Willie Burger kyk na Schalk Schoombie se nuwe roman, Boomkastele
Willie Burger
Verlede jaar het Harry Kalmer se roman Duisend stories oor Johannesburg verskyn. Soos die titel suggereer, speel die Goudstad ‘n sentrale rol in die roman. In ‘n sekere sin is die roman ‘n verkenning van Johannesburg aan die hand van stories wat inwoners van die stad vertel en van hul verweefde belewenisse. Die stories van rykes en armes, vlugtelinge, terugkerendes en van dié wat al geslagte lank in Johannesburg woon, geweldenaars en slagoffers van geweld word in hierdie roman vervleg.
Pas het daar weer ‘n roman verskyn waarin Johannesburg sentraal staan. Schalk Schoombie se Boomkastele word op die buiteblad as "’n sprokie vir ‘n stadsmens" beskryf en daarmee sluit dit op ‘n sekere manier by Kalmer se Duisend stories oor Johannesburg aan wat op die buiteblad as ‘n "stadsroman" beskryf word.
In die "proloog" tot Boomkastele word ‘n deel van ‘n Johannesburgse woonbuurt soos dit uit die lug uit waargeneem word, beskryf. Die huise, die bome, die strate die winkels word deur ‘n steeds wyer-wordende lens waargeneem – byna soos ‘n mens dit met Google Earth sou sien. Die woonbuurt word as ‘n gewone rustige buurt beskryf: "Nie welgesteld nie, ook nie ‘n krotbuurt nie. Nie poskaartmooi nie, nie ‘n industriële woestyn nie. ‘n Ouerige deel van die dorp wat eintlik soebat om anoniem te bly. Die soort plek waar almal brand om pad te gee, onrustige tieners, sowel as afgetredenes."
Die belangrike is egter dat hierdie blik uit die lug, van ‘n afstand af, byna soos ‘n kaart word en kaarte gee afstand, bied ‘n abstrakte prentjie van ‘n samelewing wat saam leef, saam sterf, saam én apart. Só ‘n abstrakte blik kan nie al die gewone ervarings van gewone mense, hul alledaagse dramatjies en hul ondramatiese ervarings weergee nie. Dit is ook in hierdie sin dat Boomkastele ‘n mens tóg aan Kalmer se roman herinner – dat daar agter die abstrakte blik op ‘n groot stad soos Johannesburg, duisende stories is wat op vertelling wag.
Johannesburg se stories word natuurlik al oor baie jare in talle romans en memoires vertel, waaronder Ivan Vladislavic se The Restless Supermarket en Portrait with Keys, Phaswane Mpe se Welcome to our Hillbrow en Marlene van Niekerk se Triomf seker van die bekendstes is. Kleinboer het in sy roman Kontrei veral aan die hedendaagse Yeoville lewe gegee, terwyl Chris van Wyk se memoires, Shirley, Goodness and Mercy en Eggs to Lay, Chickens to Hatch (ook in Afrikaans vertaal as Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê)’n onvergeetlike beeld van Riverlea gee. In Jacob Dlamini se Native Nostalgia word die townships van die Oos-Rand in herinnering geroep en die joernalis Mark Gevisser se Lost and Found in Johannesburg is al as ‘n verkenning van Johannesburg as ‘n "unieke kulturele ruimte" beskryf.
Schoombie se Boomkastele is aan die een kant ‘n vermaaklike verhaal van ‘n afgetrede navorser wat in die suide van Johannesburg (Alberton se kant toe) woon. Hy tel sonde met die bure op wanneer die buurman twee statige en groot bome tussen hul erwe laat afkap. Hoewel sy wraak op die buurman dikwels snaaks is, word sy versameling van koerantberigte en sy liefde vir sprokies en vir bome, vir die stories van bome en van mense en mense se pogings om die wêreld meer verstaanbaar te maak, ook ‘n ernstiger besinning oor die lewe.
Boomkastele is egter nie slegs die verhaal van ‘n voorstedelike vete tussen ‘n eksentrieke man en sy moeilike buurman nie. Dit is ook ‘n soort speurverhaal wanneer die navorser se dogter probeer om ‘n graffiti-kunstenaar wat oral in Johannesburg prente van Da Vinci se Vitruviaanse man teken, te ontmasker. Die taak kos haar uiteindelik haar werk, maar sy word ook beloon. In die proses word verskeie dele van Johannesburg, soos Hillbrow en Braamfontein, ook beskryf.
Boomkastele bied prettige leesvermaak, maar dit word ook ‘n ernstiger ondersoek van menswees en van mense se pogings om sin van ons wêreld te maak – die voortdurend uitdeinende versameling van wetenskaplike kennis blyk nie antwoorde op alle vrae te bied nie en steeds is stories nodig om mekaar en al die raaisels van die lewe te probeer verstaan.
Eintlik kry ‘n mens lus om al die plekke te besoek wat in hierdie en in ander genoemde boeke oor Johannesburg beskryf word. Dit laat ‘n mens voel asof die stad ‘n veel ryker plek is, en dit maak ‘n dieper ervaring van ons wêreld moontlik.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.