Willie Burger kyk na die Hertzogpryswenner Antjie Krog se werk
Willie Burger
Sy het reeds in 1970 as skoolkind bekendheid verwerf toe haar gedigte wat in haar skool se jaarblad gepubliseer is, landwyd opslae in die koerante gemaak het. Een van hierdie gedigte, "My mooi land", het haar dadelik in omstredenheid geplaas. Destyds, in die hoogbloei van apartheid, was kritiek teen die Nasionale Party-politiek deur ‘n wit, Afrikaanse skoolkind eintlik ongehoord. Haar afwysende houding jeens apartheid is duidelik in hierdie gedig:
Kyk, ek bou vir my ‘n land
waar vel niks tel nie, net jou verstand.
Waar geen bokgesig in ‘n parlement
kan spook om dinge permanent
verkramp te hou nie …
Die slotreëls van die gedig lui:
Gee vir my ‘n land waar swart en wit hand aan hand
vrede en liefde kan bring in my mooi land.
Die volledige gedig is deur Ronnie Kasrils (wat toe in ballingskap in die buiteland was) in Engels vertaal en dit het in 1971 in London, in die toé verbode ANC-blad, Sechaba, verskyn.
Omstredenheid oor haar politieke beskouings het haar dikwels gevolg, maar die Afrikaanse leespubliek het dadelik van haar poësie gehou. Uit haar vroeë digbundels tel Ma en Klein vrede onder die “Honderd gewildste gedigte in Afrikaans” soos deur ‘n Leserskring-ondersoek bevind. "Ma", die derde gewildste op dié lys, is ook dikwels op skool voorgeskryf:
Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
‘n kaalvoet gedig (…)
Reeds in haar vroegste bundels (Dogter van Jefta, 1970 en Januarie-suite, 1972) is daar ‘n sterk outobiografiese inslag in haar werk waarin Krog veral verskillende aspekte van vrouwees ondersoek: vrou as geliefde, as eggenote, as moeder, as onafhanklike denker, as polities-betrokke vrou. Een van die bekendste gedigte oor vrouwees kom uit die bundel Gedigte 1989-1995 (1995). Die slotwoorde van hierdie bekende gedig word dikwels aangehaal en word ook deur André Brink as motto voorin sy roman oor ‘n slavin, Philida, gebruik:
ek staan op ‘n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my tiete ‘n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
‘n vry fokken vrou
Haar taalgebruik getuig daarvan dat sy uit woede skryf. Die gedig "visioen van ‘n lessenaar" uit Otters in bronslaai (1981) eindig met die woorde: "en ek skryf omdat ek woedend is".
Hierdie "woede" gee ‘n vaart en trefkrag aan haar poësie. Die woede gee haar egter ook die krag om grense te skuif: grense van "fatsoenlike" taalgebruik, van poëtiese konvensies, van politieke idees en van persoonlike en liggaamlike mededelings. Veral in Lady Anne (1989), die bundel waarvoor sy die Hertzogprys ontvang het, huiwer sy nie om oor seks en oor haar eie liggaam in die openbaar te skryf nie. Ook in haar jongste bundel, Verweerskrif (2006) word die liggaamlike aftakeling van oudword in soms skokkende kruheid beskryf. Maar dit verleen aan haar poësie ‘n oorrompelende eerlikheid.
Ten spyte van kruheid en die ondermyning van konvensies is Krog se gedigte dikwels liries en klankryk. In Kleur kom nooit alleen nie (2000) skryf sy immers in, "Digter wordende":
die digter dig met haar tong
sy haal asem – ja, diep uit haar oor
Gedurende die 1990’s word Krog egter ook as joernalis bekend. Sy word bekroon vir haar rapportering oor die sittings van die Waarheids- en Versoeningskommissie en haar joernalistieke werk lei ook tot haar eerste publikasie in Engels, Country of my Skull (1998). Hierdie werk, wat ‘n mengsel van verslaggewing, poësie, memoir en fiksie is, het wêreldwyd opspraak verwek en Krog gevestig as ‘n belangrike stem uit Suid-Afrika. Sy slaag daarin om die stemme van slagoffers en oortreders te kontekstualiseer en om sodoende werklik betekenis te gee aan die werk van die WVK.
Dié boek word opgevolg deur ‘n Ander tongval en Begging to be Black waarin Krog telkens op indringende manier besin oor wat dit beteken om in Suid-Afrika te leef en oor hoe ‘n (wit) mens ‘n bydrae kan maak tot die land, ten spyte van die apartheidsgeskiedenis en agterdog en die talle morele en leierskapsprobleme wat tans ervaar word.
Krog het haar posisie as gevestigde en bekroonde digter gebruik om stem te gee aan ander (soos die getuies by die WVK en die gedigte van die /Xham wat sy in Afrikaans herskryf het in Die sterre se ‘tsau’). Sy is een van bitter min digters wat dit regkry om poësie se invloed (haar politieke insigte moontlik gemaak deur die poëtiese verbeelding) na ‘n wye, internasionale publiek te bring.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.