Willie Burger kyk hierdie week na Karretjiemense, ‘n boek wat aangryp en ontroer
Willie Burger kyk hierdie week na Karretjiemense, ’n boek wat aangryp en ontroer
Byna almal wat al Carol Campbell se Karretjiemense gelees het, beskryf dit as ’n “ontroerende” of “aangrypende” ervaring. Ek vermoed dat dit is omdat fiksie die vermoë het om ’n mens as ’t ware in die gedagtes van ’n ander te plaas. Die Britse skrywer Ian McEwan het eens geskryf: “Imagining what it is like to be someone other than yourself is at the core of our humanity. It is the essence of compassion and the beginning of morality.” Die “karretjiemense” is die nomades van die Karoo. Hulle reis met hul donkiekarretjies van plaas tot plaas waar hul vaardighede (meestal as skaapskeerders) seisoenaal in aanvraag is. Hierdie bestaanswyse is vinnig aan die verdwyn. Dit word al hoe moeiliker om nog in die 21ste eeu so “op die pad” ’n bestaan te maak. Die oorblywende karretjiemense leef meestal in haglike armoede. Alkoholisme en afhanklikheid van ander dwelmmiddels kom wyd voor en die kinders kry gewoonlik nie kans om skool by te woon nie. Die meeste karretjiemense het reeds in townships of plakkerskampe in die Karoo gevestig geraak, waar hul sosiaal-ekonomiese situasie steeds meer agteruitgaan. Die antropoloog Riana Steyn het haar proefskrif oor hierdie swerfarbeiders geskryf en later ook ’n opvolgstudie gedoen wat uiteindelik die inspirasie was vir Athol Fugard se drama Die laaste karretjiegraf, wat in Januarie vanjaar opgevoer is. Anders as ’n antropologiese of sielkundige studie bied Campbell se roman aan die leser ’n geleentheid om die wêreld vanuit die karakters se oogpunt te ervaar. En dít is wat van Karretjiemense so ’n roerende leeservaring maak. Campbell, wat ’n tyd lank op Prins Albert gewoon het, het die roman in Engels geskryf (My Children Have Faces). Die Afrikaanse vertaling deur Kirby van der Merwe (Umuzi) is uitmuntend en dra tot die weergawe van ’n unieke ervaringswêreld by. Dit is ’n spannende verhaal van Muis en Kapok wat agter die hoop op werk aan die Karoo deurkruis. Hulle het drie kinders. Die oudste, Fansie, is nie Kapok se seun nie. Muis was swanger met Fansie toe haar man vermoor is. Sy het kort ná Fansie se geboorte saam met Kapok weggevlug vanaf Leeu-Gamka en van Miskiet, haar oorlede man se broer. Muis en Kapok het twee dogters, Witpop en Sponsie. Almal van hulle is ongeletterd en nie een van die kinders se geboortes is amptelik geregistreer nie. Sonder geboortesertifikate word kinders nie in skole toegelaat nie en kan ouers ook nie regeringsubsidies eis nie. Sonder papiere is die kinders (en Muis) gesigloos. Miskiet dreig haar dat hulle maklik doodgemaak kan word sonder dat iemand ooit na hulle sal soek: “In die hof moet jy aan die regter kan bewys dat jy bestaan. As hulle nie jou liggaam kry nie en jy het nie ’n identity nie, hoe gaan hulle weet dis nie net ’n groot liegstorie nie? Klein Muisie, die dag gaan kom dat niemand sal weet jy het ooit bestaan nie.” Die leser word natuurlik óók geroer deur die erbarmlike omstandighede van die karretjiemense – deur Witpop wat byvoorbeeld daaroor droom om nie as stink beskryf te word nie, en om ’n “roll-on” te kan hê, skoene, en regte sanitêre doekies in plaas van koerantpapier. Maar meer nog lê die krag van die vertelling om die leser te ontroer in die talle eerstepersoonsvertellers wat aan die woord kom. Elkeen gee sy of haar eie ervarings van dieselfde gebeurtenisse weer. En deur hierdie verskillende perspektiewe kry die leser toegang tot elkeen se wêreld. Die karakters se ervarings en beskouings, hul eie gedagtes, word nie verder deur ’n verteller van buite geïnterpreteer of in perspektief geplaas nie. Sodoende word ’n blik “van binne” op hul wêreld oopgemaak: ’n wêreld waarin groot blydskap oor ’n stukkie brood, ’n paar rand of ’n papsak heers; ’n wêreld waarin honger en lyding as vanselfsprekend aanvaar word; waarin vloeke, spoeg, klappe en skoppe links en regs uitgedeel word (veral aan vrouens en kinders). Die skokkende lê daarin dat al die karakters hierdie geweld en swaarkry met ’n gelatenheid as “normaal” ervaar. Dit is boonop ’n spannende verhaal waarin Miskiet hulle almal se bestaan bedreig. Hy wil vir Muis doodmaak en jaag hulle meedoënloos deur die Karoo. Dit is egter die wisselende vertelperspektiewe wat toenemend die spanning laat opbou na die uiteindelike gewelddadige konfrontasie. Dit is ’n verhaal wat die leser toegang tot die lewens van ander gee – en wat ’n mens tot meegevoel en begrip dwing.