Willie Burger kyk na Breyten Breytenbach se nuwe bundel, die na-dood
Willie Burger
Lank gelede het ‘n ouer kollega, wat reeds naby aftrede was, teenoor my bely dat poësie hom nie meer so opgewonde maak soos toe hy jonk was nie. Sedertdien vrees ek die dag wat ek dalk ook nie meer oor gedigte opgewonde gaan raak nie. Maar toe Breyten Breytenbach se nuwe bundel, die na-dood, op ‘n koue wintersoggend op my tafel beland, oorspoel ‘n ongekende opwinding my. Sommer met die oopmaakslag klop my hart al vinniger toe ek die opdrag lees: behier my hart, behiér – en laat wat buite is bedaar Die tien woorde maak soveel gewaarwordinge wakker dat ek duisel en vir my hart wil sê om te bedaar. Want herinner ons onself nie dikwels daaraan om die hart te laat bedaar nie? Maar Breytenbach skryf dat die hart moet “behier”.
Hierdie soort nuutskepping is kenmerkend van sy hele oeuvre. “Hier” word ‘n werkwoord, iets wat jy met jou hart kan dóén: jy kan jou hart “behier”. Te dikwels raak ons harte ontstig as ons met spyt, wrewel of verlange die verlede onthou, of as ons met vrees oor die toekoms dink. As die hart tog net hiér kan wees, sal dit wat daar buite is, wat die hart ontstel, weggehou word; “dáár” gehou word – en sodoende die hart laat bedaar. Natuurlik skiet my lang paragraaf, waarin ek iets probeer weergee van die Boeddhistiese gewaarwording wat daardie tien woorde oproep, heeltemal te kort, want so baie word deur dié paar woorde opgeroep.
In die eerste gedig, met die titel “opsomming”, word opgesom wat poësie vir Breytenbach is: hoedanigheid van digter te wil wees (behalwe die danigheid dan met woord- Willie Burger kyk na Breyten Breytenbach se nuwe bundel, die na-dood self) is om te laat deurskemer dat daar dit is wat nie gesê kan word en buite en agter die kadansdansery val soos verkluimende trekganse in die sneeu kyk hoe braaf is die digter dan om voort te ploeter in geleende vere as versinnebeelding van soeke na die hoedoenige van daardie dit wat nie bestaan nie soos die vlerkslae van sterwende voëls ekdigter: die voëlverskrikker wat iewers tussen die woorde woer-woer om te kan vlieg Die kenmerkende eienskap van ‘n digter is dat dit wat nie met woorde gesê kan word nie, op ‘n manier deur woorde ervaarbaar gemaak word.
Die gedig is soos ‘n dans, en deur die ritme, die beweging van die woorde, begin die leser om iets te ervaar wat tot dusver nie bestaan het nie. Die taal is net “geleende vere” waarmee die digter speel en dan raak iets tussen die dooie woorde tóg lewendig en vlieg. Die woorde en uitdrukkings wat ons almal elke dag gebruik, kan slegs aan die bekende wêreld uitdrukking gee. Wanneer hierdie woorde in ‘n gedig ingespan word, skemer daar iets deur wat ánders is as dit wat gedink, verstaan, verbeel en waargeneem kan word met die woorde en tegnieke en kennis wat ons het; iets anders wat voorheen nie bestaan het nie. ‘n Sentrale tema in die bundel (soos in Breytenbach se oeuvre) is die dans. Om gedigte te lees is soos om te dans, die woorde het hul eie kadans, hul ritme, en wanneer ‘n mens dit lees en hoor, is dit ‘n gebeurtenis. Soos ‘n dans ‘n gebeurtenis is wat ophou wanneer die musiek stil word, kom die ervaring van die gedig ook ten einde wanneer ‘n mens klaar gelees het.
Die doel is nie om nou met ‘n betekenis agtergelaat te word nie. Dit was die ervaring van die gedig self waaruit die gewaarwordings geskemer het. Natuurlik het Breytenbach tevore al hierdie gedagte op baie plekke en op baie maniere beskryf. Maar hierdie opsomming, soos die hele bundel, is tog ‘n heeltemal nuwe ervaring. (Tussen hakies word ook gemeld dat die digter danig is met die woorde self – baie erg is oor woorde en doenig met woorde. Daardie betekenisse word uitgebrei deur “woordself” as een woord te skryf.
Die digter is ‘n self wat deur en in woorde tot stand kom. As ‘n mens oor jouself praat, kom daar ‘n “woordself” tot stand – dit is nie jy self nie, maar ‘n self wat in woorde beskryf word.) Ek blaai bewerig verder deur die bundel – daar is soveel om oor opgewonde te raak: liriese liefdesverse, verse oor die dood, die digkuns, geweld, politiek en menslikheid. Die idee van dans, reis en beweging is deurgaans teenwoordig. Daar is prosagedigte wat op die bekende Fascistiese pampoen voortborduur. Selde is Breytenbach se gedigte só helder, só liries, só meesleurend soos in hierdie bundel – sekerlik sy toeganklikste bundel sedert Die windvanger. Jammer, lesers, vir hierdie uitasemrelaas oor die bundel. Ek wou net my opwinding met iemand deel! Nou gaan ek eers verder deur die gedigte dans …
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.