Willie Burger kyk waarom boeke oor zombies so gewild is
Willie Burger
In baie zombie-verhale is die zombies stadig-bewegende, lomp en stomsinnige mensvleiseters of mensbreinvreters wat meedoënloos in groot getalle opruk om lewendige mense te vernietig. Soms is die zombies nie so lomp en stadig nie, maar die draers van ‘n "besmetting" wat na ander mense oorgedra word sodat almal uiteindelik zombies word en menslike lewe dus uitgewis word.
Wat aanvanklik soos ‘n klein bedreigingtjie lyk – slegs ‘n paar zombies wat nie ‘n ernstige gevaar inhou nie – ontaard skielik in ‘n onstuitbare probleem. Die dooies (of "ondooies") is ‘n oorweldigende oormag oor die klein groepie lewendiges en die polisie en weermag blyk uiteindelik ondoeltreffend te wees om die aanslag van die zombies te stuit.
Heel dikwels is daar uiteindelik slegs enkele klein goepies lewendiges oor wat vir hul veiligheid en oorlewing agter hoë mure moet skuil.
Die oorsprong van die talryke zombieverhale word dikwels na die gruwelfilm uit 1968 Night of the Living Dead teruggevoer. Hoewel daar in hierdie fliek nie van "zombies" gepraat word nie, is die "ondooies" – mense wat reeds gesterf het, maar wat tog nie heeltemal dood is nie – aan die opruk om die lewendiges te bedreig. (En natuurlik is daar deur die eeue heen veel meer mense wat reeds dood of dan "ondood" is as wat daar tans leef.)
Night of the Living Dead het egter ook voorgangers gehad – veral in die tradisie van vampierverhale. Die woord "zombie" kom uit die voedoe-kultuur van Haiti en verwys na dooies wat deur middel van toorkrag verhinder word om na die doderyk te gaan en wat dan as slawe benut kan word om bevele uit te voer.
Die vreesaanjaende is natuurlik dat ‘n mens nie ‘n zombie kan doodmaak nie – zombies is immers reeds dood en daarom is hulle heeltemal vreesloos. Zombies word slegs deur ‘n primitiewe begeerte om mensvleis te eet, aangedryf, terwyl geen moraliteit of vrees hulle gewelddadigheid inhibeer nie.
Die vraag is natuurlik waarom mense so gek oor zombieverhale is. Soos met alle gruwelverhale, is daar ‘n vreemde teenstrydigheid in mense se verhouding met zombieverhale: Dit lyk asof mense dit geniet om bang te wees.
Die rede waarom mense genot daaruit put om die skrik op die lyf gejaag te word, lê daarin dat vrees so ‘n intense emosie is. Omdat vrees ‘n mens se emosies so ten volle betrek, bied gruwelverhale ‘n goeie manier om jou van jou eie wêreld en jou eie situasie te laat vergeet – jy word heeltemal meegevoer en geboei deur die verhaalwêreld waarin die vrees vir zombies jou volle aandag opeis. Hoe intenser die vrees, hoe makliker ontsnap jy uit jou eie wêreld.
Die probleem is natuurlik dat mense geleidelik al hoe kritieser word en al hoe meer afstand ervaar van hierdie dikwels vergesogte monsters en daarom boei dit kinders meer geredelik as volwassenes, wat nie so doeltreffend deur die monsters ingetrek word nie.
Lesers (en kykers) word ook geleidelik gedesensitiseer – ‘n mens word later nie meer bang vir die bekende monsters nie en die gruwels kan selfs snaaks word (kyk maar na ou gruwelfilms waarin die monsters soms eerder lagwekkend as skrikwekkend is). Daarom is dit noodsaaklik om die monsters telkens te vernuwe om hul afskuwelik en vreesaanjaend te hou.
Benewens die feit dat zombieverhale goeie onstnapping bied, is dit ook algemeen in die sielkunde bekend dat ons veel banger vir onbekende bedreigings as vir konkrete, tasbare bedreigings is. Ons vrees vir die onbekende en onkenbare, dat ‘n oorweldigende bedreiging oor ons hang sonder dat ons presies weet wat dit is, is veel angswekkender as wanneer ‘n vrees aan ‘n konkrete monster gekoppel kan word.
Wat gruwelverhale dus ook doen, is om vrese wat onderliggend in ons gemeenskap voorkom, konkreet en tasbaar te maak. Op hierdie manier word die vrese meer hanteerbaar en verstaanbaar en daarom minder skrikwekkend. Sefs as die monsters uiteindelik nie heeltemal verslaan word nie, het die gemeenskap se dieptste vrese nou ‘n konkrete, kenbare aard en daarom is dit nie meer ‘n diepe angs oor ‘n onkenbare bedreiging nie.
‘n Mens sou kon bespiegel oor redes waarom die zombieverhale juis nou, oor die afgelope dekade of wat, so gewild geword het. Daar kan dalk geredeneer word dat een van die grootste vrese in baie gemeenskappe is dat hul manier van leef, bedreig word deur ‘n onstuitbare golf van armoede wat rondom die klein omheinde plekke voorkom. Dalk is die zombies ‘n manier om die vrees vir verswelging deur armoede op ‘n meer aanvaarbare manier uit te druk.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.