Willie Burger kyk hierdie week na die immergewilde Jakkals-en-Wolf- en reisstories
Baie van ons het met Jakkals-en-Wolf-stories grootgeword. Wie kan dan vergeet hoedat Jakkals sorg dat Wolf homself te dik vreet om weer deur die gat in die kraalmuur te kan ontsnap, terwyl hyself sorg dat hy kan uitglip en dan ‘n lawaai opskop sodat die boer vir Wolf op heter daad kan betrap en afransel?
Hoewel die bekende stories by die Suid-Afrikaanse landskap en omstandighede aangepas is, kom die jakkalsstreke egter van baie ver en baie lank gelede. (Hier is immers nie eens wolwe in Suid-Afrika nie!) Die voorvader van ons bekende jakkals, wat telkens die wolf of ander diere nare poetse bak, is Reinaard die vos, ‘n lang diereverhaal in versvorm wat reeds in ongeveer 1260 geskryf is.
Van den Vos Reynaerde is oorspronklik deur ene Willem van Madoc in Diets (die Middeleeuse vorm van Nederlands uit ongeveer 1200-1500) geskryf. Danksy Protea-uitgewers het jy nou nie meer nodig om eers jou Diets te poets voordat jy die meer as 800 jaar oue verhaal kan lees nie.
Reinaard die vos. Die wrede een met die rooi baard, is ‘n vertaling (deur Daniël Hugo) van ‘n hervertelling van die oorspronklike werk in moderne Nederlands deur Henri van Daele en met vermaaklike illustrasies deur Klaas Verplancke.
Dit is nie net ons eie Jakkals-en-Wolf-stories wat hul oorsprong na hierdie lang gedig kan terugvoer nie. Chaucer het ook dele hieruit gebruik in sy bekende Canterbury Tales. Die verhaal van die haan, Kantekleer, wie se gesin byna deur die vos uitgewis word, maak ‘n bekende deel van Chaucer se werk uit. Die Duitse skrywer, Goethe het ook oor die uitgeslape jakkals geskryf in sy fabel Reineke Fuchs, en deur die eeue het daar talle ander verwerkings verskyn.
Die verhaal gaan oor Reinaard wat voor die koning se hof gedaag word. Byna elke dier het ‘n klagte oor hoe hulle deur Reinaard geteister is. Bruin die Beer en daarna Tibert die Kat, word gestuur om Reinaard te gaan haal sodat hy voor die hof kan verskyn om tereggestel te word. Hulle word word egter deur Reinaard om die bos gelei en in die proses erg vermink en verneder. (Dit is opvallend hoe wreed hierdie Middeleeuse stories is – nie soos ons eie Jakkals-en-Wolf-stories waarin geweld byna soos in Disney-verhale eintlik skadeloos is nie. Ook die kleurryke illustrasies is nie sonder meer onskuldige kinderboekprentjies nie.)
Reinaard slaag telkens daarin om ander diere om die bos te lei omdat hy hul swak punte ken en uitbuit. Hy weet van Bruin se liefde vir heuning en Tibert se liefde vir muise en gebruik hul gulsigheid teen hulle. Uiteindelik oortuig hy selfs die koning dat die ander diere eintlik ‘n komplot teen die koning gesmee het en hy buit ook die koning se swak – sy begeerte vir baie rykdom – uit om sodoende opnuut die galg te ontglip en die koning te verneder.
Die oorspronklike verhaal is 3 469 versreëls lank, maar dit is nie sommer net ‘n fabel (‘n diereverhaal waarmee mense ‘n les geleer word, soos die bekende fabels van Esopus nie). Dit word ‘n epos genoem – ‘n heldegedig (dit is hoekom ons na ons daaglikse korrespondensie as "e-pos", met ‘n koppelteken, verwys om dit van ‘n heldeverhaal in versvorm te onderskei).
Deur diere as karakters te laat optree, kan gespot word met mense se gierigheid en ander swakhede sonder dat iemand oor naamskending kan kla. Die verhaal is duidelike kritiek teen die kerk en die heersers van destyds: die priesters en die adel word as skynheilig en onbevoeg uitgebeeld.
Agter op die boek klassifiseer Protea hierdie boek as ‘n "skelmroman". Die skelmroman (pikareske roman) is ‘n vroeë voorloper van die moderne romankuns en dit is duidelik dat hierdie romanvorm deur Reinaard beïnvloed is. Die hoofkarakter ("picaro" in Spaans) van ‘n skelmroman is van ‘n lae sosiale stand en beland in die een penarie na die ander waaruit die vooroordeel en skynheiligheid van die adel en kerklikes blyk. Soos Reinaard kom hy telkens met die een of ander skelmstreek weg. Uit hierdie tradisie van skelmromans het die vroegste "moderne roman", Cervantes se Don Quixote, ook ontstaan.
Dit is ‘n voorreg om hierdie beroemde en invloedryke epos nou in Afrikaans te kan lees, in ‘n boek wat so mooi is dat jy dit nie as e-boek wil besit nie.
Reis van nostalgie
Gerrit Rautenbach se Hartepad is reisstories. Die foto van die skrywer met sy glimlag en glas wyn agter op die omslag, sê al hier is ‘n ou met saam met wie jy lekker kan sit en kuier en wat goeie stories sal kan vertel. Die 24 stories oor reise deur Suid-Afrika, ons buurlande, en na verafgeleë plekke, vertel die verhale van die paaie waarop Rautenbach se hart geloop het – hoe sy hart gevorm is deur al die paaie – al was dit ook soms harde paaie.
Al eindig sy bundel met ‘n tuiskoms, bly die romantiese gees van die swerwer deurgaans teenwoordig. Die verhale is deurtrek van nostalgie, van lekker lag (Gerrit is immers die beroemde Fanus Rautenbach se seun) en van verlange na horisonne.