Willie Burger kyk na twee boeke wat oor menswees en herinneringe gaan
Willie Burger
Johann Nell se debuuutroman, Sondag op ’n voëlplaas, vertel die verhaal van ’n man wat op ’n volstruisplaas grootgeword het. Die plaaslewe in die Klein-Karoo het vir hom – en natuurlik vir almal in die omgewing – slegs sekere moontlike maniere van bestaan gebied.
Slegs sekere loopbaanmoontlikhede bestaan in daardie kleindorpse kultuur. Maar, soos enige kultuur, bied die plaas en kleindorpse omgewing ook slegs sekere moontlikhede van manwees, van vrouwees. Hierdie moontlikhede word ook meestal skerp afgegrens – dinge is wit of swart en vir vaer grys gebiede is daar nie plek nie.
As ’n mens dus nie aan die vereistes van manwees voldoen nie – jy moet jou drank kan vat, jou vrou kan kul, prostitute kan besoek, jou plek in die kerkbank vul, ensovoorts – is jy nie ’n ware man nie. Hiermee begin die hoofkarakter se twyfel oor homself, oor wie hy werklik is.
Hy ervaar hierdie vaste idees en afgekampte houdings as benoud, omdat hy reeds van kleins af aan ander moontlike maniere van verstaan blootgestel word – hetsy deur te lees of deur ontmoetings met mense wat nie heeltemal aan sy klein wêreld se verwagtings voldoen nie. Uiteindelik het hy as volwassene, as ’n getroude onderwyser, ’n ervaring wat hom opnuut dwing om sy eie begrip van die wêreld en veral van homself te herbedink – en dit dwing hom terug plaas toe. Hy het nodig om vrede met homself te maak.
Nell se verhaal lees nogal vlot en die roman raak aan ’n belangrike tema: die idee dat ’n mens deur sekere gevestigde konsepte bepaal word, terwyl mense veel
ingewikkelder as die beskrywings is wat deur hierdie konsepte moontlik gemaak word. Die roman leun swaar op ’n aantal clichés, maar bied nietemin stof tot nadenke oor ons gemeenskap se opvattings. Sondag op ’n voëlplaas, Johann Nell, Tafelberg
Herinneringe is tot ’n groot mate bepalend vir wie en wat ons is. Omdat hierdie herinneringe (en vergete) so spesifiek tot elkeen van ons is, maak juis dit dat ons van mekaar verskil. Ons onthou immers almal verskillende dinge en selfs wanneer ons dieselfde gebeurtenisse onthou, onthou elkeen dit anders. Die een groot probleem van onthou, is dat ons met ons verbeelding moet onthou. Ons is afhanklik van presies dieselfde verbeelding wat dinge kan uitdink wat nooit gebeur het nie, om die goed wat voorheen met ons gebeur het, weer in herinnering te roep.
’n Ander groot probleem van onthou, is dat ons agterna, in die lig van latere kennis, ons onthou van die vorige ervarings aanpas. Spoorvat is ’n versameling van 37 skrywers se jeugherinneringe. Die redakteurs het slegs ’n woordperk gestel en die skrywers kon skryf net wat en hoe hulle wou – solank dit oor hul jeug gegaan het. Kleyn en Scheepers verwys in die voorwoord na Herinnering se wei, ’n versameling van Afrikaanse skrywers se jeugherinnerings wat in 1966 verskyn het, as die inspirasie vir hierdie versameling.
Talle bekende skrywers tel onder die 37 bydraers – PG du Plessis, Ingrid Winterbach, Jan van Tonder, Joan Hambidge, Dana Snyman, Marita van der Vyver, Leon van Nierop … Ek was aanvanklik nie baie lus om die boek te lees nie. Meestal wil ek nie te veel van skrywers af weet nie. Toe ek egter eers begin, kon ek nie ophou nie. Want die meeste van hierdie stukke is so goed geskryf dat dit ’n mens intrek en na ’n ander wêreld meesleur – net so goed as wat hierdie skrywers se fiksie dit doen. Mettertyd kan ’n mens ook begin verbande lê tussen die skrywers se manier van onthou, se keuse van herinneringe, se manier van vertel en daarom raak dit uiteindelik ook ’n boeiende werk oor wit Afrikaanse mense se manier van omgaan met hul eie verlede.
Spoorvat – Jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers, Scheepers, Riana & Kleyn, Leti (reds), LAPA
Gedig van die week
Hierdie gedig gaan ook oor herinnering en
kom uit Breyten Breytenbach se bundel,
Papierblom (1998)
die reis
die hart is ’n raaisel herinneringe –
sal jy ooit kan onthou
wat nie verbeel is nie?
die warm lokomotief-asem van honde,
die leë skoene onder die tafel
van ’n boerdery se kombuis
waar die geur van vars geroosterde sesam
spore van oorlewing laat,
en buite die bewe-wind in bome
wat blaar vir blaar gespel word
om ewigheid te lees
ek ontbeel jou die eerste keer
sonder die draad van ’n gedagte naak
soos ’n eerste en oudste landskap,
en hoe jou lyf vou soos ’n sug
wanneer ek by jou ingaan op reis
na die onverteerbare ontdekkingsnood van
een-saamheid
jou oë op die kussing (die kus en die kuste)
glasig van vrees en van genot
is dié van stemlose voëls
in die skemer van sterwe,
al die blaaiende blare in bome buite
om ’n wind van herinnering te spel
ont-hou, laat gaan om saam te stel:
die liefde is ’n reis
en jy altyd dieper die hart van bestemming