Willie Burger gee ’n oorsig oor die boeke Askari en Eugene de Kock –
Sluipmoordenaar van die staat
Willie Burger
Om’n Suid-Afrikaner te wees,is ingewikkeld. Ons leef in’n land met ongelooflik hoëvlakke van geweldsmisdaad,’n land waarin korrupsie, so wil dit somslyk, buite beheer is en waarin wetteloosheidskynbaar toeneem.
Ons is een van die lande in die wêreld waarin die grootste gaping tussen ryk en arm voorkom.Terselfdertyd is dit ‘n land waarin die meeste mense van die behulpsaamheid en vriendelikheid van mede landsburgers kan getuig.Byna elke week is daar iewers in diel and protesoptogte wat dikwels gewelddadig raak. Eise vir groter insluiting in die ekonomiese welvaart, vir toegang tot water, sanitasie en elektrisiteit, vir die kans op ‘n goeie opvoeding en vir genoegsame salarisse oorheers die daaglikse nuusberigte.
Telkens is daar opnuut agterdog en haat oor kleurverskille tussen mense, oor bevoorregting en diskriminasie. Ons is nou al meer as 20 jaar in die nuwe bedeling ná die“einde van apartheid”, en steeds leef ons nie eens naastenby in ‘n land waar velkleur nie ‘n sentrale rol speel nie. Dit is duidelik dat die lang en bloedige geskiedenis van ons wye en droewe land nie sonder meer in 1994 met ‘n streep kon eindig sodat alles skoon en nuut kon begin nie. Só ‘n moontlikheid bestaan nie. Maardie groot vraag, wat baie Suid-Afrikaneers hulself daagliks bly vra, is hoe om met daardie verlede, met ons eie verlede, tot ‘n vergelyk te kom.
Een van die indringendste ondersoeke na hierdie vraagstuk is te vind in Jacob Dlamini se nuutste boek, Askari. In hierdie deeglik nagevorsde en meesleurende boek skryf Dlamini die verhaal van Glory Sedibe,’n “verraaier” (“askari”). Verraad is ‘n daad wat baie diep wond en onuitwisbare letsels laat – dink maar aan die emosies wat meer as ‘n eeu ná die Anglo-Boere-oorlog deur Albert Blake se boek Boereverraaier oopgekrap is. Hoe kan een persoon jare lank ‘n lojale en suksesvolle lid van die ANC se militêre vleuel wees en dan omswaai en vir net soveel jare met oënskynlik dieselfde lojaliteit vir die NPregeringse Militêre Intelligensie-eenheid werk – nogal in die berugte Vlakplaas-eenheid van Eugene de Kock wat vir die dood van soveel anti-apartheidsvegters verantwoordelik was?
Jacob Dlamini het reeds met sy eerste boek, Native Nostalgia (2009), getoon dat hy oor buitengewone skryftalent en oor ‘n oorspronklike manier van kyk beskik. Dlamini het gewys dat hy nie bloot met die algemene opvattings oor die verlede tevrede is nie; dat herinnering gans te ingewikkeld is om sommer ligtelik daarmee om te gaan. Met Askari vermy hy weer eens enige maklike definisies en alle eenvoudige beskouings van ingewikkelde begrippe soos verraad. Hy wys hoedat die verhoudings tussen mense nooit sonder meer deur ras of gesinsbande of persoonlike lojaliteit bepaal word nie, maar dat talle ander bandeen situasies meewerk in ‘n ontsettend komplekse veelheid van faktore wat mense se optrede bepaal.
Hy vertel die enkelestorie van Glory Sedibe,’n askari wat eens uit liefde vir sy broer die ANC lojaal gedien het, daarna talle van sy makkers verraai het en vir MI gewerk het totdat hy sy “nuttigheid” verloor het en sonder enige vriende, uitgeskuif, verlore, en “elimineerbaar” geword het. Dlamini beskou dit as slegs een van die talle verhale van ons nasie se mense. Hyglo ook tereg dat nog veel meer sulke verhale vertel behoort te word om ons te help om ‘n greep op ons komplekse verlede te kry – wat ons in staat sal stel om die hede beter te verstaan en die toekoms in ‘n ander rigting te kan stuur.
Daarom is dit ook goed om terselfdertyd sommer Annemari Jansen se boek Eugene de Kock – Sluipmoordenaar van die staat te lees. Oor De Kock is daar natuurlik al baie geskryf – ondermeer destyds in Jacques Pauw se eerste onthullings oor Vlakplaas in Die Vrye Weekblad en later in sy boek Into the Heart of the Darkness: Confessions of Apartheid’s Assassins. Die aangrypende boek deur Pumla Gobodo-Madikizela A Human Being Died that Night was eweneens ’n roerende vertelling oor De Kock. Wat Jansen se boek die lees werd maak, is dat sy meesterlik daarin slaag om De Kock se eie stem te laat hoor.
Die manier waarop Jansen vir De Kock as mens, eerder as bloot sluipmoordenaar en wreedaard, in hierdie boek gestalte gee, is soortgelyk aan die manier waarop Dlamini daarin slaag om Sedibe se verhaal as mens, en nie net as askarinie, te vertel. Uiteindelik word dit egter ook Jansen se eie verhaal, as Afrikaanse vrou, wat in eerlikheid nie van die verlede kan wegskram nie, nie kan maak asof “ons nie almal so” is nie, maar wat die verlede ook as haar eie toeëien met al die wreedheid, aandadigheid en pyn. Dlamini se hoop is dat die vertel van hierdie soort verhale ons nasie sal goed doen. Maar dit moet natuurlik ook gelees word. Eintlik is hierdie twee boeke verpligte leesstof vir almal in die land.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.