Willie Burger vra die volgende: ‘n Goeie boek? Is dit kuns? Maak dit saak?
Willie Burger
Verskeie kritici (byvoorbeeld James Wood www.newyorker.com/magazine/2013/10/21/the-new-curiosity-shop ) voer egter aan dat dié topverkoper van oor die 700 bladsye, glad nie goed is nie – dat die storie te veel ongemotiveerde en ongeloofwaardige wendings het, dat menslike diepte nie genoegsaam verken word nie en dat die skryfwerk self dikwels slordig is en van clichés oorloop. Boonop is die slot, volgens hom, moraliserend (prekerig) en het die roman eintlik ‘n kinderboekplot. Hy erken dat dele van die roman van Tartt se ongelooflike skryfvermoë getuig en betreur dit dat sy dit nie deurgaans kon volhou nie.
Talle lesers stem met hom saam en bely dat hulle aanvanklik deur die lekkerleesstorie meegesleur is, maar later geïrriteerd geraak het met die taalgebruik, die onoortuigende wendings en die prekerigheid.
Die derduisende aanhangers van Tartt beskuldig op hul beurt vir Wood van snobisme en voer aan dat die verkoopsyfers genoeg bewys is dat sy snob-mening uit voeling met die wêreld is.
Die stryd tussen sogenaamde "literêre snobs" en die "demokrate" wat sê dat verkoopsyfers nie lieg nie, dat ‘n boek wat goeie verkope beleef ‘n goeie boek moet wees, is ‘n baie ou stryd wat ook in die Afrikaanse boekwêreld al tot talle "gevegte" gelei het.
In enige gemeenskap word net sekere boeke mettertyd as "waardevol" beskou. Hul "waardevolheid" lê daarin dat hulle ‘n invloed op baie skrywers en lesers uitoefen. Hierdie "waardevolle tekste" word die "kanon" geoem. Die woord "kanon" kom van ‘n Griekse woord wat "maatstaf" beteken. In die Christelike tradisie verwys die "kanon" na dié boeke wat as gesaghebbend beskou word (en daarom in die Bybel opgeneem is). Die literêre kanon sluit die boeke in wat as "gesaghebbend" beskou kan word – wat voorbeelde is van "die beste" en wat as die maatstaf dien waaraan ander boeke gemeet word.
Sommige boeke maak al eeue lank deel van die kanon uit (Homerus, Dante, Cervantes) en word telkens weer deur nuwe generasies van lesers waardeer. Maar ‘n kanon is nooit vas nie. Sommige boeke word wel ‘n tyd lank daarin opgeneem, maar val later weer weg. Ander boeke word eers heelwat later ontdek en dan by nabaat in die kanon opgeneem. In ons tyd is daar dikwels druk dat meer swart skrywers of vroueskrywers of skrywers van "populêre" fiksie of genrefiksie se werk in die kanon opgeneem behoort te word sodat die kanon verteenwoordigender kan wees.
Die redes waarom sommige tekste gekanoniseer word (of dit nou Shakespeare of Goethe of Van Wyk Louw is), is uiteenlopend, maar daar is veral twee "soorte" redes:
• Aan die een kant bestaan die opvatting dat sommige tekste inherent sekere waarde besit – hulle is gewoon "beter" tekste weens "poëtiese eienskappe" daarvan.
• Aan die ander kant word geredeneer dat die "poëtiese eienskappe" maar net wisselende en manipuleerbare smaak is en dat sosiale omstandighede eintlik bepaal watter tekste in sekere omstandighede waardevol geag word.
Die idee dat sommige tekste eienskappe besit wat hulle beter as ander tekste maak, hang saam met die idee dat taal op ‘n spesifieke manier daarin gebruik word. Taalgebruik in die "spesiale" tekste verskil van gewone, alledaagse taalgebruik. Hierdie tekste is op ‘n spesiale manier inmekaargesit sodat al die aspekte van die teks by mekaar aansluit. Hierdie spesiale tekste het ook ‘n buitengewone effek op die leser: die leser leer iets oor die lewe daaruit, word ontroer, word aangemoedig tot nadenke en ervaar plesier by die lees daarvan.
Telkens word beswaar gemaak teen hierdie opvatting en aangevoer dat die besluite oor watter tekste dan nou eintlik so spesiaal sou wees, subjektief is. Die kriteria hang van smaak af wat op ‘n sekere tyd in die mode is. Dit hang maar af wie die magsposisies het om te besluit wat "goed" is: die uitgewer wat besluit wat uitgegee kan word, die resensente, die bemarkers se tydsberekening, die mense wat voorskryf, die verspreidingsnetwerke, die mense wat besluit wat om te vertaal … Kortom: daar is nie iets spesiaals aan die tekste self nie – hul status word deur mense in magsposisies se smaak bepaal.
Uiteindelik wil dit lyk asof kriteria tóg nie totaal willekeurig en tydgebonde is nie. Sommige tekste word bekroon en verkoop goed, maar verdwyn gou in die vergetelheid terwyl ander nogtans later waardeer word al ontvang hulle geen pryse nie. Dit is ook duidelik dat verskeie instellings ‘n groot rol by die bepaling van waarde speel, eerder as wat die tekste inherent sekere waarde besit.
Albei maniere van definieer bly dus belangrik en nie een van die twee benaderings bied ‘n volledige verklaring vir die redes waarom sommige tekste meer impak maak as ander nie. Eintlik kan ‘n mens maar net wag en kyk of The Goldfinch steeds oor 20 of 50 jaar as ‘n belangrike teks geag sal word.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.