Willie Burger kyk na Leon van Nierop se boek oor flieks van toeka tot nou
Willie Burger
Leon van Nierop is ongetwyfeld die bekendste Afrikaanse rolprentresensent wat sy kundigheid en menings oor flieks al dekades lank met fliekgangers deel. Hy ken die rolprentbedryf egter ook van “binne”, onder meer weens sy betrokkenheid as die draaiboekskrywer van flieks soos Ballade vir ‘n enkeling en Wolwedans in die skemer.
Verder het dié bekende radio- omroeper en aanbieder van Daar doer in die fliek op kykNET oor jare heen ook baie mense in die rolprentbedryf leer ken en hy het as dosent aan Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Rolprentakademie ook sy kennis oor rolprente gesistematiseer. Van Nierop skryf meer as wat die meeste mense lees. Benewens die stroom weeklikse rolprentresensies vir radio en die gedrukte media skryf hy draaiboeke vir die radio en televisie (dink maar aan Ratels, Wolwedans in die skemer en Ballade vir ‘n enkeling) waarvan hy sommige tot romans en rolprente verwerk terwyl hy tussendeur ook romans (soms onder ‘n skuilnaam) skryf.
Hierdie agtergrond maak Van Nierop die ideale persoon om ‘n geskiedenis van die Afrikaanse rolprentbedryf (wat een van die oudstes ter wêreld is) te skryf. Soos alle geskiedenisse is Daar doer in die fliek ‘n verhaal. Van Nierop gaan haal die verhaal reg aan die begin van die heel eerste flieks wat in die 19de eeu in Suid- Afrika vertoon is en die eerste nuusfilms wat tydens die Anglo-Boere-oorlog geneem is. Sy storie eindig met besprekings van flieks wat in 2016 verskyn.
Eintlik vertel Van Nierop twee stories: Aan die een kant is Daar doer in die fliek die verhaal van die “tegniese ontwikkeling” in die (Afrikaanse) fliekbedryf, van hoe die eerste lomp pogings om rolprente te maak met ongemaklike, swaar toerusting, geleidelik ontwikkel het met al meer gesofistikeerde toerusting, maar ook al beter maniere om Willie Burger kyk na Leon van Nierop se boek oor flieks van toeka tot nou stories met bewegende beelde te vertel. Waar van die oudste Afrikaanse rolprente eintlik weinig meer as verfilmde verhoogstukke was – met hopeloos te veel, gedrae dialoog en ‘n statiese kamera wat die óórspelende akteurs afneem – het rolprentmakers geleidelik die filmmedium beter leer gebruik, begin om die beelde te vertrou om die verhaal te vertel en toneelspel en dialoog het gaandeweg meer “natuurlik” geword (met verskeie terugslae – veral in die 1990’s). Aan die ander kant vertel Van Nierop ook ‘n storie van die ideologiese agtergrond van die Afrikaanse rolprente.
Die eerste Afrikaanse flieks was suiwer in diens van Afrikaner-Nasionalisme. Baie van hiervan is swaarwigtig en ernstig. Geleidelik is ook al meer flieks gemaak wat op vermaak gerig is – veral slapstick-komedies en later ook talle “musiekrolprente” wat, soos Van Nierop aandui, dikwels ‘n dun verhaaltjie gebied het as verskoning vir ‘n verskeidenheidskonsert met bekende sangers met mooi gesiggies as (dikwels swak) akteurs. Benewens die oorvloed komedies en musiekprente is ook talle “Christelike” of “inspirerende” flieks vervaardig (veral deur CARFO-films). Maar een ding is duidelik – tot in die 1960’s en met uitsondering van Jans Rautenbach se Die kandidaat, het verreweg die meeste Afrikaanse rolprente nie enigsins die sosio-politieke realiteit van die land – rasverhoudings, die apartheidsbestel, seks, of godsdiens in die Afrikaanse samelewing – grondig probeer ondersoek nie.
Veel eerder moes flieks Afrikaanse kykers ontsnappende vermaak verskaf om juis nie oor hierdie sake na te dink nie of om die “Christelik-nasionale” waardes te ondersteun. Dié waarin gepoog is om werklik krities na ons samelewing te kyk, of om selfs net ‘n realistiese blik op die samelewing te bied, het telkens onder streng sensuur deurgeloop of by die loket misluk. Van Nierop se geskiedenis bied daarom ‘n interessante blik op die Afrikaanssprekende gemeenskap. Hy verklaar ook aan die hand van hierdie agtergrond die talle swak en platvloerse flieks wat sedert die 1990’s in Afrikaans gemaak is en wat volgens hom aan Afrikaanse flieks (en Afrikaners?) ‘n swak naam gegee het.
Die twee stories van die “tegniese ontwikkeling” en die “ideologiese verskuiwings” word bedrewe verweef en enigeen wat bitter min van die rolprent as medium weet, sal ná die lees van hierdie boek sommer baie meer van die filmkuns verstaan. Basiese aspekte van kamerahoeke en snyskote, van redigeringstegnieke en klankbane tot toneelspel word op boeiende manier betrek. Die rolle van almal wat tot die maak van flieks bydra, kry tussendeur aandag, sonder om die vaart van die storie van die rolprent te onderbreek. Van Nierop gee ook aandag aan die persoonlikhede van die Afrikaanse rolprentgeskiedenis met vele anekdotes oor en deur legendes soos Jamie Uys, Al Debbo, Jans Rautenbach en Katinka Heyns.
Die besprekings van veral die ouer flieks is dikwels nie vry te spreek van ‘n nostalgiese streep nie. Maar Van Nierop noem sy boek immers ‘n “persoonlike blik” op die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent en hierdie nostalgie sal juis baie lesers meesleur. Aan die einde is daar ‘n lys van die meeste Afrikaanse flieks volgens die jaar waarin hulle verskyn het, plekke waar mense dit kan kry en enkele persoonlike gedagtes oor resensies. Dit is jammer dat die uitgewers nie ‘n indeks met persoonsname en rolprenttitels ook ingesluit het nie. Dit sou van hierdie vermaaklike en insiggewende geskiedenis ook ‘n gerieflike naslaanbron gemaak het.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.