Willie Burger skryf oor ‘n spannende roman wat insig oor die Pakistanse politiek en geskiedenis weergee
Willie Burger
Ons hoor daagliks van "separatiste" en van organisasies en splintergroepe soos die Islamstaat, die Taliban of Al Qaeda. Al volg ‘n mens die nuus en probeer moeite doen om meer oor derglike organisasies en die situasies waar hulle veg, te wete te kom, bly dit moeilik om te verstaan hoe gewone mense se lewens daardeur geraak word. Ons val baie maklik op enkele vae, veralgemenende idees oor die Moslem-wêreld terug.
Natuurlik kan geen roman ook presies verduidelik wat aan die gang is nie, maar Fatima Bhutto se debuutroman, The Shadow of the Cresent Moon, is ‘n meesleurende verhaal, sonder karikature, oor die effek van die dekades lange rebellie en onderdrukking in ‘n gemeenskap.
In die eerste plek is dit ‘n boeiende verhaal wat die leser diep raak omdat daar so baie is om mee te identifiseer: die ervaring van verlies, van verraad, van die onmoontlikheid om jou keuses ongedaan te maak, van jou eie gebrek aan moed; om in respek vir ouers en jou tradisie geborgenheid te vind, maar om terselfdertyd te voel dat jy daardeur vasgehou word in ‘n verlede wat jou toekomsmoontlikhede vernietig.
Tweedens bied die verhaal ook heelwat insig in die kompleksiteit van die Pakistanse politiek en bloedige geskiedenis en veral ook in die beweegredes van ten minste sommige individue wat by groepe soos die Taliban of IS of Al Qaede betrokke is.
Dit is ‘n spannende roman wat die lotgevalle van drie broers en een vrou (wat jare lank ‘n verhouding met een van die broers gehad het) oor drie ure op ‘n Vrydagoggend volg. Hulle woon in ‘n afgeleë dorp op die grens tussen Pakistan en Afganistan. Die gebied beleef al dekades lank gewelddadige opstande teen die regering en brutale onderdrukking van rebellie.
Die drie broers kom tydens ontbyt ooreen om nie na dieselfde moskee te gaan nie (die gevaar van ‘n bomontploffing is groot). Die volgende drie uur stuur met ‘n gedrongenheid op ‘n deurslaggewende moment in elkeen van hulle se lewens af. Naelbytspanning word gewek deur die minute wat aftik voor ‘n gewelddadige selfmoordaanval gaan plaasvind en deur telkens die vertelling na ‘n ander broer se ervarings te skuif. Elk van die hoofkarakters word in afsonderlike, deurslaggewende momente met hulself, met hulle eie keuses gekonfronteer. Deur hul herinneringe word ‘n lang en komplekse geskiedenis betrek.
Die oudste broer wou sy hele lewe lank uit Mir Ali wegkom. Hy wou wegkom van die seperatiste se stryd teen die Pakistanse regering, van die agterdog, geheimhouding, intimidasie, geweld en die voortdurende vrees waarin almal leef. Op hierdie oggend haal die hoë prys wat hy vir ‘n studievisum vir die VSA moes betaal, hom egter in.
Die tweede seun is ‘n dokter wat magteloos in ‘n halfvernietigde hospitaal met ontoerykende toerusting en medisyne waarvan die vervaldatum reeds verstryk het, moet werk. Geleidelik ontdek die leser wat agter sy en sy vrou se vreemde keuses en gedrag op hierdie oggend lê, en kry selfs simpatie met sy lafhartigheid.
Die jongste seun is van kleins af deur die stories van sy pa se heldedade en van haat teen die regering beïnvloed. Hy voer talle terreurdade uit al besef hy ook op hierdie oggend dat hy eintlik dieselfde as die vyand is.
Die keuses wat mense maak, die manier hoe mense vasgemaak is aan die keuses wat deur hul ouers en voorouers uitgevoer is, die gebondenheid aan ‘n gemeenskap, word boeiend ondersoek.
Fatima Bhutto is ‘n kleindogter van die eertydse premier van Pakistan en haar tannie was Benazir Bhutto, die eerste vrou wat ‘n president van ‘n Moslem-land geword het (wat in ‘n sluipmoordaanval dood is). Ook Fatima Bhutto se pa, wat lank in die buitland in ballingskap gewoon het, is in 1996 deur die polisie in Karatsji doodgemaak. Sy het voorheen al ‘n digbundel en ‘n memoire die lig laat sien.
Die talle strydende groepe, nasionalistiese separatiste, Amerikaans gesinde regeringstroepe, Sunni’s en Shia-Moslems glo almal dat hulle ‘n regverdige stryd voer en in die proses word gewone lewens vernietig en almal is verloorders.
Familiegeskiedenis of stamgeskiedenis word tot die enigste waarheid verhef en die jongste broer kom tot die insig dat die stryd om die geskiedenis lewendig te hou, die toekoms onmootlik maak.
Die roman is ‘n ondersoek van die Pakistanse verset, ook van hoe versetbewegings in ‘n toenemend geglobaliseerde wêreld funksioneer, maar uiteindelik roer die roman die leser deur die ervarings van gewone mense en die gevolge van hul keuses wat nooit ongedaan gemaak kan word nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.