Willie Burger kyk na drie lekkerleesboeke
In ‘n baie kort tydjie het Derick van der Walt as skrywer ‘n belangrike plek van jeugfiksie in Afrikaans ingeneem. Lien se lankstaanskoene het in 2007 verskyn en het die Sanlamprys en die MER-prys vir jeugliteratuur ontvang. Sy tweede jeugroman, Willem Poprok (2009), is ook twee keer bekroon, met die Sanlamprys en met die Scheepersprys. Hoopvol het in 2012 verskyn en sy vierde jeugroman, Bambaduze, is pas gepubliseer.
Van der Walt slaag daarin om die leser in ‘n tienerkarakter se omgekrapte lewe mee te sleur en sonder om lang verduidelikings te gee, bied die roman insigte in mense se optrede. Die hoofkarakter, Jurie, beland in groot moeilikheid wanneer hy, ná sy broer se dood en sy ma se vertrek na Londen, motors begin steel. Jurie steel nie om geld te maak nie. Hy ry maar net ‘n entjie met die gesteelde voertuig en los dit daar. Sy woede teenoor die wêreld word geleidelik duidelik, maar dit word ook nie sommer met ‘n kitsoplossing weggeneem nie.
Van der Walt se roman boei in die eerste plek omdat dit ‘n sterk spanningslyn het, maar veral ook omdat dit insigte bied in mense se hartseer en woede en die maniere waarop hulle dit hanteer. Tafelberg-uitgewers.
Die eerste vereiste waaraan misdaadfiksie moet voldoen, is dat dit die leser moet boei. Martin Steyn het reeds met sy debuutwerk, Donker spoor, getoon dat hy ‘n naelbytstorie kan vertel. In Skuldig, is adjudant Colin Menck op die bloedige spoor van wat na die werk van ‘n huurmoordenaar lyk. Aanvanklik ondersoek hy die moord op ‘n tandarts wat in sy eie sitkamer doodgeskiet is, maar wat eers, in sy eie bloed, die woord "skuldig" teen die muur geskryf het.
Kort hierna word nog ‘n man vermoor en weer staan "skuldig" in sy eie bloed op die toneel geskryf. Dan gebeur dit weer … Die enigste gemene deler is dat daar telkens in hierdie mans se lewens vroue is wat rede het om wraak te neem. Soos in menige misdaadroman is daar ook spanning tussen Menck en sy kollega en met sy direkte hoof. Wanneer Menck se gesin ook deur die moordenaar gedreig word, neem die spanning vinnig toe.
Skuldig is ‘n lekkerleesmisdaadboek deur ‘n misdaadkenner. Martin Steyn het navorsing oor verskeie Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars gedoen en daaroor geskryf voordat hy misdaadfiksie begin skryf het. LAPA Uitgewers.
Vir lesers wat nie vir ontspanning alleen lees nie, maar wat bereid is om ‘n boek te lees wat sy eie stadige ritme op jou afdwing en wat jou laat nadink, beveel ek hierdie week Marilynne Robinson se Gilead aan. Gilead is Robinson se tweede roman en dit is met die Pulitzerprys bekroon. Haar debuutroman, Housekeeping, het reeds in 1981 verskyn.
Die hoofkarakter, John Ames, is ‘n 76-jarige dominee van die Kongregasionalistiese Kerk in ‘n onbenullige, stowwerige dorpie, Gilead, in die Amerikaanse staat Iowa. Voor hom was eers sy oupa en toe sy pa (albei met dieselfde name as hy) die dominees in dieselfde gemeente. Sy oupa was ‘n vurige prediker wat die hele gemeenskap tot deelname aan die Amerikaanse Burgeroorlog aangevuur het en self ‘n oog in die oorlog verloor het. Sy pa was ‘n pasifis. Sy oupa en sy pa het albei in een of ander stadium die gemeenskap verlaat, maar John Ames het die gemeente tot aan die einde van sy lewe trou bly dien.
Die roman is eintlik een lang brief (meer as 250 bladsye) wat die bejaarde predikant aan sy seun (wat maar sewe jaar oud is) skryf. Ames se eerste vrou is baie jonk dood en hy het byna sy hele lewe in eensaamheid geleef voordat hy op sy oudag met ‘n jong vrou getrou het.
Ames se lewenslange vriend is die dominee van die Presbisteriaanse gemeente op dieselfde dorpie. Hulle voer lang gesprekke oor die teologie. Ames se broer het vroeg van die dorpie af weggegaan en in Duitsland gaan studeer waar hy ‘n ateïs geword het. Hoewel hy en sy broer daarna byna nooit kontak gehad het nie, verweer hy homself voortdurend in sy gedagtes teen ateïstiese argumente.
Die beskrywing mag dalk vervelig klink, maar die roman het my diep geraak omdat die dominee in die roman nie die soort karikatuur is wat dominees meestal in fiksie is nie. Hy is ‘n intelligente en opregte mens wat op ‘n eerlike manier met teologiese kwessies en die daaglikse probleme van die arm gemeente omgaan, wat liefdevol help waar hy kan, begrypend optree en wat telkens die sin en die skoonheid van die lewe in die mees alledaagse gebeurtenisse soek en vind. Soveel deernis sonder ‘n sweem van soetsappigheid en soveel ontwapenende eerlikheid het ek nog selde in fiksie teëgekom waarin godsdiens ‘n rol speel. New York: Farrar, Straus & Giroux
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.