Antwoorde op ons wakkerlêvrae
Willie Burger
• Is daar ’n toekoms vir my kinders in hierdie land?
• Is ons land op pad om die volgende Zimbabwe te word?
• Gaan die arm mense in ons land wat nou oor dienslewering betoog uiteindelik al hoe beter georganiseerd raak en beheer oorneem en al die plase, huise, en besighede oorneem (en verwoes)?
• Is daar ‘n kans dat my kinders (en hul kinders) ’n goeie skoolopvoeding in ’n staatskool sal kan ontvang of moet ek liewer tuisonderrig oorweeg of vir privaat skole spaar?
• Is Julius Malema net ‘n belastingontduiker in ‘n rooi oorpak of moet hy ernstig opgeneem word?
• Waarom hou die meerderheid mense aan om vir die ANC te stem al is dienslewering swak en al kom korrupsie algemeen en straffeloos voor?
• Gaan ons land ooit ‘n veiliger plek word waar ’n mens nie vrees om sommer vir ‘n selfoon doodgeskiet te word nie?
• Kan die ekonomie regtig genoeg groei om werk vir al die miljoene werkloses te verskaf?
• Sal die gaping tussen rykes en armes (wat die oorsaak van misdaad en onrus is) ooit verklein?
Al kwel hierdie vrae almal in ons land en al het baie van ons dikwels menings oor al hierdie vrae, is hierdie menings en kwellings nie noodwendig op goeie inligting gegrond nie. Baie menings is maar deur hoorsê ingegee, spruit uit braaivleisbesprekings of treingesprekke en is deur vooroordele gekleur. Daarom is dit belangrik vir elke Suid-Afrikaner om van die volgende drie boeke kennis te neem.
1 Sampie Terreblanche, ekonoom van Stellenbosch, se boek, Verdeelde land. Hoe die oorgang Suid-Afrika faal (Tafelberg), gee ’n deeglike agtergrond van die ekonomie van Suid-Afrika – van 1652 tot die hede. Hy verduidelik hoedat die land se ekonomie telkens verander het en waar die groot gaping tussen ryk en arm, soos ons dit vandag ervaar, vandaan kom. Hy erken dat die oorgang van 1994 wel ’n politieke suksesverhaal was, maar redeneer dat die land tóé ook ‘n grondige ekonomiese verandering moes ondergaan het.
Ons land het toé ‘n geleentheid gehad om die ekonomie heeltemal te hervorm, sodat die groeiende gaping tussen ryk en arm voorkom kon word. Dit het egter nie gebeur nie en sedertdien het hierdie gaping net gegroei sodat 20% van die bevolking (wit en swart) die hele ekonomie beheer en steeds ryker word, terwyl die armste 50% van die bevolking steeds armer word. Hy waarsku in hierdie boek dat ons land op ‘n tydbom sit wat binne die volgende 20 jaar gaan ontplof en dat ons ’n opstand soos dié in Tunisië gaan beleef.
2 Frans Cronjé (die HUB van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasverhoudings) se boek A Time Traveller’s Guide to Our Next Ten Years (Tafelberg) is boeiende leesstof. Anders as Terreblanche wat op die ekonomiese vrae fokus, betrek Cronjé die ekonomie, politiek, burgerlike lewe, regstelsel en die media in sy studie. Hy waarsku teen "voorspellings" van die toekoms op grond van huidige waarnemings en wys daarop dat niemand byvoorbeeld die opstande in Tunisië en Egipte voorspel het nie. Daar is eenvoudig so baie faktore wat ‘n rol speel in hoe die toekoms van ons land gaan ontvou, dat geen voorspelling al die faktore in ag kan neem nie.
Daarom wend hy hom tot die ontwikkeling van toekomsscenarios. Deur ‘n groot aantal faktore en talle variasies van wat moontlik op ‘n uiteenlopende aantal terreine kan gebeur in ag te neem, skets hy uiteindelik vier moontlike situasies waarin Suid-Afrika teen 2024 kan wees: ‘n vooruitstrewende, maar onvry land; ‘n vooruitstrewende en vry land; ‘n arm en vry land of ‘n arm en onderdrukte land.
Die groot dryfvere wat Suid-Afrika se posisie sal bepaal, is hoe die regering die ekonomie gaan bestuur en die terugvoermeganismes wat tot die gewone burgers se beskikking is.
Die verskillende scenarios maak ‘n mens se oë oop vir baie moontlikhede en die boek bevat bruikbare inligting oor ons land se ekonomie, staatsdiens, onderwys, bevolking, ensovoorts. Baie nuttig is ‘n aftiklysie wat hy vir elke scenario verskaf. Elke aftiklysie bestaan uit mylpale (sekere dinge wat sal gebeur) onderweg na elk van die toekomsscenarios. Nadat jy die boek gelees het, al die ontstellende en hoopvolle inligting verwerk het en die vier boeiende toekomsscenarios (positief en negatief) as moontlikhede insien, kan jy hierdie lysies oor die volgende klompie jare gebruik en aftik wanneer sekere dinge gebeur – sodat jy kan raaksien op watter een van die scenarios ons afstuur.
3 Dit mag dalk lyk asof Eusebius McKaiser se boek DA of nie? ‘n Kieser se krisis (Tafelberg) nie nou meer, maande ná die verkiesing, nog relevant is nie. Jy moenie die fout maak om so te dink nie. Die boek verskaf uitstekende insig in die Suid-Afrikaanse politiek en verduidelik baie helder waarom kiesers, ten spyte van hul misnoeë met die regering, steeds vir die ANC stem. McKaiser se boek verduidelik ook watter verandering die DA sal moet ondergaan alvorens hulle ‘n kans het om aan bewind te kom.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.