Willie Burger kyk na werke wat oor geborgenheid al dan nie handel
Willie Burger
Van die opwindendste boeke in ons tyd word deur migrante geskryf – mense wat uit hul plek van herkoms na ‘n ander omgewing verplaas word. In ‘n tyd van globalisering, ‘n tyd waarin reis veel makliker geword het en waar werk oor landsgrense heen alledaags geword het, leef ‘n groot deel van die wêreldbevolking nie meer in hul lande van herkoms nie. Benewens die veel makliker vrywillige wisseling van mense tussen lande, word ook miljoene mense wêreldwyd weens oorlog, onderdrukking en ander rampe noodgedwonge verplig om uit hul vaderland te vlug.
Breyten Breytenbach noem mense wat uit hul land van herkoms weg is om hulle in ‘n ander land te vestig, maar wat dáár, in die nuwe land, vreemd bly voel, terwyl hulle ook nie meer kan terugkeer nie omdat hulle in hul oorspronklike woonplek ewe ontuis is – inwoners van die "middelwêreld".
Burgers van die middelwêreld is ontuis waar hulle aanland, maar kan nie na ‘n "bekende" tuiste terugkeer nie, omdat dit eweneens vir hulle vreemd geword het. In hierdie staat van ontuisheid, begin hulle, soos ‘n mens kan verwag, om vrae te vra oor wie hulle is, oor wat ‘n mens jou identiteit gee. Maar hulle vra ook vrae oor al die kategorieë, die raamwerke, die maniere wat ons deurentyd gebruik om ons wêreld te beskryf en te verstaan.
Wanneer ‘n mens tuis en gemaklik is op die plek waar jy jou bevind, vra jy nie hierdie soort ongemaklike vrae nie. Dit is vrae wat dan nie eens by jou opkom nie. Maar as jy eers uit jou gemaksone geskud is en begin wonder oor al die vaste verwysingspunte wat dit vir jou moontlik maak om sin aan die wêreld te gee, dan bevind jy jou in Breytenbach se middelwêreld.
In sy boek Notes from the Middle World verduidelik hy dat hoewel mense wat hulself so vervreemd en ontuis voel meestal immigrante of vlugtelinge, nomades, is, daar ook mense is wat op hierdie manier ontuis voel al het hulle nog nooit gereis nie (hy noem die voorbeeld van Kafka) terwyl sommige reisigers en vlugtelinge maklik in die nuwe plek tuis voel en dus nie in die middelwêreld woon nie.
Inwoners van die middelwêreld het nodig om voortdurend nuut te dink, om hul posisie te herdefinieer, om kreatief met hul eie identiteit en die manier waarop hulle die wêreld verstaan, om te gaan.
Van die opwindendste letterkunde word juis deur inwoners van die middelwêreld geskryf, omdat hulle telkens ons aanvaarde posisies uitdaag en omdat hul manier van kyk ons van so baie dinge bewus maak wat ons as vanselfsprekend beskou.
‘n Skrywer wie se werk my tans opgewonde maak, juis vanweë hierdie soort vrae, is Aleksandar Hemon. Hemon is oorspronklik van Sarajevo in Bosnië-Herzegovina (voorheen Joegoe-Slawië). Hemon was as toeris in die VSA toe die oorlog in Sarajevo uitgebreek het en hy kon nie terugkeer nie. Hy moes noodgedwonge in die VSA bly en het later daar getrou.
Hoewel sy huis in Chicago is, is dit uit al sy werk duidelik dat hy nie in die VSA tuis is nie. Ook dat hy eweneens ontuis in Bosnië is. Hemon skryf nie in sy moedertaal, Bosnies, nie maar in Engels.
Hemon is ‘n sensitiewe waarnemer met ‘n besondere taal- en vertelvermoë en die verhale wat hy vertel – byna altyd oor Bosniërs in die VSA – vind weerklank in die lewens van elke leser wat al ontuis gevoel het.
Sy verhale laat ‘n mens terugdeins voor die mens se vermoë om ander pyn en leed aan te doen, maar dit laat jou ook skater van die lag oor mense se pogings om met ontoepaslike raamwerke te probeer om hul omgewing te verstaan. Soms laat die verhale ‘n mens net met ‘n vae droefheid oor die onbegrip tussen mense, maar ook met vreugde en opwinding omdat jy iets van jouself en van die wêreld kan herken.
Hemon se roman The Lazarus Project is ‘n boeiende ontginning van verplaaste mense. Die hoofkarakter is ‘n Bosniër wat in Chicago woon en navorsing doen vir ‘n roman oor ‘n Joodse immigrant uit die Oekraïene wat vroeg in die 19de eeu deur ‘n polisiehoof in Chicago doodgeskiet is. Sy poging om hierdie Lasarus as ‘t ware uit die dood terug te roep, is die verhaal van sy eie reis saam met ‘n skoolvriend deur die Ukraïne en uiteindelik na Sarajevo.
Ek het ook lanklaas so lekker gelees aan ‘n bundel kortverhale soos aan Hemon se Love and Obstacles. Die verhale is uiteenlopend – verskeie het te doen met jong seuns wat grootword, ander met Bosniërs in die VSA. Hoewel die stories uiteenlopend is, lees elkeen soos ‘n oortuigende, deurleefde outobiografiese vertelling. Die verhale bied ‘n deurdringende blik op menslike bestaan in ons huidige wêreld. Dit het my lank geneem om die bundel deur te lees, want ek wou omtrent elke verhaal dadelik herlees voordat ek kon voortgaan omdat ek telkens verstom was oor die manier waarop hy vertel en deur die gevoel dat ek met iets gróóts te doen het, die soort lewenswaarhede wat ons help om verlies te verwoord en om te oorleef.