Willie Burger vertel vir ons van ‘n paar boeke wat jy gerus maar kan inpak as jy met vakansie gaan
Vir sommige mense is dit een van die laaste dinge wat hulle doen voor hulle die geyser afsit en die alarm stel. Die Ventertjie is al gehaak, flikkerligte getoets en die kinders kry al hul lê vir die lang pad see toe, dan draf hulle gou weer terug en maak ’n paar boeke bymekaar – net ingeval dit weer so baie soos verlede jaar reën. Jy sien daardie boeke, wat oor die slapende koppe tot op die agterste vensterbank van die kar gegooi is, deur die karre se agterruite by die UltraCity in Bloemfontein. By Colesberg, terwyl die insittendes in die Wimpy is, sien jy dat die buiteblaaie, soos alles in die Karoo, al vaal geword en opgekrul het.
Ander mense sit die hele jaar sorgvuldig boeke opsy vir die vakansie, maar om boeke vir die vakansie te kies is nie so maklik nie. Jy kan nie altyd voorspel waarvoor jy lus gaan wees nie. Soms lyk ’n boek boeiend in die boekwinkel, maar as jy hom in die helder sonlig op jou strandhanddoek oopmaak, smelt jou lus daarvoor vinniger as jou draairoomys.
Hier is ’n paar idees:
* As jy nie lus is vir fiksie nie en jy graag boeiende stories wil hê om vir jou vriende te vertel, neem gerus Hanlie Retief se
Byleveld – Dossier van ’n baasspeurder
Hanlie Retief beskryf Byleveld se betrokkenheid by die een saak na die ander. Elk is ’n boeiende speurverhaal op sy eie. Maar net soos wat sy telkens in haar weeklikse Rapportonderhoude dit regkry om so baie van ’n mens bloot te lê deur van klein voorvalletjies te vertel, ’n opmerking uit te lig of ’n gewoontehandeling te beskryf, slaag sy ook daarin om die leser veel van dié besondere mens te laat verstaan. Sy stel ons voor aan die plasseun wat predikant wou word en toe tot die baasspeurder groei wat telkens hoëprofielsake oplos. Ons hoor van sy moeilike persoonlike lewe en hoe hy laggend vertel van die reeksmoordenaar wat, nadat hy ’n lewenslange vonnis opgelê is, in die hof skree dat hy nog vir Beyleveld sal doodmaak.
* Aanhangers van Chanette Paul sal bly wees om te hoor dat LAPA-Uitgewers haar sewe romans oor “Die Davelvroue” heruitgee. Tamara en Willemien het reeds verskyn. LAPA se boeke word al mooier uitgegee en jy sal lekker hieraan lees met die geur van sonbrandroom in jou neus.
* ’n Nuwe, lekker dik roman oor liefde en wat soos die Davelvroue se romans ’n historiese agtergrond het, is Irma Joubert se Kronkelpad (Tafelberg). Die paaie van ’n vroulike dokter (nog ’n rariteit in die Bosveld van die 1940’s) en ’n Italianer, wat ná die Tweede Wêreldoorlog Suid-Afrika toe kom, kruis op ’n Bosvelddorpie tydens die polio-epidemie. Die verhaal word jare later deur ’n jong geskiedenisstudent uit die bejaarde dokter Lettie Louw getrek. Lesers wat Joubert se Anderkant Pontenilo en Pérsomi geniet het, sal nie teleurgestel word nie.
* As jy lekker wil lees, byna soos om met ’n ou vriend te kuier (’n spesiale vriend wat ’n storie kán vertel) dan moet jy Dana Snyman se Hiervandaan – Op reis in die geliefde land lees. Dana is ’n bekende en geliefde rubriekskrywer en die rubriek of kortverhaal is sy sterk punt. Hoewel Hiervandaan ’n langer teks is, het hy nie wegbeweeg van dit waarmee hy die beste is nie: die klein vertelling van toevallige ontmoetings met interessante mense langs die pad. Hier ryg hy sulke vertellings aaneen en dit neem die leser op reis deur die land – nie met die N1 of N3 langs nie, maar deur die klein plekkies in gesprekke met talle mense. Só word die land met deernis en Dana se kenmerkende eerlikheid verken. Die verhouding tussen hom en sy sterwende pa is roerend. Soms voel dit vir my asof die nostalgie by Dana net te sterk is, maar hier strek sy vertellings telkens verder as nostalgie en word dit ’n eerlike konfrontasie met die hede, wat op ’n manier ook hoop vir die toekoms bied. Vk
saam (uitgegee deur Umuzi). Speurverhale was sedert Sherlock Holmes nog altyd ’n baie gewilde genre. Die geharde speurder, lewensmoeg, rokend, wat onverbiddelik op die spoor van die misdadiger bly en geen persoonlike lewe het nie, maar deurentyd, tydig en ontydig aan grutonele en aan die donkerste kant van die mensdom blootgestel is, gryp nog altyd lesers se verbeelding aan. In Suid-Afrika het ons gedurende die afgelope klompie jare daaraan gewoond geraak dat daar “in die regte lewe” so ’n speurder bestaan – een wat jou aan Columbo se deeglikheid herinner. Die naam Piet Byleveld het telkens in die moordsake opgeduik wat ons koerante so oorheers.