Willie Burger kyk na ’n paar familieromans wat die laaste paar maande die lig gesien het
Romans waarin ’n hele familiegeskiedenis ondersoek word op soek na helderheid oor ’n mens se eie identiteit of na geheime wat in die verlede onderdruk is, is skynbaar tans baie gewild. Die afgelope klompie maande het sommer ’n hele paar sulke “familieromans” verskyn. Voorin een van hierdie romans, E Kotze se Soetloop, lui die motto: “Van waarhede en versinsels oor geslagte heen.”
Hierdie motto sou goedskiks kon geld vir Celesté Fritze se Verlorenkop en vir Christine Barkhuizen-le Roux se Drieklawerblaar (en tot ’n mindere mate ook vir Johann Botha se Koukonap). E Kotze se Soetloop speel weer, soos so baie van haar verhale, aan die Weskus af. Armoede en swaarkry loop al lank in Kattie se familie. Haar eie ouers is van mekaar vervreem en haar ma se moeilike lewe is iets wat sy graag wil vermy.
Sy hoor baie stories oor die familiegeskiedenis by haar broers en susters, maar uiteindelik word sy deur ander familie grootgemaak wanneer drank die verhouding tussen haar ouers verwoes. Kattie kry ’n kans om weg te kom uit die armoede en swaarkry wanneer sy as kinderoppasser in die Swartland werk. Hierdie werk is vir haar ’n wegkomkans en sy word aan ’n ander manier van lewe blootgestel waar daar nie net meer geld is nie, maar sy maak ook met boeke en musiek kennis. Sy word ook met nuwe ambisie gevul en besef dat sy nooit soos haar ma wil lewe nie.
Sy vind uiteindelik ware liefde, maar dit is ’n liefde wat weens ongeluk en dood vir Kattie nooit in vervulling gaan nie. Wanneer sy uiteindelik trou, lei dit nie tot die vervulde lewe waarna sy verlang het nie. Kotze se werk getuig van insig in mense se begeertes en verlanges en die moeilike verhoudings tussen man en vrou. Dikwels word verhoudings tussen mense nie bepaal deur dit wat gesê word nie, maar deur die stiltes tussen mense en in huise.
Voor in Verlorenkop, Celesté Fritz se debuutroman, is ’n stamboom van die Retiefs van Verlorenkoppe. Die stamboom begin by Poon Retief en Sara Beslaar, die stamouers wat in 1848 en 1863 onderskeidelik gebore is en word oor vyf geslagte gevolg. Die belangrike sleutel tot die Retieffamiliegeskiedenis is ’n dagboek wat Christine Retief gehou het. Dele van hierdie dagboek is alledaagse gebeurtenisse op die familieplaas soos reënvalsyfers, melk- en vleisprysformules en reproduksiesyfers.
Die dagboeke hou egter ook baie onthullings in. Jo (Johanna) Retief kry haar ouma se suster (Christine Retief) se dagboeke oor die jare 1916–1926 eers in 1986 wanneer sy in die VSA woon. Die dagboeke laat haar na haar eie land verlang, maar sy word ook bewus van talle geheime oor haar voorgeslag wat ’n groot invloed op haar en op die hele familie gehad het. Die hartseer wat deur leuens veroorsaak is en deur leuens te lewe as gevolg van die onderdrukking van seksuele identiteit, word geleidelik duidelik.
Uiteindelik lei hierdie ontdekkings ook tot veel beter selfbegrip en maak ’n beter toekoms vir Jo se kinders moontlik. Christine Barkhuizen-Le Roux is die skrywer van die gewilde Padmaker, die roman oor ’n kind se grootwordjare in die verskeie “padkampe” waarna sy saam met haar gesin oral in Suid- Afrika rondtrek soos haar pa op verskillende plekke in die land aan paaie bou. In Getuie het Barkhuizen-Le Roux oor die ontstellende greep van godsdiens op mense geskryf en die moeite om uit die houvas van ’n geloofsgroep op ’n gesin en op ’n individu te ontsnap ten spyte van uitbuiting en selfs molestering.
In Drieklawerblaar word die houvas van die verlede op mense ondersoek. Al drie die sentrale karakters is besig om na geheime in hul familiegeskiedenisse te delf. In die proses word ’n interessante aspek van die Suid-Afrikaanse koloniale verlede eintlik ondersoek – Kate Jooste probeer vasstel hoe haar oumagrootjie uit Ierland in die Karoo beland het, terwyl Abel Marais sy Hugenote-herkoms na Frankryk terugspoor terwyl ook Tinneke le Grange lank ná haar man se dood inligting oor sy lewe bekom.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.