Willie Burger kyk na twee vroue se boeiende biografieë
Willie Burger
Toe die studente aan die Universiteit van Kaapstad vroeër vanjaar geëis het dat die standbeeld van Cecil John Rhodes van die kampus verwyder moet word, het hulle verset steun gekry van ‘n vrou uit Kuba: Assata Shakur.
Assata Shakur het in 2013 die eerste vrou in die geskiedenis geword wat die Amerikaanse FBI se lys van "mees gesoekte terroriste" gehaal het. Haar ope brief aan die studente van UCT het in koerante verskyn. Hierin noem sy haarself ‘n "ontsnapte slaaf uit die 20ste eeu" en sy waarsku studente om nie witmense te vertrou nie maar altyd in opstand te kom teen alle vorms van wit oorheersing.
‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Assata Shakur se outobiografie, The FBI’s most wanted woman is verlede jaar deur BestRed uitgegee. Dit vertel die lewensverhaal van hierdie Afro-Amerikaanse aktivis in afwisselende hoofstukke. In die hoofstukke met ewe getalle, vertel sy die verhaal van haar kleintyd en haar grootwordjare, en in die onewe hoofstukke vertel sy van gebeurtenisse uit haar latere lewe. Die eerste hoofstuk begin op dramatiese wyse met ‘n beskrywing van die skietgeveg tussen die Amerikaanse polisie aan die een kant en sy en van haar vriende aan die ander kant, in New Jersey in 1973.
Shakur was reeds in die 1960’s aktief in politieke bevrydingsbewegings in die VSA en was ‘n lid van die "Black Panther Party" en die "Black Liberation Army". Sy is van verskeie misdade beskuldig, waaronder bankrowe, ontvoering en moord. Sy is uiteindelik, na ‘n lang soektog, gevang en skuldig bevind, maar het in 1979 uit die tronk ontsnap. Sy was vir jare lank voortvlugtig en het uiteindelik in 1984 in Kuba gaan vestig waar sy politieke asiel ontvang het.
Haar outobiografie gee ‘n boeiende blik op die denke van ‘n rewolusionêr. Maar wat dit veral ‘n boeiende boek maak, en ook ‘n noodsaaklike een om deur Suid-Afrikaners gelees te word, is dat dit denke oor rassisme stimuleer. En om oor rassisme te dink, is absoluut noodsaaklik in ons land. Té maklik verval ons dikwels in hierdie land in allerlei stereotipes as ons dink oor ras, of ons is só politiek-korrek dat rassisme dikwels nie openlik bespreek word nie. Shakur se outobiografie bied ‘n blik op die denkwyses van mense wat ten diepste verontreg en uitgesluit voel – die psigologiese en sosiologiese gevolge word vanuit die denke en optrede en ervaring van een persoon duidelik. Dit is die soort leesstof wat baie mense sal kwaad maak, maar dit sal help om te bly lees, want dit kweek begrip – ook vir die situasie in ons land.
Pamela Nomvete is bekend vir haar rol as Ntsiki Lukhele, die geitjie van Generations. Maar min kykers ken hierdie begaafde aktrise – wat ook bekroon is vir haar rol in die film Zulu Love Letter – se lewensverhaal.
Nomvete se ouers was bannelinge. Haar pa het in die 1950’s aan die universiteit van Kaapstad studeer en het ‘n beurs gekry om in England aan die Universiteit van Manchester sy studies voort te sit. In hierdie tyd is hy en sy vrou vebied om na die land terug te keer. Pamela is in Ethiopië gebore waar haar pa vir die Verenigde Nasies gewerk het en later het hulle ook in verskeie ander lande gewoon – onder meer in Boston in die VSA en in Zambië – maar uiteindelik het sy haar skoolopleiding grootliks in England ondergaan. In England is sy ook as aktrise opgelei en het vir 10 jaar op Britse verhoë haar lewe gemaak.
Pamela het vir die eerste keer in April 1994 na Suid-Afrika gekom om aan die verkiesing deel te neem. Maar dit was ook vir haar ‘n soort pelgrimstog na die land waarvan sy altyd geweet het, waarvan sy op ‘n manier altyd deel was, maar waar sy nog nooit gewoon het nie.
Ons is gewoond aan lewensverhale van aktrises wat iewers uit ‘n armoedige agtergrond kom en wat talle groot struikelblokke moet oorkom voordat hulle uiteindelik raakgesien word en sukses behaal. Nomvete se eerlike verhaal verloop net mooi andersom: Sy begin haar loopbaan op ‘n suksesvolle noot op Londonse verhoë en word ‘n ster in die Suid-Afrikaanse reeks, Generations. Maar geleidelik gaan alles agteruit – haar huwelik verbrokkel, sy worstel met verslawing en woon later in haar kar in Johannesburgse strate.
Uiteindelik is dit vir haar nodig om haarself deeglik te leer ken, om vrede te maak met haar afkoms en haar plek in die wêreld. Dit is ‘n lang en moeisame proses. Maar die boek, Dancing to the Beat of the Drum en deur Kwela uitgegee, is nie so lank nie en glad nie moeisaam om te lees nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.