Willie Burger kyk na die groot oes van digbundels in 2016
Daar was ’n tyd aan die begin van die eeu toe ’n baie donker toekoms vir Afrikaanse poësie voorsien is. Uitgewers het aangedui dat hulle voortaan bitter min digbundels sou uitgee en baie mense het daarin sommer die doodsklok vir Afrikaans ook gehoor.
As die aantal digbundels wat deesdae verskyn, egter ’n aanduiding moet wees van die stand van Afrikaans of die Afrikaanse letterkunde, gaan dit sommer klopdisselboom! Protea Uitgewers het ’n groot rol daarin gespeel om ’n alternatiewe publikasiemoontlikheid vir aspirantdigters oop te maak, maar ook by die ouer uitgewers verskyn daar sommer dikwels digbundels. Op my tafel lê daar op die oomblik agt bundels wat gedurende die afgelope klompie maande verskyn het. Hierdie week en volgende week gee ek aandag aan enkele bundels van die 2016-oesjaar.
Die digter Joan Hambidge het verlede jaar 60 geword. Johann de Lange skryf in sy bundel met die mooi titel, ’n Hunkering se grein, die volgende vers oor Hambidge: Joan on the town Die dinge wat jy aanvang! Die plekke waar jy uithang! Vir jou jare nog steeds Die ene Sturm und Drang! Benewens haar lewenslus en energie wat De Lange in hierdie vers besing, het Hambidge ook in 2016 ’n nuwe bundel die lig laat sien.
Indeks is haar 26ste bundel in 31 jaar! Die bundel dra die onmiskenbare Hambidge-stempel: dit bevat ’n afdeling van reisgedigte waarin besoeke aan verskeie plekke in Suid-Amerika onder vers gebring word. Dan is daar ook talle gedigte oor gedigte en die digkuns. Soos telkens in haar oeuvre gee sy ook in ’n hele aantal gedigte aandag aan die populêre kultuur – met gedigte oor onder andere Lady Gaga en Amy Winehouse. Die laaste afdeling van die bundel bevat 12 verse oor die Chileense digter Pablo Neruda, maar daar is ook ander verse oor hierdie digter vir wie Hambidge kennelik groot respek het.
Groot pret in hierdie bundel is die gedigte “Met groot apologie: ’n Dubbeldoor.” Omtrent alle Afrikaanse poësielesers onthou sekerlik DJ Opperman se “Met apologie”, waarin hy dieselfde paar versreëls neem en telkens in die styl van ’n ander digter herskryf. “Op ’n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee / in swart geklee / met twee kolliehonde langs die see.” Die manier waarop hy spottend hulde gebring het aan mededigters soos Van Wyk Louw en Uys Krige het baie bekend geword.
Dit was wel parodie, maar hy het telkens iets vasgevang van die digters met wie hy die spot dryf en daarom is dit ook terselfdertyd ’n soort eerbetoon aan daardie digters. In 14 herskrywings van daardie oorspronklike Opperman-versreëls boots Hambidge die styl en gedagtegang van digters soos Antjie Krog, Daniël Hugo, Lina Spies, TT Cloete, Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach, Danie Marais en Loftus Marais na. ’n Mens sou seker kon debatteer hoe geslaagd elk van hierdie spottende gediggies is, maar hulle is sommer pure pret om te lees.
Die genoemde bundel van Johann de Lange, ’n Hunkering se grein, hou by die temas van die lyflike liefde waarvoor De Lange bekend is, maar dit bevat talle teer gedigte oor ouer word, afskeid en droefheid. Ronelda S Kamfer het reeds met haar debuutbundel, Noudat slapende honde, in 2011 Afrikaanse lesers laat regop sit met haar uitdagende houding en vars woordgebruik. Dit is opgevolg deur grond/ Santekraam in 2012. In 2016 het haar volgende bundel, Hammie, verskyn. Hammie is ’n bundel opgedra aan die digter se ma.
Dit is ’n treffende bundel en verdien om as geheel gelees te word. Dikwels lees mense digbundels op soek na treffende enkelgedigte – daardie soort gedigte wat later in Groot Verseboek opgeneem sal word – maar in Hammie ontstaan ’n kruis-en-dwars-verwysing tussen die gedigte en daar is ’n narratiewe element deur die bundel. Dit maak dit moeilik om ’n gedig aan te haal, maar hier is een om ’n idee van die bundel te kry:
Ma na my ma se dood
het net die klein dinge verander
eerste het die hekke afgeval
die gras het doodgegaan die plante het ophou
groei die vensterbanke het wit geword
ek en my suster maak elke dag
kombuis skoon
maar dit bly vuil
my suster se seuntjie van twee
se tande het begin vrot raak
my pa probeer hard ’n goeie ma wees
hy koop gereeld ’n klomp groente
maar niemand maak kos nie
ek dra my ma se trouringe
maar dit maak my vingers seer
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.