‘Het dit régtig gebeur?’ is baie mense se vraag as hulle historiese romans lees
Willie Burger
Hierdie vrae laat mens wonder oor die aard van fiksie oor die verlede.
Daar het die afgelope tyd nogal baie romans verskyn wat op die een of ander manier met die verlede gemoeid is. Baie van hierdie romans word as "historiese romans" beskryf. In historiese fiksie word herkenbare historiese gebeurtenisse beskryf. Hierdie gebeurtenisse het gewoonlik só lank gelede gebeur dat die skrywer op navorsing moet steun, eerder as op eie belewenisse (anders is dit ‘n eietydse roman).
In baie historiese romans is die hoofkarakters fiktief, en hul ervarings in ‘n bepaalde historiese periode gee vir die leser ‘n besonder intieme blik op daardie tydperk; op hoe dit moes gewees het om toe te gelewe het. In Afrikaans is Rudolf Dreyer so ‘n fiktiewe karakter uit FA Venter se "land"-tetralogie (Geknelde land, Offerland, Bedoelde land, Gelofteland) wat onder meer die Groot Trek en die slag van Bloedrivier meemaak. In hierdie geval bied die fiktiewe karakter se ervaring vir die leser ‘n "lewendige" ervaring van die verlede vanuit ‘n gewone mens se perspektief.
Soms is die historiese tydperk nie meer as blote agtergrond vir ‘n romantiese verhaal oor fiktiewe karakters se avonture of liefde nie (soos talle populêre ou-Kaapse verhale, byvoorbeeld).
Dikwels gaan historiese fiksie oor bekende historiese figure. Hilary Mantel se Booker-bekroonde Wolf Hall is ‘n voorbeeld van ‘n baie bekende historiese gebeurtenis – Koning Hendrik VIII van England wat van sy vrou skei om met Anne Boleyn te trou en in die proses die pous se gesag verwerp en die Katolieke Kerk se mag in Engeland breek. Die groot rol wat Thomas Cromwell as die koning se raadgewer gespeel het en die botsing tussen Cromwell en Thomas More, word breedvoerig in hierdie roman beskryf. Mantel vertel die hele geskiedenis vanuit Cromwell se oogpunt – en só kry die leser simpatie met hom.
In al bogenoemde soorte historiese fiksie word meestal gehou by die aanvaarde geskiedkundige feite en die fiktiewe gebeurtenisse wat beskryf word en vind plaas in die "donker kolle" van die verlede waaroor daar nie baie inligting bestaan nie. Anders as die geskiedskrywer wat slegs by "bewysbare" gebeurtenisse (argiefmateriaal en ander oorblyfsels van die verlede) moet hou, kan die fiksieskrywer die verbeelding vrye teuels gee om as’t ware "tekstuur" aan die optekening van die verlede te gee en om daardeur by die leser empatiese meelewing te wek – die leser kan byna ervaar hoe dit moes gewees het om ‘n 17de-eeuse seereis mee te maak, of om ‘n veldslag tydens die Boereoorlog te beleef.
Ten einde hierdie tekstuur te gee, om die gevoel van "dis-hoe-dit-regtig-was" te skep, maak fiksieskrywers gebruik van gebeurtenisse en inligting wat algemeen (en spesifiek onder geskiedkundiges) as "die waarheid" oor die verlede aanvaar word en bied hierdie waarhede aan op maniere wat dit vir lesers "eg" laat voel. Fyn besonderhede oor kleredrag, wapens, voertuie, kos en gewoontes van mense word byvoorbeeld gegee en sodoende word ‘n oortuigende gevoel van lewensgetrouheid by lesers geskep.
Historiese fiksie oor deurslaggewende gebeurtenisse uit groepe se verlede kom in die meeste lande voor. Dikwels word heldedade uit ‘n betrokke groep se verlede baie roemryk uitgebeeld en sulke historiese romans dra tot ‘n nasionalistiese gevoel by. Sir Walter Scott se romans oor die Skotse geskiedenis is ‘n voorbeeld hiervan. Kyk ook byvoorbeeld hoe baie Amerikaanse historiese fiksie afspeel teen die agtergrond van die Amerikaanse burgeroorlog en hoeveel Afrikaanse fiksie (veral gedurende die afgelope 20 jaar) oor die Anglo-Boereoorlog verskyn het.
Terwyl sommige historiese romans die "ware" geskiedenis op ‘n "lewendige" manier uitbeeld, sodat die lesers hulself in ‘n vorige era kan indink en meeleef (soms met politieke oogmerke), is daar ook romans waarin alternatiewe moontlikhede beskryf word: verbeelde "feite" oor die verlede word aangebied asof dit histories juis is en "historiese feite" word verdag gemaak deur dit op "ongeloofwaadige wyse" uit te beeld.
Hierdie soort fiksie dwing die leser om na te dink oor die aard van geskiedskrywing. Dit word duidelik, soos wat toenemend sedert die 1970’s ook deur historici besef is, dat geskiedskrywing ook maar "stories" is – dat die feite uitgesoek word en op ‘n bepaalde manier gerangskik word (helde en skurke word gekies en die storie word as tragedie of as goddelike bestiering of as avontuurverhaal vertel) om ‘n sekere doel te bereik.
Die onderskeid tussen geskiedenis en fiksie hoef dus nie so eenvoudig te wees nie. Die doel van alle fiksie teen ‘n historiese agtergrond is nie om die waarheid oor die verlede op baie oortuigende manier vir die leser byna ervaarbaar te maak nie.
In sommige romans wat in ‘n herkenbare verlede afspeel, word byvoorbeeld die invloed van mag op mense ondersoek, of die aard van menslike boosheid, of psigologiese toestande van mense in sekere omstandighede of ‘n groot verskeidenheid ander aspekte van menslike bestaan wat ondersoek word – eerder as wat probeer word om die geskiedenis op ‘n "lekker" manier te vertel.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.