Willie Burger bekyk ‘n spanningsverhaal met talle kinkels, ‘n roman wat ook ‘n element van ‘n speurverhaal het en ‘n klassieke werk wat in 1846 in Parys afspeel
VERKLIKKER
deur Leon van Nierop,
LAPA-Uitgewers
Een van die heel eerste spanningsverhale wat ek as kind gelees het, was Mikro se Kompartement 1001E. Leon van Nierop se Verklikker het my onwillekeurig aan daardie beroemde boek van Mikro uit 1939 laat dink.
Hier is kompartement 113 die plek van geheime wat ontrafel moet word. Reeds op die tweede bladsy van die roman wil die sesjarige Marco by sy ma weet wat “waarheid” is. Sy antwoord: “Waarheid is dinge wat régtig gebeur, die dinge waaroor mens nie altyd wil praat nie, dan dink jy leuens uit sodat die waarheid moet weggaan, of sodat jy vir ’n rukkie die waarheid kan vergeet.”
Op 16-jarige ouderdom soek Marco steeds na waarheid – die waarheid oor die dood van sy twee ouers binne twee dae, oor die geheimsinnige kondukteur, oor Ludwig Benouw, wat soos ’n geraamte lyk, die waarheid oor die venster in kompartement 113 …
Soos sy radiostories, tydskrifverhale en talle ander boeke is hierdie roman van Leon van Nierop vaardig geskryf en alles gebeur teen ’n stewige tempo met talle kinkels.
BLOEDGROND
deur Malene Breytenbach, Tafelberg
Die tradisionele opvatting oor literatuur is dat ’n mens kan onderskei tussen, aan die een kant, populêre fiksie – wat mense vir ontspanning lees en wat jou wegvoer na ’n fiksiewêreld om uit jou gewone wêreld te ontsnap – en aan die ander kant literêre fiksie. Laasgenoemde word dikwels met inspanning gelees en die doel is nie om te vermaak en die leser uit sy wêreld te laat ontsnap nie, maar hom juis konfronteer met omstandighede en vraagstukke van die wêreld waarin ons leef.
Bloedgrond is nie sonder meer in te deel in een van hierdie twee kategorieë nie. As ervare skrywer van romans, is hier baie eienskappe van dié soort populêre fiksie in Bloedgrond, maar daar is ook eienskappe van die speurverhaal. Dit is egter nie die soort werk wat soos ’n roman of speurverhaal ’n leser bloot na ’n ander wêreld wegvoer nie. Jy word ook gekonfronteer met die wêreld waarvan jy daagliks in die koerante lees: plaasmoorde en grondeise. Dit is ook meer as joernalistieke verslaggewing juis omdat mense se motiewe blootgelê word – hul hebsug, hul verantwoordelikheidsgevoel teenoor erfgrond, gemeng met motiewe soos verliefdheid en wraaklus, dra daartoe by dat die stereotipiese karakters van populêre fiksie ’n lig op die ingewikkelde kwessie van grondbesit in ons land werp. Miskien kan ’n mens oor hierdie roman ook opmerk soos wat Leon de Kock onlangs in ’n resensie oor Mike Nicol se Black heart geskryf het, dat die misdaadriller en ander vorms van populêre fiksie dikwels leesbaarheid en sosio-politieke analise kombineer.
KLASSIEKE WERK
COUSIN BETTE
deur Honoré de Balzac
Hoewel ons geneig is om altyd oor die jongste boeke op die rak te wil lees, om te hoor wat die jongste tendense in die letterkunde is, loon dit dikwels die moeite om ook ’n ouer, klassieke werk te lees. Die een voordeel daarvan is dat hierdie ouer werke dit vir ons moontlik maak om ’n blik “van buite” op ons eie tyd te kry.
Die manier hoe skrywers in ’n ander era na die wêreld gekyk het en veral ook hoe hulle dit weergegee het, maak dit ook vir ons moontlik om bewus te raak van die maniere hoe ons nou na ons wêreld kyk.
Honoré de Balzac se beroemde werk Cousin Bette het in 1846 verskyn. Dit het destyds ’n eietydse beeld van die sosiale lewe in Parys gebied. Baron Hulot is aan sy drifte uitgelewer en gooi sy verhoudings met sy vrou, dogter en broer oorboord as hy op Valerie verlief raak. Hy sal enigiets doen om die vurige verhouding met haar aan die gang te hou al lei dit tot sy finansiële verknorsing. Sy vrou verdra haar man se sekskapades lydsaam en op haar sterfbed sê sy vir hom: “In a moment, you will be free, and you can make another Baronne Hulot.” Sentraal is egter Bette se beplanning om wraak te pleeg. Die oujongnooiniggie gebruik vir Valerie om een na die ander man te verlei. Valerie het in ’n stadium vyf mans op haar verlief en hulle glo elkeen dat sy vir hulle lief is. Sy gebruik die een gewetenloos om van die ander ontslae te raak.
Wat Cousin Bette so ’n ongelooflike leeservaring maak, is dat daar geen maklike moraliteit hierin is nie. Nie listige beplanning en skelmstreke of vurige liefde, passievolle verhoudings, deugdelikheid, liefde en deernis is uiteindelik genoegsaam om vir geluk te sorg nie. Vk