Willie Burger kyk hierdie week na Edwin Cameron se boek Justice – A Personal Account
Willie Burger
Tydens my hoërskooljare is ’n Amerikaanse TV-reeks wat in Afrikaans as Beste Professor oorgeklank is oor ons jong televisie uitgesaai. Dié reeks oor die lotgevalle van ’n klompie regstudente en hul eksentrieke professor het blykbaar destyds aanleiding gegee tot ’n sterk groei in studente wat in die regte wou studeer. As Edwin Cameron se jongste boek, Justice – A Personal Account, onder hoërskoolleerlinge versprei sou word, sal dit bes moontlik ook tot ’n sterk groei in regstudente lei. Cameron, bekende kampvegter vir die regte van minderheidsgroepe en regter van die Grondwetlike Hof, se inspirerende boek behoort eintlik deur alle Suid-Afrikaners gelees te word.
Justice is ’n helder verduideliking van hoe die Suid-Afrikaanse regstelsel werk. In ’n tyd wat baie mense skepties staan oor die regstelsel se vermoë om geregtigheid te laat geskied, laat hierdie boek blyk dat die reg nie ’n verbeeldinglose gepieker oor puntjies van die wet hoef te wees nie. Die boeiende vertelling wys hoedat die reg en ook individue se nougesette bemoeienis met die reg kan help om van ons land ’n beter en regverdiger plek te maak. Soms hoor ons dat daar ’n goeie regstelsel in ons land bestaan (soos dat Shrien Dewani in ons land verhoor kan word). Hierteenoor reken baie mense dat die howe nie hul werk kan doen nie en dat te veel skurke ongestraf rondloop.
Ons hoor ook dikwels dat ons land ’n uitstekende grondwet het. Maar daar is baie kritiek teen die Grondwet. Enersyds is daar diegene soos Julius Malema wat daarteen uitvaar omdat dit ryk, bevoorregte witmense beskerm en ekonomiese transformasie (“bevryding”) verhinder. Andersyds is daar mense wat voel dat die Grondwet te veel beloftes aan armes maak wat ekonomiese ontwikkeling knou of dat die Grondwet dit te moeilik maak om skelms of oproeriges behoorlik vas te vat. Ons het almal ’n mening oor hierdie sake. Ons opvattings word meestal deur individuele mediaberigte of eie ervarings gevorm en min leke het ’n deeglike, oorkoepelende beskouing van die reg. Justice bied só beskouing. Anders as so baie geskrifte deur regsgeleerdes, is Justice (net soos Cameron se bekroonde Witness to Aids) in toeganklike taal geskryf. Hy verval nooit in allerhande regsjargon en Latynse terme of verwysings na uitsprake of wette met die veronderstelling dat die leser daarvan weet nie. Regsterme word verduidelik en elke hofsaak en uitspraak as boeiende verhale aangebied.
Die titel wat aandui dat hierdie ’n “persoonlike weergawe” bied, moenie verkeerd verstaan word nie. Dit is nie ’n outobiografie nie. Cameron gee wel vanuit sy persoonlike ervaring, sy eie lewensverhaal, ’n perspektief op die land se regstelsel. Sodoende word die vertelling ’n warm, menslike verhaal oor geregtigheid en nie ’n koue analise van wette nie. Hy begin sy boek deur na sy eerste kennismaking met die reg te verwys: Hy vertel hoedat sy pa, vergesel deur twee bewaarders, toegelaat is om sy suster se begrafnis by te woon. Hy neem telkens sy persoonlike ervaring as uitgangspunt. Sy persoonlike omstandighede – ’n pa in die tronk en ’n ma wat met slegs standerd ses nie vir hom en sy susters kon sorg nie sodat hulle in ’n kinderhuis beland het, en die latere geleenthede om goeie opleiding te ontvang – gee aanleiding tot ’n besondere blik op die wêreld.
Ook sy MIV-status en ervaring van “andersheid” as gay man, beïnvloed sy perspektief op die beskerming van diversiteit in ons land. In sy verduideliking van die regstelsel onder apartheid verwys hy uiteraard na die manier waarop onregverdige wette nie deur regters en magistrate bevraagteken is nie, maar volgens die letter toegepas is. Maar hy wys ook hoedat daar telkens regters was wat bereid was om teen die stroom op te swem en ’n morele posisie teenoor wetgewing in te neem en hoedat regslui apartheidswette téén die apartheidstelsel kon inspan om só ’n rol in verset te speel. Cameron gee ’n helder uiteensetting van die ontstaanskonteks van die Grondwet en verduidelik die werking daarvan aan die hand van voorbeelde, soos die manier waarop die regering, ten spyte van Mbeki se MIV-ontkenning, gedwing kon word om antiretrovirale middels aan almal beskikbaar te maak.
Dit word egter ook ’n roerende verhaal omdat Cameron sy persoonlike ervaring van dekades se saamleef met MIV en sy terugkeer van die randjie van die dood danksy antiretrovirale middels met die leser deel. Die hoofstuk oor beskerming van diversiteit bied ’n uitstekende verduideliking dat diversiteit nie sommer ’n liberale waarde is wat as modegier van ons tyd in die Grondwet opgeneem is nie, maar hoedat dit, juis teen die agtergrond van ons land, en Afrika se geskiedenis, noodsaaklik is om baie versigtig met diversiteit om te gaan. Justice is ’n niefiksieboek waaruit ’n mens baie leer. Maar omdat Cameron so ’n goeie storieverteller is en omdat abstraksies van wette en die reg telkens aan roerende, menslike ervarings gekoppel word, lees die boek byna soos ’n lekker roman. (Tafelberg)