Willie Burger kyk na die wenner van die Groot Romankompetisie, Anneli Groenewald, se debuutroman
Willie Burger
Wamuwi Mbao het onlangs in die Sunday Times geskryf dat Suid-Afrikaanse fiksie eintlik baie vervelig en voorspelbaar is. Hy onderskei vyf “soorte” fiksie wat herhaaldelik in Suid-Afrika voorkom:
1 Ná die dood van ‘n pa/ma/enige ander bloedverwant keer die hoofkarakter ná ‘n verblyf van 10/15/20 jaar in die buiteland na Suid-Afrika terug en moet hier ‘n donker, onopgeloste geheim uit die verlede oplos (die geheim het meestal met ras of seks of albei te doen).
2 Patroonmatige misdaadfiksie waarin skerp kritiek op die huidige regering uitgespreek word terwyl moeite gedoen word om te wys dat die roman nie oor apartheid handel nie.
3 Gewone mense se (gewone) lewensdramas word teen die agtergrond van ‘n opwindende stad (meestal Johannesburg) opgedis.
4 Historiese fiksie waarin ‘n taamlik onbekende gebeurtenis uit die Suid-Afrikaanse verlede op só ‘n manier vertel word dat dit op hedendaagse probleme kommentaar lewer.
5 Wetenskaps- of toekomsfiksie waarin die toekomsvisie van Suid-Afrika gebruik word om op die hede kommentaar te lewer.
Anneli Groenewald se debuutroman, Die skaalmodel, is ‘n uitsondering. Die roman is reeds met die Groot Romankompetisie se debuutprys bekroon en word deur ‘n onkategoriseerbare varsheid gekenmerk. Hier en daar klink die sprankelende prosa ‘n bietjie na Marlene van Niekerk, soms herinner die vertelling aan Etienne van Heerden, maar uiteindelik is dit ‘n heeltemal vars, eie stem wat ‘n mens hier hoor.
Die hele roman is een deurlopende monoloog: Juffrou Berdina Visagie se verdediging en verduideliking van wat eintlik in die klein museum op Bredasdorp gebeur het. Juffrou Visagie is die respektabele en pligsgetroue kurator van die museum. Sy is daarvan aangekla dat sy onder meer museumeiendom beskadig het, die tuin verwoes het en dat sy met ongewenste karakters geassosieer word. Haar lomp verduidelikings is vol oënskynlik onbenullige besonderhede en sy onderbreek haar verduideliking telkens om eers agtergrond oor iets anders te gee. Sy dwaal af en val haarself in die rede.
Dit is vernuftig gedoen, want juis op hierdie manier word spanning gebou deur verwagtings wat geskep word. Juffrou Visagie sien ‘n geleentheid om die sukkelende museumpie onder die wye publiek se aandag te kry wanneer ‘n joernalis op ‘n dag by haar navraag doen oor die geskiedenis van Skipskop – die klein vissersdorpie naby Bredasdorp wat in die 1980’s onteien is om vir ‘n missieltoetsterrein van die destydse Krygkor plek te maak. (Ja, dit is dié Skipskop waaroor David Kramer gesing het – die liedjie wat later onder andere ook deur Sonja Herold en Theuns Jordaan opgeneem is – en dieselfde Skipskop waaroor Ronelda Kamfer se digbundel Grond/Santekraam gaan.)
Juffrou Visagie kry die ingewing om ‘n skaalmodel van die voormalige Skipskop in die museum te bou. Sy betrek verskeie mense by haar planne – soos die “boheemse” pottebakker, die ysterwarehandelaar met sy idiosinkratiese idees oor omgewingsbewaring en die verslete besemverkoper. Sy word deur mense se stories oorval. Al dink sy aanvanklik nie veel van hul persoonlike herinnerings nie, besef sy later dit is juis hierdie stories wat sin aan mense se bestaan gee. Die skaalmodel is ‘n wonderlike manier waarop interaksie tussen hede en verlede ondersoek word – prettig ondersoek word – want juffrou Visagie is snaaks.
Sy is kennelik intelligent, het baie museums besoek en gereis, maar is terselfdertyd baie beperk in haar denke, altyd op die praktiese ingestel en besonder onkreatief. Hoewel skreeusnaaks, is daar talle roerende momente omdat mense uit hul blyplek verwyder is om plek te maak vir iets wat uiteindelik sinloos en vernietigend is. Maar hierdie momente word altyd onderbeklemtoon en met soveel ironie hanteer dat dit nooit sentimenteel word nie. Die selfironiserende toon vermy die kanse dat enigiets té swaarwigtig word, al word ernstig oor tyd, die dood, menslike bestaan en oor die voortdurende vind van vars maniere om te bestaan nagedink.
Die roman huiwer op die grens tussen feit en fiksie, tussen dokumentêr en vermaak, maar bly enduit meesleurend. Daar word heerlik met die joernalistiek in ons land, die kommersialisering van alle aspekte van ons bestaan en met die literêre instellings gespot. Uiteindelik is die skaalmodel ‘n manier van onthou – soos wat grafstene ook maniere is waarop kontak met die verlede behou word. Maar sonder die stories wat by elke graf en by die skaalmodel pas, is ook hierdie “monumente” eintlik nutteloos. Die skaalmodel is ‘n roman oor onthou, oor die maniere waarop ons onthou want, in die woorde van een karakter: “Ons almal onthou dit dalk reg. Elkeen op sy eie manier.”
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.