Amraal is ‘n omvangryke historiese roman wat enersyds ‘n insiggewende blik bied op die koloniale tydperk aan die Kaap van die laat 1770’s tot die Britse besetting en dan ook andersyds op die vestiging van die Oorlam-gemeenskap in Damaraland in die huidige Namibië.
Willie Burger
Marinda van Zyl het met haar vorige roman, Wilhelmina Radebe kom tuis, ook ‘n minder bekende deel van die geskiedenis beskryf. Die klem in hierdie roman het op die geskiedenis van swart Afrikaanssprekende mense geval uit die oogpunt van ‘n fiktiewe karakter, die 80-jarige Wilhelmina Radebe.
In Amraal gebruik Van Zyl nie weer ‘n fiktiewe karakter nie, maar die lang lewe van Amraal Lambert (1774–1864). Lambert was die eerste kaptein van een van die “stamme” van die Oorlam-bevolking van Namibië. Hy was van Khoi-Khoiafkoms en het op ‘n plaas in die Clanwilliam- distrik grootgeword. Hierdie eerste deel van die roman trek die leser nogal in en interessante kulturele gebruike van die Khoi-Khoi, die rasseskeiding wat toe reeds afgedwing is en die manier waarop Lambert uitgebuit en misbruik is, verskaf ‘n insiggewende blik op daardie tydperk – wat ook noodsaaklik vir begrip van rasverhoudings in ons eie tyd is. Alle Khoi-Khoi-afstammelinge op plase is destyds byna soos slawe behandel en moes tot hulle 25 jaar oud was as “inboekelinge” werk voordat hulle hul vryheid kon kry – ‘n reëling wat die vroeë koloniste natuurlik goed gepas het.
Aanvanklik word Amraal en die wit plaaseienaar se seun saam as boesemvriende groot. Later versuur die verhouWillie Burger kyk na Marinda van Zyl se historiese roman Amraal ding wanneer die wit boerseun die plaas oorneem (‘n bekende tema in die Afrikaanse prosa). Hy kom vir Lambert op verskeie maniere te na – deur skuld vir ‘n ongeluk op hom te pak, hom sonder vergoeding of erkenning te laat werk, en doen die onvergeeflike deur selfs die meisie op wie Lambert verlief raak, vir homself te neem. Lambert herstel nooit van hierdie verraad en die verlore liefde nie. Hy kry ander werk as wadrywer vir ‘n skelm smokkelaar, maar uiteindelik sluit hy by die Dragonders aan – ‘n Khoi-Khoieenheid in die Kaapkolonie se “weermag”.
Hy vind ook ‘n nuwe liefde – al bly hy lewenslank na Klara hunker, wat op verraderlike manier van hom weggeneem is (sy “wraak” word wel gesuggereer). Wanneer die Kaap deur Brittanje geannekseer word, besef Lambert dat hy geen aptyt vir oorlog het nie. Hy neem die naam Amraal aan, en lei uiteindelik ‘n groeiende groep mense tot in die huidige Namibië. Hulle maak ‘n bestaan uit jag en later met veeboerdery. Deur talle alliansies aan te gaan, groei sy groep en word een van die vernaamste Oorlam-gemeenskappe (die ander bekende kaptein is Jonker Afrikaner). Die verhouding tussen die Oorlams en die sendelinge is interessant.
Hulle wil graag sendelinge by hul nedersettings hê, aangesien die sendelinge vir hulle toegang tot buskruit en lood bied en die kinders leer lees en skryf. Die sendelinge is egter dikwels vir hulle ‘n bron van frustrasie omdat hulle ook politieke mag probeer uitoefen en tradisionele gebruike afkeur. Amraal se mense vestig hulle uiteindelik in Gobabis en daar probeer hy in vrede met ander groepe en stamme leef (behalwe met die Damaras, wat maar taamlik stief behandel word).
Amraal herinner dalk aan Buys, die bekroonde roman van Willem Anker, maar is nie regtig vergelykbaar nie, al gaan albei romans oor ‘n pionier wat ‘n hele “volk”/“stam” stig en hulle deur die wildernis lei. Die interessante verhouding met sendelinge bied ‘n ander blik op die sending as wat in romans soos Bidsprinkaan (Brink) en Missionaris (Elsa Joubert) gevind word. In Amraal word nóú by die bekende geskiedenis van Damaraland en die Oorlams gehou.
Die onreg wat die inheemse bevolking deur individue en deur die stelsel aangedoen is, word op skreiende manier in die eerste deel van die roman blootgelê, maar later word die een verskuiwing ná die ander, nog ‘n onderhandeling of veediefstal, nog ‘n reis en hervestiging by ‘n ander fontein of nog ‘n sendeling se aankoms ‘n bietjie uitputtend. (Boonop wonder ‘n mens byna hoe die saggeaarde man regtig ‘n invloedryke kaptein kon word?) Dit voel later nie of ‘n mens werklik nog meer oor die geskiedenis of oor Amraal daaruit wys word nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.