Al lag jy jou soms dood oor wat in die roman gebeur, en veral vir die karakters se dialoog, laat die duiselingwekkende snelheid en intensiteit van al die gebeurtenisse jou ook in ’n staat van skok
Seks, mag, liefdestrou, liefdesontrou, woede, jaloesie, moord en lojaliteit maak seker nog van altyd af die kern van byna alle stories uit. Daarom neem dit ’n buitengewoon goeie verteller om hierdie bestanddele op só manier te skommel dat ’n leser regop sit. Tinus Horn se eerste roman in 18 jaar, Bomskok, tref die leser soos ’n bom. Al lag jy jou soms dood oor wat in die roman gebeur, en veral vir die karakters se dialoog, laat die duiselingwekkende snelheid en intensiteit van al die gebeurtenisse jou ook in ’n staat van skok. Die verhaal speel in 1989 af – die jaar voordat die ANC ontban en Mandela vrygelaat is. Die noodtoestand het nog gegeld en die “struggle” teen apartheid was op sy felste – soos ook die polisie en weermag se onderdrukking daarvan.
Dit was ’n donker tyd. Dit was egter ook ’n baie opwindende tyd – veral vir ondersoekende joernaliste wat, ten spyte van intimidering deur die veiligheidspolisie, vasbeslote probeer het om te berig oor alles wat in die land aan die gang is. Die laat 1980’s was die tyd van die Vrye Weekblad en die Voëlvrytoer – die koerant en die musiek wat destyds ’n tuiste gebied het vir Afrikaners wat hulle nie met die apartheidsregering wou identifiseer nie. Byna al die karakters in die roman is redaksielede van Vryheid op Vrydag, ’n linkse Afrikaanse koerant. Hoewel die roman fiksie is en ooreenkomste met die werklikheid uitdruklik ontken word, sal die meeste lesers verbande lê tussen Max du Preez se Vrye Weekblad (wat ook op Vrydae verskyn het) en die fiktiewe redakteur in Bomskok, Tom, se Vryheid op Vrydag. Die sentrale spanningslyn draai om ’n “groot storie” wat Vryheid op Vrydag wil publiseer. Dit is ’n storie oor die geheime polisie wat die regering van FW de Klerk groot skade kan berokken.
Hoewel die presiese inhoud van die “groot storie” nooit heeltemal uitgespel word nie, herinner dit aan die soort onthullings oor polisiemoordbendes en oor Vlakplaas wat destyds in die Vrye Weekblad verskyn het. Tom is bereid om enigiets te doen ten einde hierdie “groot storie” in die hande te kry en te publiseer, al pla sy gewete hom soms en al wonder hy “wie en wat hy verraai” het vir seks en vir ’n storie. Hierdie sentrale storielyn is egter ’n skraal geraamte waaraan ’n klomp ander verhale gekoppel word. Die lewe van elke redaksielid word betrek. Enersyds lees ’n mens van sommige se opregte pogings om onthullende stories te skryf as bydrae tot die struggle, van hul onderlinge mededinging en obsessie met redaksionele versorging van ’n hoë standaard (wat dikwels skreeusnaakse gesprekke oplewer).
Andersyds word hul persoonlike lewens ook betrek: hul liefdes- en sekslewens. Hierdie stories is dikwels baie snaaks, soos Jas, die hardgebakte joernalis wat in die geheim sentimentele liefdesverhale onder die skuilnaam Saskia Winter vir Sarie skryf. Hy wip telkens van die skrik as iemand anders in die kantoor net die woord Sarie noem, uit vrees dat iemand van sy soetsappige stories weet. Die snaaksigheid kry egter ’n droewige draai wanneer ’n mens besef al sy stories is eintlik hervertellings van die storie van sy eie liefdesteleurstelling. Horn se benutting van perspektief is ’n kragtoer. Deur die leser telkens toegang tot elke karakter se gedagtes, sonder ’n eksterne verteller se perspektief, te gee, kry die roman ’n opwindende voortsnellende gevoel wat die leser meevoer.
Die snelafwisselende perspektiewe (soms wissel die perspektiewe van paragraaf tot paragraaf) skep ’n chaotiese, angstige wêreld waarin geen objektiewe punt, geen vaste waarheid, iewers uitstaan nie. Net perspektiewe bly in ’n tyd waarin almal eintlik aan bomskok ly. (“Bomskok” kry ook ’n letterlike betekenis wanneer die veiligheidspolisie ’n bom by die koerant plant en mense sterf.) Die woede wat sommige karakters dryf (Dala, Brandt), die suiwer ambisie (Tom), of die ervaring van kameraadskap blyk duidelik uit die karakters se optrede en hul waarnemings. Maar dit word telkens ook hartroerend om die eensaamheid, die onsekerheid, die behoefte aan nabyheid en broosheid by elkeen te sien. Dit maak van die karakters oortuigende mense.
Deur die blootlegging van al die persoonlike motiverings word die romantiek rondom ondersoekende joernalistiek en die edele motiewe oor joernalistieke ideale en deelname aan die struggle ondermyn. Humor is een van die sterkste ondermynende wapens tot ’n skrywer se beskikking. Humor slaag daarin om alles wat met sware erns beskou word, soos joernalistieke integriteit, die liefde, die dood, seks, selfdood en die anti-apartheidstruggle, met dubbelsinningheid aan te raak wat ’n ander blik daarop open. Horn is die meester van bondige, skreeusnaakse opmerkings waarin daar telkens ’n diepsnydende lewenswaarheid skuil. Een van die redaksielede, Emma, laat haar soos volg oor die onomkeerbaarheid van seks uit: “As jy genaai het, het jy genaai. Vra my. Daar is hoeveel naaie wat ek wil ontnaai, en ek kan nie.” Horn het ’n baie opwindende tyd – seker die opwindendste tydperk in Afrikaanse joernalistiek – hier ontluister, maar tog óók gevier; ’n donker tyd in die geskiedenis tasbaar opgeroep, maar vermaak tog óók.
Bomskok word deur Penguin uitgegee