Blydskap lê in die verwagting daarvan, sê Willie Burger
Willie Burger
Die hoofkarakter, Aaliya, in Rabih Alameddine se boek An Unnecessary Woman is ‘n 72-jarige vertaler wat in Beiroet woon. Elke jaar, vir meer as 50 jaar al, begin sy in Januarie om ‘n nuwe boek uit die wêreldletterkunde in Arabies te vertaal.
Wanneer sy besluit om Microcosms deur Claudio Magris te vertaal, dink sy: Ah, splendid Microcosms, the deliciousness of discovering a masterwork. The beauty of the first sentences, the “what is this?”, the “how can this be?”, the first crush all over again, the smile of the soul. My heart begins to lift. I can see myself sitting all day in my chair, immersed in lives, plots, and sentences, intoxicated by words and chimeras, paralyzed by satisfaction and contentment, reading until the deepening twilight, until I can no longer make out the words, until my mind begins to wander, until my aching muscles are no longer able to keep the book aloft. Joy is the anticipation of joy. Reading a fine book for the first time is as sumptuous as the first sip of orange juice that breaks the fast in Ramadan.
Die meeste lesers sien uit na daardie wonderlike oomblik wanneer jy deur ‘n nuwe boek meegevoer word, die opwinding wanneer jy nie kan wag om verder te lees nie, die vreugde wat ‘n mens vind in die afwagting op die vreugde wat die res van die boek gaan bied. An Unnecessary Woman is presies só ‘n boek wat sommer van die begin af vreugde gee en enduit die belofte op meer vreugde volhou. Aaliyah is ‘n vrou wat haar hele lewe aan boeke gewy het. Sy is vroeg van haar man geskei en kinderloos en bly alleen in haar woonstel in Beiroet. Sy het die burgeroorlog, die bomaanvalle deur Israel en die hongersnode oorleef. Die hele tyd het sy in ‘n klein boekwinkel gewerk totdat sy moes aftree en die boekwinkel gesluit is.
Haar woonstel is oorvol met boeke en al haar manuskripte van die vertalings wat sy oor al die jare gemaak het. Dit is ‘n wonderlike boek vir lesers. Sy verwys deurgaans na talle ander skrywers se werk, haal lang stukke aan en sodoende maak die roman eintlik ‘n wêreld van letterkunde vir die leser oop. Die hoofkarakter het haar boekewêreld baie ernstig opgeneem, haarself daarin geïsoleer. Sy vermy kontak met mense en het eintlik net een vriendin gedurende haar lewe gehad – wat ook al jare tevore dood is. Sy vermy ook haar familie – en haar halfbroers verkwalik haar dat sy alleen in ‘n woonstel bly terwyl hulle met uitgebreide gesinne in klein woonstelletjies bly en boonop haar moeder versorg.
Ten spyte van haar halfbroers se pogings om haar so ver te kry om haar ma en ‘n paar gesinne by haar te laat intrek, en ten spyte van die herhaalde bombardering van Beiroet en oorloë en vlugtelinge wat die stad oorspoel (daar is nou weer omtrent ‘n miljoen Siriese vlugtelinge in Libanon, ‘n land met ‘n bevolking van skaars vier miljoen!) slaag sy daarin om te oorleef en haarself te isoleer. Sy skaf gedurende die burgeroorlog ‘n AK47 aan waarmee sy plunderaars en die verskillende militia-groepe afweer en gaan onverstoord met die lees en vertaal van boeke voort. Sy omring haar ook met die beste musiek en bestudeer kunstenaars, sy lees oor komponiste en dirigente en skilders.
Sy onttrek haar heeltemal in ‘n estetiese wêreld. Maar dan begaan sy een aand ‘n fout met sjampoe en kleur haar hare per ongeluk blou. Kort daarna probeer haar oudste halfbroer om haar moeder – wat erg aan demensie ly – onder haar sorg te plaas en sy word deur haar buurvrou te hulp gesnel. Geleidelik vind daar ‘n verandering in haar plaas. Vir die eerste keer in haar lewe begin sy noodgedwonge na mense om haar uitreik. An Unnecessary Woman (die titel verwys na die Pools-Joodse kunstenaar, Bruno Schulz, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur ‘n Duitse bevelvoerder as ‘n “noodsaaklike Jood” beskryf is en aan die lewe gehou is totdat hy prente teen die bevelvoerder se huis se kinderkamermuur geskilder het) is ‘n ondersoek na die rol van boeke in mense se lewens: dit is ‘n lofsang aan die beste in wêreldliteratuur, maar dit is ook vol bytende kommentaar op die samelewing.
Aaliya se aweregse, skreeusnaakse humorsin en die manier waarop sy kontak met mense vermy en tog noodgedwonge al meer van haarself begin gee, maak hiervan ‘n vreugdevolle leeservaring. Boonop is dit tegelyk ‘n wonderlike boek oor die stad Beiroet. Al die aanhalings en verwysings na ander skrywers maak van An Unnecessary Woman die ideale boek om vroeg in die jaar te lees, want dit bied ook sommer ‘n lang leeslys van boeke wat ‘n mens hierna graag wil lees.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.