Willie Burger kyk na Jerzy Koch se boek oor die Afrikaanse literatuur van die 17de tot die 19de eeu Literatuurgeskiedskrywing is, soos enige geskiedskrywing, nie ‘n maklike vakgebied nie.
Willie Burger
Geskiedenis is immers ‘n storie wat oor die verlede vertel word, maar ons het nie meer toegang tot daardie verlede nie en moet op die “spore” wat die verlede agtergelaat het, staatmaak. Die “spore” van die verlede sluit in: dokumente, artefakte, ou geboue, grafstene, getuieverslae, ou koerante en enige ander inligting wat behoue gebly het.
Uit al die inligting kan ‘n historikus dan ‘n storie begin vertel, byna soos om ‘n prentjie met enkele legkaartstukke te probeer voltooi. Die eerste taak van die historikus is om soveel as moontlik legkaartstukke te versamel. Hoe meer stukke, hoe akkurater kan die prent voltooi word. Die taak klink dalk eenvoudig, maar dit is soms moeilik om te besluit of ‘n spesifieke legkaartstukkie selfs tot dieselfde legkaart behoort. Omdat die volledige legkaart nie behoue gebly het nie, beteken dit ook dat ‘n volledige prentjie uit slegs enkele stukke afgelei moet word.
‘n Mens moenie die fout maak dat ‘n literatuurgeskiedenis makliker is omdat die tekste waaroor ‘n mens skryf immers steeds in ons tyd teenwoordig is nie (al weet ons nie watter dokumente verlore geraak het nie). Die groot vrae waarmee ‘n literatuurhistorikus worstel, sluit in: Watter dokumente hoort almal by die prentjie en watter nie? Waar gaan ek begin om die verhaal te vertel en waarop stuur ek af? Hoe word alles uiteindelik saamgesit? Die hoogaangeskrewe Poolse akademikus Jerzy Koch het hierdie probleme op ‘n vars manier aangepak. Anders as John Kannemeyer, wie se bekende Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur die standaardnaslaanwerk oor Afrikaanse literatuurgeskiedenis geword het, het Koch ‘n veel wyer en insluitende benadering gevolg.
Kannemeyer konsentreer op tekste wat op grond van (voortdurend veranderende) “estetiese norme” as “letterkunde” geag word. Hy neem weinig van die sosiale, politieke en ekonomiese omstandighede in ag en vertel ‘n verhaal van die een teks op die ander. In die ander Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Perspektief en profiel (onder redaksie van Hennie van Coller), word Afrikaanse skrywers se oeuvres bespreek, met enkele groter perspektiewe, sodat daar nie eintlik sprake van ‘n enkele verhaal is nie. Koch se A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th – 19th Centuries (Van Schaik) is ‘n merkwaardige poging om ‘n samehangende verhaal oor die Afrikaanse literatuur te vertel wat die tekortkominge van ander geskiedenisse probeer vermy.
Reeds die titel dui aan dat hy die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur by ‘n begindatum in die 17de eeu gaan haal – ‘n tyd toe Afrikaans nog nie eens bestaan het nie. Welbewus van spottende waarskuwings deur mense soos Van Wyk Louw dat ‘n mens seker kan teruggaan en die verhaal van Afrikaanse literatuur by die ou Grieke en selfs verder terug kan begin, maak Koch deeglike argumente uit waarom Afrikaanse literatuurgeskiedenis eintlik by die dagboek van Van Riebeeck begin. In sy oorsig van meer as 350 bladsye bespreek Koch talle tekste: reisverslae, godsdienstige tekste, dagboeke, sowel as die enkele tekste wat met estetiese oogmerke geskryf is.
Hoewel die tekste vir die eerste 200 jaar nie eens in Afrikaans (soos ons dit nou ken) geskryf is nie, maar in Nederlands, verduidelik Koch waarom dit belangrik is om die verhaal van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis hier te begin. Die gevolg is ‘n boeiende verhaal van die ontstaan van Afrikaans weens die kontak tussen baie tale en kulture, die rol van die sendelinge wat probeer het om die Evangelie aan mense in hul eie taal te bring en van Moslems wat die boodskap van Mohammed met behulp van Arabiese skrif in die spreektaal vir volgelinge neerskryf.
Uiteindelik het al hierdie kommunikasiegerigte pogings ook by die ideologiese probeerslae deur die Genootskap van Regte Afrikaners stukrag gekry. Telkens het verskeie tekste ontstaan en al dié tekste word deur Koch in ag geneem. Koch weef uit die noukeurige ondersoek van ‘n groot aantal tekste ‘n oortuigende verhaal van die ontstaan en groei van Afrikaans en Afrikaanse letterkunde. Hierdie geskiedenis bring belangrike korrektiewe op die idee dat slegs “estetiese” tekste by literatuurgeskiedenis ingesluit kan word en sy wyer benadering maak nuwe moontlikhede op die beskouing van literatuur, op die sosiale en politieke geskiedenis, en op die ontstaan van Afrikaans oop.
Koch vertel ‘n boeiende storie. Die talle klein verhaaltjies deur individue in die enigste taal wat hulle ken, die pogings om praktiese kommunikasieprobleme te oorkom, sowel as die ideologies-geïnspireerde ywer om teen Engels of Nederlands in te skryf, word boeiend betrek. Hierdie is noodsaaklike leesstof vir enigeen met ‘n belangstelling in die geskiedenis van Afrikaans, die land en die letterkunde en ek sien uit na die verskyning van die volgende deel oor die eerste deel van die 20ste eeu.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.