Willie Burger kyk na kinderboeke wat kinders én grootmense vermaak
Willie Burger
Een van die belangrikste vereistes vir ‘n buitengewoon suksesvolle boek vir kinders is dat volwassenes dit ook moet kan geniet. Dikwels is dit immers ouers wat vir hul kinders voorlees en as ouers dit vervelig vind, gaan hulle vervelige voorlesers wees en die kans dat hulle ‘n boek weer en weer sal voorlees of dat dit met soveel entoesiasme gedoen sal word dat hul kinders dit geniet, is skraal.
David Walliams skryf die soort boeke wat kinders vermaak, maar wat ook volwassenes met ‘n half-skuldige en verleë glimlag op hul lippe meesleur. Die glimlag verskyn onwillekeurig omdat die boeke so snaaks is, maar dis ‘n halfskuldige en verleë glimlag omdat so baie van “volwassenes” (dalk eerder “grootmense”?) se vooroordele en stompsinnige, ingeburgerde waardes ontmasker word. Walliams word dikwels met Roald Dahl vergelyk en hy is ongetwyfeld tans die belangrikste kinderboekskrywer in Engels. Meer as 40 miljoen eksemplare van sy boeke is al in Brittanje verkoop! Hy is ook met die National Books Awards Chidren’s Book of the Year-prys in bekroon.
Ouma is ‘n kroek en Rotburger is twee van Walliams se boeke wat verlede jaar in Afrikaans verskyn het. Pas is nog twee boeke by Protea uitgegee. Mnr Stink en Boudebiljoenêr is al twee deur Kobus Geldenhuys in ‘n sprankelende Afriikaans vertaal. Geldenhuys was ook die vertaler van sommige Harry Potter-boeke en van talle Roald Dahl-boeke en hy is al vir sy voortreflike vertalings van onder meer die gewilde reeks “Draak-boeke” (Hoe om jou draak te tem, Hoe om Drakonees te praat) deur Cressida Cowell bekroon. Vertalers kry nie altyd die eer wat hulle verdien nie, en dit is belangrik om Geldenhuys se vertaling hier te noem. Natuurlik is ‘n goeie vertaling van enige boek noodsaaklik. In Cervantes se Don Quixote word opgemerk dat om ‘n vertaling te lees, baie ooreenkom daarmee om ‘n groot tappiserie van die agterkant af te bekyk – jy kan nog die prent herken, maar daar is baie knope en los draadjies wat dit beslis nie so indrukwekkend soos die voorkant laat lyk nie.
Daar gaan altyd iets in ‘n vertaling verlore. Maar vertalings kan ook op kreatiewe manier met die taal omgaan en iets nuuts tot stand laat kom, wat kan toevoeg tot die taal waarin vertaal word, en tot die boek wat vertaal word. Geldenhuys se vertalings kry dit reg om die oorspronklike aweregsheid, pret en vonkel wat die Engelse werk van Walliams kenmerk, te behou. Hy voeg egter ook iets opwindends toe – veral tot die Afrikaanse kinderboek. Taalgebruik staan natuurlik in elke goeie teks voorop – dit is die taal wat die opwinding skep, wat die leser meesleur, wat varsheid bring: die klank van woorde, die ritme van sinne, die ongewone kombinasies van woorde of dele van woorde, die uitbuiting van verskeie betekenismoontlikhede van een woord en die nuutskeppings is onontbeerlik vir ‘n suksesvolle boek, maar veral vir ‘n kinderboek.
Uiteraard is interessante karakters ook nodig (en die boemelaar, Mnr Stink, wat weier om die vyf pond te neem wat Chloe hom aanbied, ís ‘n psigologies boeiende karakter) en is talle verrassende wendings in ‘n goed-vertelde verhaal onontbeerlik. Maar die sukses van ‘n goeie storie en boeiende karakters hang in die eerste plek af van die taal waarin dit aangebied word. Joe Spud (die “Boudemiljoenêr) is die rykste 12-jarige mens in die wêreld wat alles kan koop wat ‘n 12-jarige maar oor kan droom. Maar hy het nie ‘n vriend nie en probeer sy bes om vriendskap te koop. Chloe gesels met die stinkste van alle stink mense in die wêreld, die boemelaar wat bloot as “mnr. Stink” bekend is. Hy help haar om van die “loser”-papier wat op haar rug geplak is, ontslae te raak al lyk hy self soos die grootste “loser” in die samelewing. Walliams se boeke sprankel, betower, is vrek snaaks en die talle verspottighede op elke bladsy, wat dikwels die grense van fatsoenlikheid uitdaag (en juis daarom so snaaks is), hou ‘n mens aan die lees. Uiteindelik is daar egter ook – sonder om daardie doodsonde van enige kinderboek te pleeg, naamlik om ‘n “les” vir kinders te probeer leer – veel wat kinders (en volwassenes) oor menswees in hierdie prettige, stout boekies kan ontdek.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.