Willie Burger sê dat dit nog selde só lekker was om geskiedenis te lees soos in hierdie roman!
Willie Burger
Twee verhaallyne word vervleg. Aan die een kant is dit die verhaal van Katrien Neethling wat in die bosveld in ‘n konserwatiewe Afrikanerhuis grootword, maar wat geleidelik (ná die 1976-onluste) ‘n politieke bewussyn begin ontwikkel. Tydens haar studentedae op Wits raak sy al meer van die mensonterende apartheidstelsel bewus en raak by verset daarteen betrokke. Die verset laat haar soos ‘n tolbos voel; asof sy heeltemal los raak van alles wat haar bestaan kon anker – haar familie en die mense van haar kultuur- en taalgroep. Maar teen die einde van die tagtigerjare vind sy bevryding van die benoude Afrikaner-nasionalistiese wêreld wanneer sy aan die Vrye Weekblad en die musiek van die Voëlvrytoer blootgestel word.
Die ander verhaallyn begin in Pole waar Wladek Kowalski – soos Katrien – ook gedurende die 1970’s al meer bewus raak van die onderdrukkende en onregverdige kommunistiese stelsel. Hy raak by betogings teen die regering betrokke. Hy beleef byvoorbeeld die stakings in Gdansk wat deur die vakbondleier Lech Walesa gelei word en smokkel boodskappe vir die opstandiges.
Soos Katrien, wat telkens weens haar betrokkenheid by die verset teen die regering met die gereg bots, word Wladek ook vasgetrek en moet uiteindelik uit Pole vlug. Hy beland in Suid-Afrika waar ‘n oom van hom hom gevestig het. (Lesers van Tussen treine sal sy oom, Jakob Kowalski wat met Grietjie Neethling getrou het, onthou).
Uiteindelik ontmoet Katrien en Wladek en ‘n verhouding ontwikkel tussen hierdie twee "tolbosse" wat albei van geborgenhede losgeraak het. Die roman eindig kort voor die wending in albei lande wat aan die einde van die 1980’s op die ineenstorting van die Sowjetunie gevolg het.
Die afloop van die groter historiese gebeurtenisse word telkens vanuit hierdie twee gewone mense se oogpunt beleef. Fyn besonderhede bring die historiese omstandighede vir die leser tot lewe. Hulle sien en maak belangrike oomblikke mee en speel ook elkeen ‘n klein rol daarin wat van elkeen baie moed verg: die moed om van die relatiewe veiligheid van hul gesinslewens, hul liefdes en drome, van die verwagtings wat van hulle gekoester word weg te breek en om hulle by die lot van onderdruktes te skaar.
Dit is lekker om Tolbos te lees – dalk veral vir iemand van my generasie (wat in die 1960’s gebore is) en wat juis die politieke woelings van die 1970’s en 1980’s beleef het. Die roman vang iets vas van die opwinding van die Voëlvry-konserte, die verskyning van Vrye Weekblad en die gevoel dat ‘n onderdrukkende era tot ‘n einde kom. Die roman eindig met hierdie opwinding en hoop, met die vind van vryheid en van ware liefde.
Omdat dit so lekker is om te Tolbos te lees, beveel ek graag aan dat mense hierdie dik boek (537 bladsye) aanpak. Die deeglik nagevorsde geskiedenis, die beskrywings van belangrike historiese gebeurtenisse en van bekende mense wat ‘n rol daarin gespeel het, sal sommige lesers boei, maar behoort nie ‘n leeshindernis te wees vir diegene wat net die storie van Katrien en Wladek wil volg nie. Joubert se romans is immers om ‘n goeie rede gewild en word nou ook in Engels en Duits vertaal terwyl dit reeds in Nederlands beskikbaar is.
Maar iets aan juis hierdie lekkerkry wat ek met die lees ervaar, hinder my. Dit is moeilik om te verduidelik wat dit presies is. Dit het onder meer te doen met die byna nostalgiese oproep van die verlede. Die skrikwekkende historiese gebeurtenisse word byna met ‘n gevoel van "die goeie ou dae" beskryf, die tyd toe Katrien (en ander Afrikaners) so dapper teen hul ouers, hul onderwysers, die polisie en die staat in verset was. Iewers word die volle impak van die historiese gebeurtenisse op hierdie individue ‘n bietjie lig en oppervlakkig beskryf. Soms kry ‘n mens net te veel die gevoel dat die vertel van ‘n storie oor die verlede sentraal staan en dat die karakters bloot die oogpunt van "ons man en meisie op die grond" is. Die emosionele diepte en wroeging wat aanvanklik nogal oortuigend by Katrien voorkom, word later al hoe vlugtiger voor die groter tafereel van die geskiedenis.
Nog iets wat iewers in my agterkop bly maal, is Milan Kundera se woorde dat romans eintlik iets moet ontdek wat slegs in romans ontdek kan word. As ‘n roman bloot ‘n romanmatige geskiedenis, of ‘n romanmatige liefdesverhouding is, dan is dit nog nie ‘n roman wat onontdekte aspekte van menslike bestaan ondersoek nie. En hier voel dit net vir my asof ek té lekker gelees het, té lekker onthou het, en nie regtig iets ontdek het van wat dit is om wit en Afrikaans in hierdie land te wees nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.