Soms het die sperdatums en doelwitte nie erns iets uit te waai met die dinge wat ons eintlik self wou bereik nie
Willie Burger
Daarom is hoop alleen nie goed genoeg om die jaar beter te laat verloop nie. Hoop neig immers om in Januarie sterker te wees as in Mei. ‘n Mens het ook ‘n strategie nodig. Indagtigheid (mindfulness) is dalk net die strategie wat jy benodig.
Ons het almal dikwels die behoefte daaraan om minder gejaagd te leef, om nie so haastig kwetsende dinge kwyt te raak nie, om nie so opgewerk te word oor kleinighede nie, om nie so gespanne te raak dat ons nie tyd kry om die dinge te doen wat ons graag wil doen nie.
Ons raak almal so besig om ons werk te doen, om verpligtinge teenoor familie en vriende na te kom, en ons is só gefokus op sperdatums en doelwitte dat ons uiteindelik vervreemd van onsself, van ons familie en vriende voel. Dit voel naderhand asof ons besig is om die lewe as ‘t ware mis te loop omdat ons so verskriklik besig is.
Soms het die sperdatums en doelwitte nie eens iets uit te waai met die dinge wat ons eintlik self wou bereik nie. Verpligtinge en sperdatums hou ons so besig dat ons teen die middel van die jaar al lankal vergeet het van ons goeie bedoelings om dit hierdie jaar rustiger te neem, om meer tyd aan die dinge te bestee wat ons graag wil doen.
Tiddy Rowan se klein groen boekie, (sakboekgrootte, met afmetings van ongeveer 12 cm by 13 cm) is dalk net wat jy nodig het om nie slegs hierdie jaar nie, maar jou hele lewe te verander. In dié klein boekie, Mindfulness, kry jy ‘n eenvoudige strategie om jou te help om die gejaagde onrus onder beheer te kry.
Ja, ek weet, daar kom kort-kort die een of ander nuwe modegier, die een of ander nuwe gonswoord wat almal gebruik in navolging van die nuutste blitsverkoper-selfhelpboek: daar was al mans van Mars en vroue van Venus; boeke oor hoe om jou liefdeslewe op te kikker; hoe om maer te word deur vet te eet; hoe om jou ware self te vind; om volgens jou bloedgroep te eet of die ander kant van jou brein te stimuleer; om ‘n ryk pa te wees eerder as ‘n arm pa; om geloof soos aartappels te hê … Vir ‘n rukkie praat almal oor die nuutste selfhelpboek en dan gaan die gier (en die modewoord) ook weer oor.
Ek besef dat mindfulness (indagtigheid) ook klink asof dit een van daardie modewoorde is wat teen 2016 se begin al lankal saam met ‘n proteïendieet, vyftig skakerings van grys en vampierverhale tot die verlede sal behoort. Maar ek dink nie dit is die geval nie. Indagtigheid behels bloot dat ‘n mens op jou asemhaling konsentreer en bewus raak van alles wat nóú, op hierdie oomblik, om jou aan die gang is.
Indagtigheid is ‘n eenvoudige vorm van meditasie wat jou help om nie vasgedraai te raak in jou malende gedagtes oor die verlede of jou vrese vir die toekoms nie, maar om nóú en híér te fokus. Die beoefening van indagtigheid behels nie buitengewone vaardighede nie – enigeen kan dit doen, op enige plek, enige tyd.
Sommige sielkundiges maak gebruik van indagtigheidsgebaseerde kognitiewe terapie om depressielyers te help. Daar is al navorsing gedoen wat wys dat nie slegs mense met ernstige depressie nie, maar ook dié van ons wat soms tot swartgalligheid geneig is, uit die donkerte kan ontsnap deur die beoefening van indagtigheid.
Hierdie boekie verduidelik eenvoudige stappe om indagtigheid te beoefen. Dit is regtig nie moeilik nie. Maar dan gee dit ook talle praktiese wenke oor hoe om die hele dag lank indagtig te bly. Want dit is gewoonlik ons grootste probleem: ons besluit om van nou af meer om te gee vir die mense om my, om rustiger te wees, om nie so baie te stres nie, maar skaars tien minute later is ons maar weer terug in die ou patrone. Dit is ‘n ou probleem – mense gaan Sondag kerk toe en besluit, geïnspireer deur die boodskap, om hierdie week anders te lewe – net om volgende Sondag tot stilstand te kom en te besef niks het regtig verander nie – in elk geval nie verby Maandag se teetyd nie.
Mindfulness het raad wat ‘n mens help om gedurig indagtig te bly: eenvoudige dinge wat jy kan doen om op die hede gefokus te bly. Indagtigheid help ons om nie te wag vir die lewe om nog te gebeur nie, om nie te wag vir die regte omstandighede waarin ons dink ons gelukkig sal wees nie, maar om nou tevrede te voel.
Gee indagtigheid hierdie jaar ‘n kans!
Tiddy Rowan. 2014. The Little Book of Mindfulness. London: Quadrille Publishing. Beskikbaar by die meeste boekwinkels.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.