gaan. Sommige hofsake – soos dié van Rashied Staggie of George “Geweld” Thomas – haal wel die nuus en dan is ‘n mens verstom om te hoor van misdade wat selfs uit tronkselle beplan en beheer word. Don Pinnock is al baie jare met bendegeweld in Kaapstad gemoeid. In 1984 het sy boek oor Kaapse bendes, The Brotherhoods, verskyn. Gang Town is ‘n soort opvolg daarop. Hy ondersoek hoedat bendes en die omstandighede in die bendegeteisterde gebiede ná 1994 verander het.
Sy nuwe boek het dieselfde soort skokeffek as ‘n rolprent soos City of God (2002), die rolprent oor geweld en georganiseerde misdaad in Rio de Janeiro se berugte favelas. Die verhale van mense se ervarings in die bendegeteisterde gebiede en die talle persoonlike vertellings deur bendelede word met groot vaardigheid soos dié van ‘n ervare misdaadfiksieskrywer aangebied. Gang Town is egter veel meer as boeiende en skokkende vertellings van mense wat in uitsigloosheid en nimmereindigende geweld leef. Die gemeenskappe in talle woonbuurte is te vreesbevange om dit saans op straat te waag, kinders is te bang om skool toe te gaan en selfs die polisie vrees om uit hul voertuie te klim. Pinnock beskryf nie net hierdie situasies op meesleurende manier nie, hy ondersoek die aard en oorsake van bendegeweld, en dan gaan hy ook nog veel verder, hy doen daadwerklike oplossings aan die hand.
Pinnock onderskei tussen verskillende soorte bendebedrywighede. Enersyds word bendes deur adolessente gevorm wat verveeld en sonder hoop leef en wie se rolmodelle bendeleiers met gewere en blink voertuie is. Die enigste manier waarop hulle ‘n eie identiteit kan vestig, is deur erkenning in hul eie groepe te vind en daarvoor moet hulle allerlei wilde rituele (wat dikwels moord insluit) uitvoer om hulself te bewys. Andersyds is daar talle bendes wat nie meer uit roekelose adolessente bestaan nie en wat hulle met dwelm- of perlemoensmokkelary besig hou en wat dikwels om die beheer oor sekere gebiede teen konkurrente veg. Verder is daar ook bendes wat bande met die korporatiewe wêreld het en wat hulle met geldwassery en internasionale smokkelbedrywighede bemoei.
Pinnock probeer om adolessensie te verstaan en hy kyk ook na die rol van gesinne, die gevolge van kinders wat sonder liefde en aanvaarding grootword, die rol van afwesige pa’s, en selfs die effek van ‘n gewelddadige omgewing op swanger vroue se ongebore kinders. Ook die invloed van armoede, werkloosheid, ‘n mislukte opvoedingstelsel en die geredelike beskikbaarheid van dwelmmiddels word ondersoek. Pinnock laat nie toe dat die leser deur die uitsigloosheid oorweldig word nie. Op grond van al die bevindings maak hy talle aanbevelings vir oplossings. Dit sluit ingrype by die vroeë ontwikkeling van kinders, hervorming van die opvoedingstelsel en die maniere waarop met tieners gewerk word, in.
Hy maak ook aanbevelings vir polisiëring en voorstelle dat lewensbeplanning met adolessente onderneem behoort te word. Daarom is hierdie boek nuttig vir die polisie, maatskaplike werkers, onderwysers, ouers en gemeenskapsleiers in al hierdie gebiede. Maar dit is nie slegs vir hulle nie. Dit is eintlik ook verpligte leesstof vir elke inwoner van die land – veral dié van ons wat so maklik nét na die mooi kant van die Kaap kyk. Bendegeweld is inderdaad ons almal se probleem.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.