Willie Burger kyk na die werk van Jaco Fouché
In Jaco Fouché se opwindende debuutroman uit 1996, Ryk van die rawe, onderneem die hoofkarakter, Ratkas Goosen, ’n reis na Londen. Die vrae waarop hy hoop om antwoorde te vind, word vir hom verwoord deur die “replicant” in die rolprent Blade Runner: Where do I come from? Where am I going? How long have I got? In al sewe Fouché se romans wat sedertdien verskyn het, word die hoofkarakters net soos Ratkas deur die vraag na die sin van die lewe gekwel. En telkens is hierdie gekwelde hoofkarakters vaal, gewone mense, soos Ed uit Ed van inligtingstelsels of Pieter uit Die avonture van Pieter Francken en hulle voel vervreem van die sinlose wêreld waarin hulle leef. Renier Proot, die hoofkarakter in Fouché se nuutste roman, Verstevlei, is geen uitsondering nie. Sy sinsoekende reis het, soos telkens in die vorige romans, ’n nagmerrieagtige karakter. Sinsvrae is natuurlik gewigtig en, soos in die meeste werke waarin hiermee geworstel word, is daar in Verstevlei ook ’n somberheid. Maar Fouché slaag daarin om met heelwat humor te keer dat dit te swaarmoedig word. Trouens, die boeiende verhaallyn, die ironie en taalgevoeligheid bied leesplesier tot met die slot. Die uiteenlopende ruimtes wat besoek word (van Vereeniging tot Kaapstad, ’n Bolandse plaas, ’n opleidingskamp vir regses of die gestig, Huis Genade, waarvan Proot ’n inwoner is), sowel as die mense wat hy ontmoet (die droommeisie Lena op wie hy verlief raak of haar goedige ouers, ou vriende soos Mo en Lucky of die matrone en mede-inwoners van Huis Genade) neem almal ’n soort droomkwaliteit aan. Reeds die eerste paragrawe van die roman beklemtoon dat droom en werklikheid moeilik onderskei kan word en met die slot word dit opnuut bevestig as Renier waarsku: “Ons geheue is nie so betroubaar soos ons verbeelding nie. En wat ek onthou, wat ek hier weergegee het, is nie die waarheid nie. Dis ’n droom, of miskien ’n bietjie beter as ’n droom, in die sin dat dit nie binne minute ná wakkerword verdwyn nie. Dit kan met ander gedeel word.” In Verstevlei is daar talle verwysings na die werk van Colin Wilson. Wilson is veral bekend vir sy werk The Outsider (1956). Renier Proot is ’n tipiese outsider-karakter in die tradisie van eksistensialistiese romans. Maar Wilson het in sy latere werk al hoe meer in die mistieke belanggestel en hy het ook ’n Faculty X by die mens geïdentifiseer, wat ons die vermoë gee om sin te kan maak van die lewe. (Proot merk op dat hy nie oor die “fakulteit” beskik nie.) Wilson skryf dat die moderne mens die doel van sy bestaan vergeet het en boonop vervreem geraak het van die magte waaroor die mens beskik om aan sy bestaan sin te kan gee. In Beyond the Occult (1971) skryf Wilson: In short, our chief limitation lies in our assumption that our narrow, tightly-harnessed consciousness is normal and natural, whereas it is in fact highly abnormal and highly unnatural. Fouché se roman wys op die beperktheid van ’n getemde, “normale” bewussyn. Proot is, soos sy naam aandui, die poort waardeur uiteenlopende bewussyne vloei en hy bied ook ’n poort vir die leser na ’n ander, meedeelbare bewussynservaring. Ons maak sin van ons wêreld deur representasies daarvan te maak. Hierdie voorstellings, ons “wêreldbeelde”, is nooit volledige en akkurate beskrywings van die werklikheid nie. Geen mens het immers die vermoë om die ganse heelal van buite te oorskou en alles te verstaan nie. Alle wêreldbeelde ontstaan vanuit spesifieke tye en situasies. Mense verlang dikwels na ’n enkele weergawe van ’n samehangende wêreld (wat miskien in ’n vervloë tyd bestaan het) waarin elkeen ’n plek en doel het en daarom voel mense ook dikwels, soos Proot, soos outsiders – wat nie toegang tot daardie samehangende beeld het nie. Ons beleef elkeen daagliks gefragmenteerde weergawes van die wêreld, wat wissel van natuurwetenskaplike modelle wat aandui hoedat ons deur natuurwette bepaal word, tot godsdienstige en sosiale modelle wat aandui hoedat ons deur bonatuurlike magte of deur ons eie strukture bepaal word. Die verskillende verhaallyne en bewussyne in hierdie roman, waarin geen maklike onderskeid getref kan word tussen Proot se psigoses, herinnerings en drome nie, bevestig iets van hierdie moderne, gefragmenteerde wêreldbelewenis. Proot word aangemoedig om by sy mede-inwoners van Huis Genade in te skakel, om sy medisyne te drink, om Bybelstudie te doen, om saam TV te kyk en om aan die gesprekke met ander deel te neem. Só ’n bestaan in genade word met ironie as “normaal” beskryf. Renier ondersoek juis ander (abnormale) bewussyne deur drome, waardeur die beperktheid van hierdie normale lewe blootgelê word. Sy onontwarbare herinnerings en verbeeldingsvlugte bied saam pogings om sin te maak van die bestaan in Suid-Afrika, van manlikheid, Afrikaanswees, van rasverhoudings, van liefde en van vriendskap en familiebande. In die proses word iets van die lewe, ’n kortstondige bestaan tussen die donker voor geboorte en ná die dood, in onvergeetlike prosa vasgepen.