Willie Burger kyk dié week na boeke waarvoor jy dalk dié vakansie tyd sal hê
Tydens die lang skoolvakansie is daar dalk reënerige dae of lang aande vir lees. Marié Heese het ná baie jare weer in Afrikaans geskryf. ’n Jeugboek. Karoo-Kantate (Tafelberg) is die verhaal van Jeanne Labuschagne, of Jannie Lappies, soos hulle haar in die kinderhuis in Goodwood noem. Sy word vir die kort skoolvakansie in ’n musiekonderwyseres, Stien Terblanche, se sorg geplaas. Stien neem haar saam na ’n klein Karoodorpie waar haar oom, ’n afgetrede, wêreldberoemde dirigent, woon. Jannie se besondere sangtalent word hier raakgesien en dit inspireer die afgetrede dirigent, Arnold Terblanche, om ’n musiekstuk te skryf waarin sy die hoofrol sing. Verskeie terugslae volg – in die weeshuis word Jannie gespot omdat sy probeer om operamusiek in te oefen, maar sy moet ook talle ander probleme te bowe kom voordat die Kerskantate opgevoer kan word. Miskien sal jonger lesers wat ’n liefde vir klassieke musiek het, hulle in hierdie verhaal kan inleef.
Verhale oor die bonatuurlike, veral oor dooies wat van die “ander kant af” met die lewendes kontak probeer maak omdat hulle nie rus kan kry nie en dan bly spook, boei baie mense. Middernag en ander spokerige stories (Human & Rousseau) is ’n versameling van 20 spookstories van hierdie aard deur 16 verskillende skrywers. Dit is dalk nie ideaal om hierdie verhale alleen in die aand te lees nie. Dit is juis die soort stories wat lesers skrikkerig en agterdogtig maak oor elke vloerplank wat kraak of tak wat op die dak krap. Die skrywers noem hulself die Fynbosskrywers. Hulle het voorheen ’n gewilde CD met dierestories vir vier- tot agtjariges gemaak wat deur RSG uitgesaai is.
In vakansietyd kry mense wat nie die res van die jaar baie leestyd het nie, die geleentheid om ’n paar boeke te lees. Vir gretige lesers wat niefiksie verkies, is daar twee opsies: In Lothar Neethling, ’n Lewe vertel (Litera) skryf Annette Jordaan onderhoudend oor die destydse forensiese deskundige in die ou Suid-Afrikaanse Polisie. Die berigte in die destydse Vrye Weekblad dat Lothar Neethling middels vir gebruik deur onder meer die polisie se berugte Vlakplaaseenheid ontwikkel het, het tot lang en uitgerekte hofsake gelei wat tot die sluiting van Vrye Weekblad bygedra het. In hierdie biografie word die interessante lewe van Lothar Neethling beskryf. Hy was een van die Duitse weeskinders wat in 1948, na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, as 13-jarige na Suid- Afrika gekom het. Hy het albei ouers verloor en self gehelp om sy bababoetie tydens hul vlug voor die Russiese leër te begrawe. In Suid-Afrika word hy deur die Neethling-gesin aangeneem, voltooi sy skoolloopbaan aan Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria en onderskei hom as ’n besonder knap student. Hy sluit by die polisie aan en bou die forensiese afdeling uit tot een wat met die beste ter wêreld kon meeding. Hierdie boek is meer as die verhaal van ’n apartheidspolisieman, dit is ook die storie van ’n mens, ’n broer, ’n pa, ’n eggenoot, ’n oupa en dit bevestig net hoe kompleks enige mens se lewe eintlik is, altyd ingewikkelder as in koerantberigte.
Albert Blake, die skrywer van Boereverraaier, daardie ontstellende stuk navorsing oor verraaiers tydens die Anglo- Boereoorlog, het nou ’n volgende boek voltooi: Moord-en-roof. In die kop van ’n baasspeurder (Tafelberg). In hierdie boek word die verhaal van Charles Miller vertel, ’n lid van die Wes-Randse moorden- roofeenheid wat 40 jaar (1962-1992) ’n polisieman was. Blake wil hiermee nie slegs die lewensverhaal van Miller weergee nie – dit word uiteindelik ook ’n beskrywing van die polisie se metodes en van die trauma waaraan hulle blootgestel is. In sy inleiding wys Blake daarop dat die meeste boeke wat oor die polisie in die 1970’s en 1980’s handel, op hul wandade fokus (byvoorbeeld Jacques Pauw se Into the Heart of Darkness: Confessions of Apartheid’s Assassins, wat onder meer die berugte moordbende van Vlakplaas bespreek). Volgens Blake kan dit die indruk wek dat die hele polisiemag korrup was terwyl daar baie hardwerkende polisiemanne was wat bloot misdaad bekamp het. Dit is egter nie moontlik om die ondersoek van ernstige misdaad en politieke oortredings heeltemal van mekaar te skei nie. Ten spyte van talle gebreke gee die boek ’n ontstellende beeld van die geweld waaraan speurders in hierdie land daagliks blootgestel is – en die gevolge daarvan op hul lewe. Hulle besoek grutonele, sien hoe kollegas doodgeskiet of gewond word en skiet self dikwels op misdadigers en moet dan deur die trauma gaan van dat hulle mense doodgemaak het en soms ook van moord aangekla word. Lesers sal dalk talle van die bankrowe, verkragtings en moorde uit koerantberigte onthou. Die boek bied ’n interessante blik daarop vanuit die polisie se oogpunt. Vk