Willie Burger kyk na Heilna du Plooy se dubuutroman, Die taal van been
Willie Burger
Die taal van been is Heilna du Plooy se debuutroman. Du Plooy is bekend as digter en sekere temas uit haar drie digbundels kom weer hier voor – soos ‘n bemoeienis met kuns en kunstenaars. Die hoofkarakter in Die taal van been, Carolien, is ‘n skilder en die been onder die weefsel en vel speel ‘n sentrale rol in die roman, wat herinner aan Du Plooy se gedig, “Tyd”, uit In die landskap ingelyf (2003): elke jaar is die beenstruktuur ‘n aks meer sekuur afgeteken in die vorm van jou hande jou gelaat, elke lyn van jou figuur al dunner gaan die tyd ons puur die raakvlak in, tot ragfyn vel tussen die leegte en verlede tussen begeerte en vertel
Benewens onderliggende beenstrukture is tyd en herinnering ook belangrike temas in die roman, en sentraal, soos in hierdie gedig, staan die verhouding tussen mense. Soos die slotreël van die gedig aandui, is die rol van vertelling as manier om sin te gee belangrik in Du Plooy se werk – ook in haar werk as akademikus waarin sy op vertelteorie gefokus het. In hierdie roman staan vertelling as manier waarop onthou word en waardeur sin gemaak word, sentraal. Die taal van been is ‘n ryk en sensitiewe roman – met veel aandag aan subtiele verskuiwings in verhoudings.
Dit beteken egter nie dat daar uitsluitlik daarop gefokus word nie. Daar is ook aksie! ‘n Ontploffing eis die lewe van die woonstelopsigter waar Carolien skilder, maar bring ook ‘n raaiselagtige man vir wie die bom klaarblyklik bedoel was, in haar lewe. Die magstryd onderliggend aan die land se politiek bied ‘n misterieuse en spannende agtergrond. ‘n Soeke na identiteit staan sentraal. Die forensiese polisie se pogings om mense se identiteit vas te stel deur gesigte op onbekende skedels met ‘n kombinasie van rekenaarmodelle, wetenskap en kuns te rekonstrueer, sluit by die poging van Carolien aan om juis die basiese been, die basiese struktuur van wat sy skilder, te ontdek.
Sy is ook besig om haarself, haar kreatiewe identiteit (as vrou) te ondersoek. Wat gebeur wanneer ‘n vrou vasgevang voel in ‘n lewe wat sy aan haar gesin gewy het en haar eintlike passie, om kreatief te leef, uitgestel of onderdruk het? Wat gebeur as só ‘n vrou deur omstandighede met haar eie lewe gekonfronteer word en besluit om haar kreatiewe self te herontdek? Wat gebeur as sy in hierdie tyd ook ‘n ander man ontmoet? Wanneer die politieke situasie in die land skielik nie meer ‘n abstrakte idee is nie, maar haar lewe ingrypend raak, neem Carolien bestek op van haar gelukkige huwelik, gelukkige gesinslewe en gelukkige werksomstandighede en besef dat sy iets van haar kreatiwiteit verloor het.
Haar besluit om haarself te herontdek en uit te leef klink positief, maar dit kom teen ‘n prys. En dan word alles nog komplekser ná die bomontploffing. Dit is ook ‘n roman oor kuns: oor die skilderkuns, maar ook oor skryfkuns en musiek. Carolien is van mening dat kunstenaars die meervlakkigheid van die wêreld waarneem en só goed begryp dat hulle iets daarvan kan weergee op ‘n manier wat dit ervaarbaar maak. Die roman vra ook vrae oor die nut van kuns – juis in ons land en politieke omstandighede. Kan ‘n mens die “luukse” van kuns bekostig in ‘n land van hongersnood, vigs, armoede en geweld? Wat is die waarde van kuns dan werklik – veral as dit nie eens geld maak nie?
Die verband tussen skedels en onderliggende patrone en identiteit word ook aan die hand van die mitologisering rondom Mozart se skedel ondersoek. Elke hoofstuk begin ook met ‘n kort aanhaling uit ‘n kortverhaal van Isak Dinesen (skuilnaam van die Deense skrywer, Karen Blixen, bekend vir Out of Africa en Babette’s Feast). In die spesifieke verhaal vertel die hoofkarakter van een nag wat hy (onwetend) saam met ‘n prostituut deurgebring het en na wie hy die res van sy lewe bly soek het. Vyftien jaar ná daardie nag het hy by ‘n skildersvriend gesien hoedat hy ‘n skedel skilder en dadelik vermoed dat dit die prostituut se skedel was. Du Plooy skuif al hierdie verhale slim oor mekaar. Ook die vertelling is slim, met berekende tydspronge en perspektiefwisselings wat vir ‘n volgehoue spanningslyn sorg. Hoewel die speurriller nie heeltemal oortuig nie, is die sensitiwiteit waarmee die verkilling en opwarming van Carolien en haar man se verhouding beskryf word, veral na die einde toe, roerend.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.