Willie Burger kyk na nuwe en nuut opgewarmde leespret
Willie Burger
Man uit die vreemde het oorspronklik in 1966 verskyn (en tekens van die Koue Oorlog is helder in die roman), is weer in 1983 uitgegee en kry nou weer ‘n nuwe lewe by Protea Boekhuis.
In die 1960’s en 1970’s was Kas van den Bergh ‘n baie gewilde skrywer van speurverhale en romanses. Hy het ongeveer 50 boeke geskryf en ook talle vervolgverhale en kortverhale vir tydskrifte.
Een van die kenmerke van literatuur wat op formules geskoei is, soos speurverhale, liefdesverhale en avontuuurverhale, is dat die formule oor tyd heen geleidelik verander. ‘n "Formule" is ‘n vaste patroon wat herhaaldelik in talle verhale voorkom. Hierdie herhalende, herkenbare patroon maak dit moontlik om van "genres" soos speurverhale en liefdesverhale te praat.
Omdat so baie boeke dieselfde formule volg, weet die leser wat om van so ‘n boek te verwag. Lesers geniet die gerusstelling wat bekende formules bied, maar wanneer talle boeke telkens presies dieselfde formule volg, met bloot die name van karakters en die agtergrond waarteen die gebeurtenisse afspeel wat verander, kan boeke later só voorspelbaar word dat die lesers dit vervelig vind.
Lesers van formuleliteratuur vind boeke vervelig wanneer spanning ontbreek. Spanning is die tydelike onsekerheid wat die leser ervaar oor wat volgende met die karakters gaan gebeur. Ten einde spanning te bewerkstellig, moet die skrywer van formuleliteratuur die indruk by die leser wek dat daar hierdie keer van die formule afgewyk gaan word – dat die speurder nie die skurk gaan vang nie, dat die twee geliefdes nie hierdie keer by mekaar gaan uitkom nie. Maar uiteindelik moet tog binne die grense van die formule gehou word – anders is dit immers nie meer ‘n liefdesverhaal of speurverhaal nie en word lesers heeltemal vervreem.
Die voortdurende uitdaging van die grense van die formules lei daartoe dat die formules geleidelik verskuiwings ondergaan en dat daar uiteindelik selfs nuwe formules ontstaan. Man uit die vreemde is natuurlik presies binne die bekende formule van die jare sestig. Dit is dus meer voorspelbaar as wat ‘n mens dalk sou verwag, maar die taalgebruik is in baie opsigte ryker as talle van die formuleboeke uit ons eie tyd en daarom steeds leesbaar.
Anchien Troskie se Vermis op Allesverloren het wel pas verskyn, maar iets daaraan is ook, soos Van den Bergh se roman, bietjie te bekend en voorspelbaar.
Die privaat speurder, Barrie Barnard, word deur Melinda ingeroep na die klein dorpie, Allesverloren, om te probeer vasstel wat van tant Erta geword het. Tant Erta, die dorpie se kruiedokter, het spoorloos verdwyn. Ná sy besoek aan die dorp se dominee, merk Barrie op: "Ek verstaan nie hierdie dorp nie … Almal met wie ek tot dusver gepraat het, is dit eens dat Erta van Tonder ‘n heks is. En tog het die gemeenskap saamgetrek om te help soek na haar. Dan is daar dié wat sê ja, sy is ‘n heks, maar ‘n goeie een."
Barrie moet die geheime van die dorp ontrafel. Kleindorpse agterdog, jaloesie wat oor jare heen opgebou het en trots veroorsaak soveel ellende vir individue en dit neem Barrie lank om alles te ontrafel – en in die proses raak ook sy eie lewe vir hom duideliker.
Die roman word in afsonderlike hoofstukke uit verskillende perspektiewe aangebied sodat ‘n mens geleidelik al die geheime van die dorp leer ken.
Troskie is natuurlik veral bekend vir Dis ek, Anna, gegrond op ‘n ware verhaal wat die land oorrompel het, en ook vir die opvolg, Die staat teen Anna Bruwer. Vermis op Allesverloren het nie dieselfde emosionele impak nie, maar is ‘n knap geskryfde verhaal wat in die 1950’s en 1960’s platteland afspeel in ‘n tyd toe ‘n dominee nog baie mag gehad het en ‘n mens (veral ‘n vrou) se reputasie al is waarop sy kon reken. Ten spyte van die ietwat outydse gevoel, is daar tóg ‘n verkenning van die menslike psige wat met die onoorkombare groot vrae van die lewe worstel – hoe ‘n mens sterf, en hoe ‘n mens in die aangesig van die gewisse dood leef.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.