Die wêreld is ons woning nie – of is dit?
Willie Burger
In byna alle stories wat ons vertel, staan mense se optrede sentraal. ‘n Mens kan sê dat stories eintlik altyd oor die ideale en norme gaan waarvolgens mense leef, oor die diepste passie en oortuigings wat elke mens dryf om op bepaalde maniere op te tree.
Wanneer ‘n mens ‘n roman lees, kom daar in jou verbeelding ‘n fiktiewe wêreld tot stand, ‘n mens sou dit dalk ‘n "hipotetiese " of ‘n "virtuele" wêreld kon noem. Die karakters wat hierdie virtuele wêreld bewoon, word herkenbare mense, individue wat in sekere verhoudings teenoor ander mense staan, teenoor die gemeenskap en die wêreld waarin hulle leef. Hierdie karakters se diepste begeertes, wense en oortuigings word uiteindelik vir die leser duidelik. Elkeen van hulle het ‘n eie morele kompas waaraan hulle probeer vashou en wat bepaal hoe hulle teenoor ander mense optree, teenoor die gemeenskap en die verwagtings en eise wat aan hulle gestel word.
Sommige karakters sukkel om aan die eise van hul eie persoonlike morele kompas te voldoen. Hulle is feilbaar en kry nie reg wat hulle "behoort" te doen nie. Hulle weet wat hulle "behoort" te doen (hetsy omdat hul eie gewete dit van hulle eis, of omdat dit uit die eise van godsdiens, die reg of ‘n gemeenskap se gewoontes) spruit, maar hulle kry dit nie reg nie. Hierdie soort verhale is dikwels die komedies of verhale oor antihelde.
Ander karakters kry dit weer reg om aan die hoogste eise van hul eie morele kompas te voldoen – al beteken dit dat hulle al die norme en verwagtings van die samelewing moet teengaan; dat hulle groot opofferings moet maak. Hierdie soort karakters doen wat hulle "behoort" te doen – al beteken dit hulle moet die hele wêreld en die gemeenskap verander, en as hulle dit nie kan regkry nie, gaan hulle met waardigheid onder (tragedies).
Karakters in hierdie romans slaag byvoorbeeld daarin om die hoë waardes van ‘n bedreigde gemeenskap getrou te verdedig: die held wat die draak of ander bedreiging verslaan, die speurder wat die skurk vastrek; die geliefdes wat bedreigings vir ware liefde in die gemeenskap – soos om teen eensaamheid, vir geld of vir status te trou – te bowe kom.
Andersyds kan karakters ook ‘n korrupte gemeenskap verander sodat die individu se eie, hoë waardes die gemeenskap se korrupte waardes kan vervang (die held wat almal laat insien dat die gemeenskap op ‘n verkeerde pad is, die geliefdes wat aan hul ware liefde vashou en die gemeenskap laat besef dat hul norme die ware liefde bedreig).
Die vraag wat dus eintlik in romans gevra word, gaan altyd oor die menslike bestaan en is eintlik: "Is ons tuis in die wêreld?"
Soos reeds hierbo aangedui, kan hierdie vraag op twee maniere beantwoord word: idealisties of anti-idealisties.
Idealistiese antwoorde wat romans bied, vind ons in romans wat positief antwoord – "ja, ons is tuis in die wêreld" of "ja, ons kan tuis in die wêreld wees wanneer ons die wêreld net eers verander het" (en natuurlik is dit in idealistiese romans ook moontlik om die wêreld te verander). In hierdie idealistiese romans bly karakters in hul ideale glo, hulle leef dit uit. Dit is die romans waarin helde allerlei bedreigings oorkom en deur dapperheid, lojaliteit en onwrikbare geloof in die hoogste ideale orde in die gemeenskap bring, bedreigings afweer en sorg dat hulle self (en almal) in vrede tuis kan wees in die wêreld.
Sommige romans antwoord op ‘n anti-idealistiese manier op die vraag: Kan ons tuis wees in die wêreld? Hierin kom virtuele wêrelde tot stand waarvan Totius geskryf het: "Die wêreld is ons woning nie." Volgens hierdie romans kan geen mens ooit aan die morele verwagtings van die gemeenskap of aan hul eie hoër ideale en eise voldoen nie; hulle kan nooit regkry wat hulle behoort te doen nie. Die eise wat mense aan hulself stel, of wat deur die gemeenskap of godsdiens of heersers of wetgewing aan hulle gestel word, word as té hoog, as ondraaglik vir die individu ontmasker. Die individu is self te swak of die eise is te hoog. Hierdie anti-idealistiese romans is dikwels komedies, pikareske romans, of romans waarin antihelde oorheers.
In sommige (modernistiese) romans word die wêreld ‘n ondeurgrondbare plek wat die bewoners maar net moet aanvaar, sonder enige hoop dat hulle hulself of die wêreld ooit sal kan verstaan – wat natuurlik komies of baie somber kan wees.
In elke roman word ‘n unieke wêreld tot stand gebring en word op ‘n sonderlinge manier oor die menslike bestaan nagedink, sodat daar spesifieke aspekte daarvan belig word: Kan mense byvoorbeeld radikaal verander? Lei ervarings tot insig? Is daar ‘n plan en doel in die wêreld of word alles deur kans bepaal? Kan mense die loop van die geskiedenis beïnvloed of ondergaan hulle die geskiedenis? Elke roman stoei opnuut en op ‘n besondere manier met hierdie soort vrae en ondersoek sodoende aspekte van menswees waaroor geen finale antwoorde moontlik is nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.