Willie Burger kyk na Albert Blake se nuwe boek, Broedertwis
Willie Burger
Die woord verraad is seker een van die mees emosiebelaaide woorde. Om iemand te verraai, of om ‘n saak of ‘n groep of ‘n land te verraai, word dikwels as een van die laakbaarste menslike handelinge beskou. Die woord “held”, veral wanneer dit in die konteks van ‘n “volksheld” gebruik word, ontlok eweneens sterk emosies.
Met sy Boereverraaier (wat ook tot ‘n rolprent, Verraaiers, verwerk is) het Albert Blake reeds ‘n komplekse blik op die idee van verraaiers tydens die Anglo-Boereoorlog gewerp. In sy nuutste boek, Broedertwis. Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet, werp die bekroonde niefiksieskrywer ‘n genuanseerde blik op die dikwels té eenvoudige onderskeid tussen held en verraaier. In die geskiedskrywing wat op die Anglo-Boereoorlog gevolg het, is daar min Boeregeneraals wie se lof so dikwels besing is as dié van generaal Christiaan de Wet.
Skole en strate in baie dorpe en stede is na hom genoem. Jy sal egter tevergeefs soek na ‘n skool of straat wat na sy broer, Piet de Wet genoem is, want in dieselfde nasionalistiese geskiedskrywing is Piet de Wet as “joiner” verguis. Meer as ‘n eeu ná die Boereoorlog is dit moontlik om met minder emosie en meer gebalanseerd na die twee broers se bitter twis te kyk. Blake rekonstrueer uit die goed-gedokumenteerde lewe van Christiaan de Wet en die minder gedokumenteerde lewe van Piet de Wet die twee broers se ervarings en idees. Al twee die broers was natuurlike leiers. Hulle het saam in die Vrystaatse Volksraad gedien en het albei generaals geword.
Voor die oorlog het hulle saam gewerk en hulle het tydens die eerste Vryheidsoorlog skouer aan skouer geveg. Uiteindelik het hulle egter in totaal verskillende kampe geval. Al twee het, as stoere gelowiges, hul eie posisies vanuit die Bybel geregverdig en ook hul oordeel oor die ander daaruit gemotiveer (selfs tot lank ná die oorlog!). Blake volg die broers (onderskeidelik die sesde en negende van 14 De Wet-kinders) se harde vormingsjare in ‘n tyd van talle oorloë en swaarkry in die suidoostelike Vrystaat. Piet was ‘n groot en besonder aantreklike man van langer as 1,9 meter, hoflik en goedgemanierd, terwyl sy ouer broer, Christiaan, byna ‘n kop korter was, humeurig, onaantreklik en boonop kortaf en dikwels ongeskik.
Die invloed van hul onderskeie vroue, hul uiteenlopende reaksies op die trauma van geweld en hul verskillende waardes en persoonlikhede word sorgvuldig deur Blake ontleed om te probeer verstaan hoedat die bitter kloof tussen die broers ontstaan het. Piet se redes om ‘n hendsopper te word, sowel as die motivering agter Christiaan se onversetlike bittereinderskap word noukeurig deur Blake bespreek. Hy redeneer dat ‘n mens nie sommer teen die agtergrond van hedendaagse waardes oordele oor die twee broers kan uitspreek nie. Hy verwerp die idee wat deur Max du Preez geopper is dat ons eerder vir Piet de Wet as ‘n held behoort te beskou omdat hy eintlik die soort van visionêre gedrag van ‘n Beyers Naudé en ‘n Bram Fischer openbaar het. Maar Blake pleit ook daarvoor dat die eenvoudige verguising van Piet de Wet en die blinde heldeverering vir Christiaan de Wet laat vaar moet word.
Hy bied op oortuigende wyse die kompleksiteit van elk van die broers se besondere omstandighede aan en verduidelik dat nie een van hulle sonder meer eenvoudig as held of as verraaier beskryf kan word nie. In die proses bied Blake insig, nie slegs in die historiese situasie van die broers nie, ook nie slegs ‘n perspektief op die kompleksiteit van die situasie tydens die Boereoorlog nie, maar eintlik ook op die ingewikkelde idee van verraad en op die gevolge van ‘n onversetlike aanhang van ideologie. Veral die komplekse verhouding tussen persoonlike belange en ‘n groep se belange kom ter sprake en die wyse waarop gedrag by nabaat gemotiveer en geregverdig word, is boeiend. Soos met sy vorige boeke (Boereverraaier en Boerekryger) bied Blake met Broedertwis ‘n meesleurende leeservaring. Selfs al begin jy so bietjie langtand lees omdat jy nie lus is vir nóg vertellings uit die ou stowwerige geskiedenis nie, vind jy jouself van meet af aan in ‘n boeiende vertelling ingetrek. Die boek herinner aan Jacob Dlamini se Askari, waarin verraad en die emosies daar rondom en die verwoestende effek van oordeel in ‘n gemeenskap, ook ondersoek word
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.