Willie Burger kyk na boeke wat net betyds is vir die Kersvakansie
Chanette Paul se Offerande het betyds vir die Kersvakansie verskyn. Almal wat na die opvolg op Offerlam uitgesien het, sal baie bly wees. Dit is die soort boek waarmee jy graag op ’n handdoek met jou tone in die sand of in ’n hangmat wil lê!
Offerande het alles wat jy van Chanette Paul verwag: spanning, raaisels wat verdiep, ’n klomp verrassende ervarings wat vinnig op mekaar volg, karakters vir wie ’n mens omgee en oor wie se lot ’n mens jou bekommer. Soos in daardie eindelose advertensies, wil ek nog byvoeg: “Maar dis nie al nie!” Want Offerande is, soos die eerste deel van die “Offer”-tweeluik, ’n roman wat ook met die verlede gemoeid is.
Soos Offerlam, speel die gebeurtenisse in België, die Demokratiese Republiek van die Kongo en in Suid-Afrika af en in die proses kom die leser heelwat te wete oor die geskiedenis van hierdie lande en word dit vir dié lesers wat nie ’n kans het om na die DRK of België te reis nie, ook die kans om iets van hierdie lande te ervaar. Paul het immers ’n besonderse vermoë om atmosfeer en ruimte te skep. Offerande is meesleurende fiksie, maar ’n akademiese ondersoek vanuit ’n postkoloniale oogpunt sou ook interessant wees. Al is dit natuurlik geen roman wat soos Elsa Joubert se werk ernstig besin oor die posisie van witmense in Afrika nie, bied Offerande deur Caz Colijn se ervaring van haarself in Afrika, ’n baie spesifieke “wit” ervaring van Afrika.
Paul skryf byna vinniger as wat baie mense kan lees. Haar skryfwerk is ook nie tot een genre beperk nie. Die “Offer”- boeke met hul historiese wortels in België en die DRK, is iets heeltemal anders as byvoorbeeld haar boeke oor die Davels of Maanschijnbaai. Hierbenewens is haar speurverhale – die Gys Niemand-reeks – ook baie gewild. Die tweede boek van die vyf Gys Niemand-boeke, Fortuin, is pas vir ’n derde keer uitgegee. As jy van spannende speurverhale hou en nog nie met Gys Niemand kennis gemaak het nie, kan jy gerus ook Fortuin in jou strandsak druk.
Chris Karsten het, sedert Frats in 2007 verskyn het, vinnig een van die gewildste spanningsverhaalskrywers in Afrikaans geword. Sy reeks Abel-boeke, Abel se ontwaking (2010), Abel se Lot (2011) en Die afreis van Abel Lotz (2012) het Karsten ’n entoesiastiese lesersgevolg gevestig. Met ’n Man van min belang (2013) het sy werk ook onder die aandag van ’n wyer lesersgehoor gekom, omdat dié roman die grense van die spanningsverhaalgenre verskuif het.
’n Man van min belang het immers die Suid-Afrikaanse werklikheid deur middel van ontspanningsfiksie verken – soos wat Mike Nicol en Deon Meyer dit ook soms doen. Lesers van misdaadfiksie hou van reekse waarin dieselfde, bekende speurder betrokke is. Sherlock Holmes was seker die eerste en bekendste speurder wat in ’n hele reeks boeke verskyn het. Raymond Chandler se speurder, Philip Marlowe, staan sekerlik pa vir ’n groot klomp speurders in baie ander skrywers se werk. ’n Mens herken iets van hierdie drinkende speurder in Deon Meyer se gewilde Bennie Griessel. Stieg Larsson se Mikhael Blomkvist en Lisbeth Salander is ook sulke speurders wat oor die boeke heen (die sogenaamde Milleniumtrilogie) in die geheue van lesers ingegrif is.
Chris Karsten se Ella Neser is ook só ’n gewilde speurder. Sy het reeds in die Abeltrilogie gewild geraak met haar onverbiddelike deursettingsvermoë op die spoor van Abel. Verlede jaar het sy teruggekeer in Die verdwyning van Billy Katz en nou kan ons haar wedervarings verder volg in die spannende Die dood van ’n goeie vrou. Die voordeel van sulke reekse is dat ’n mens sommer maklik in die nuwe boek betrokke raak. Jy is al vertroud met die speurder se geaardheid en unieke persoonlike gewoontes, tekortkominge en probleme. Jy is sommer klaar betrokke en nuuskierig om te sien hoe sy hierdie keer die probleme gaan oplos. En Karsten hou jou enduit aan die raai.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.